ADVERTISEMENT:

 

 
 

Prokureur Christoff Venter glo hy sal met tyd sy voorganger, André Naudé, se skoene as vennoot en direkteur by Coxwell, Steyn, Vise en Naudé kan volstaan. Foto verskaf.

Hy mag jonk wees, maar beslis nie onervare nie

Date: 14 May 2022 By: Pétria de Vaal

Christoff Venter, nuut-aangestelde direkteur en vennoot by Coxwell, Steyn, Vise en Naudé (CSVN) in Louis Trichardt, glo dat hy met tyd die welbekende André Naudé se skoene by hierdie bekende prokureursfirma sal kan volstaan.

Die Zoutpansberger het verlede week berig dat Christoff by André oorgeneem het, met sy pligte wat op 3 Mei ‘n aanvang geneem het. Op ‘n vraag hoe dit gebeur het dat hy by CSVN aangesluit het, vertel Christoff dat hy deur iemand na André Naudé verwys is. André het hom in Februarie vanjaar gekontak en die res is geskiedenis.

Christoff is in Rustenburg gebore en het sy laer- en hoërskoolloopbaan in onderskeidelik Rustenburg en aan Hoërskool Monument in Krugersdorp voltooi. Hy was ‘n kranige rugbyspeler op skool en was in 2012 deel van ‘n Suid-Afrikaanse o.17 Sewes-rugbyspan (SA under 17 Training Group) wat gekies is om afrigting te ontvang vir deelname aan die Australiese Youth Olympics in Sydney. “Weens ‘n besering tydens ‘n Sewes-toernooi wat ek vooraf vir Hoërskool Monument (Monnas) gespeel het, kon ek toe ongelukkig nie saam na Sydney toer nie,” sê hy.  Op skool het Christoff ook die Leeus op provinsiale vlak verteenwoordig.

Vir diegene wat gedink het dat Christoff nog jonk en onervare is, wag daar ‘n verrassing. In sy kort loopbaan, het hy al meer as 600 hofverskynings gemaak. “Hofwerk is my gunsteling,” sê Christoff. “Ek sien die feit dat ek op so ‘n jong ouderdom direkteur is as ‘n voorreg en as 'n geleentheid om nog vir baie jare die mense van Louis Trichardt en omringende areas behulpsaam te wees,” sê Christoff beskeie. “Ek sien ook uit daarna om elke dag meer van my seniors en hulle kennis en ervaring te leer.”

Vir Christoff was studies in die Regte ‘n gegewe, iets wat hy nog altyd wou doen. “Dit is vir my ‘n groot eer as mense my met hulle sake en regsprobleme toevertrou. Dit is ‘n voorreg om te kan help,” sê hy. Hy het sy LLB graad in 2018 aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom) behaal. “In hierdie tyd moes ek egter my liefde vir rugby ietwat opsy skuif, aangesien ek gefokus was op my studies. My leerklerkskap het ek by Thomas Grobler Prokureurs in Polokwane gedoen, waar ek toe ook aangebly het as prokureur. Ek het met alle tipes hofwerk te doene gehad, selfs inheemse reg – iets wat ek baie interessant vind,” vertel Christoff. Hy is van voorneme om ook so gou doenlik sy notariële eksamen af te lê.

In sy vrye tyd geniet Christoff die buitelewe saam met sy vriendin (ook ‘n prokureur – tans van Polokwane). Hy het ook ‘n passie vir jag – daarvoor is hy  beslis nou in die regte omgewing!

 

 
 
 

Viewed: 1436

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT