ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die personeel en bestuur van die Zoutpansberg Privaathospitaal het op 12 Mei tydens ‘n geselligheid vir Suster Majha de Lange verwelkom as die hospitaal se nuwe verpleegdiensbestuurder (matrone) vanaf 1 Mei vanjaar. Van links na regs staan Suster Ester Mudau (eenheidsbestuurder), Lindie Janse van Vuuren (verpleegsekretaresse), Suster Majha de Lange, dr. Anton Stroebel (kliniese direkteur) en suster Rhoda Tshivenga (eenheidsbestuurder). Foto verskaf.

Privaathospitaal se nuwe matrone spog met wye kennis

Date: 21 May 2022 By: Pétria de Vaal

Die Zoutpansberg Privaathospitaal (ZPH) is trots en dankbaar met die aanstelling van Suster Majha de Lange as verpleegdiensbestuurder (matrone) vanaf 1 Mei vanjaar. Sy is op gepaste wyse verlede week ingehuldig en het tydens hierdie geleentheid haar naambalkie as verpleegdiensbestuurder ontvang.

Suster Majha kan tereg ‘n baie interessante en dinamiese persoon genoem word. Sy is reeds sedert 15 Julie 2015 by ZPH werksaam, nadat sy vanaf die Strand na Louis Trichardt verhuis het. Haar man was toe reeds vir ‘n geruime tyd in die omgewing werksaam.  Ná ‘n telefoniese onderhoud het sy die kliniese mentor- en opleidingspos aanvaar. “In daardie stadium was hier nie ‘n interne opleidingsprogram nie. Tot einde 2019 het ek aan die program gewerk en die huidige personeel gementor, klinies geëvalueer, opleidingsprojekte ontwikkel -  alles volgens die behoeftes van die hospitaal en om pasiëntsorg te verbeter,” noem Suster Majha.

In Januarie 2020 het Matrone Ina Muller afgetree en Suster Dalene Steyn is in haar plek aangestel. “Ek het nóú saam met haar begin werk. Toe Covid-19 die wêreld tref, moes ons nuwe protokol en prosedures in die hospitaal instel,” sê sy.

Suster Majha brei ietwat uit en noem dat, in die tyd toe sy saam met Suster Steyn by ZPH gewerk het, hulle die verpleegdiensbestuurder en mentor se rolle baie aangepas het en saam aan alle pligte, projekte en verantwoordelikhede begin werk het. Suster Steyn het in Maartmaand vanjaar bedank om saam met haar man na Gauteng te verhuis, waar hy werksaam is.

Suster Majha beskik oor ‘n indrukwekkende CV. Sy het in 1986 gematrikuleer en dadelik met haar studies by die Otto du Plessis Kollege by Tygerberg Hospitaal begin. Gedurende Junie 1990 het sy haar diploma in verpleging verwerf. Haar loopbaan het ‘n verskeidenheid van poste ingesluit. Sy het ook bykans nooit ophou studeer nie.

Haar voetspore lê onder meer in die Overberg-omgewing, waar sy werksaam was by die Afdelingsraad se mobiele kliniek. ‘n Groot deel van haar loopbaan is oorheers deur as mentor op te tree vir nagraadse studente - eers by Athlone Nursing College en later vir studente  by ‘n baie besige dagkliniek in Grabouw.

Gedurende 2010 het sy ‘n diploma in primêre gesondheidsorg aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. “Van 2012 tot 2014 het ek by Strand kliniek gewerk as primêre gesondheidsorgpraktisyn en was tweede in bevel van die kliniek,” sê Suster Majha.

“Die rede hoekom ek die pos van Verpleegdiensbestuurder by ZPH aanvaar het, is omdat ek saam met wonderlike, passievolle mediese kollegas werk en ons saam uitsien na al die veranderinge en verbeteringe wat die hospitaal – met ‘n nuwe baadjie aan - vir die gemeenskap inhou,” sluit sy af.

Volgens Anneke Stroebel, hospitaalbestuurder by ZPH, is Suster Majha die definisie van ‘n toegewyde, hoogs ervare verpleegkundige. “Sy reik uit na die plaaslike gemeenskap met haar opleidingsessies. Menige inwoner, besigheid en skool het haar leer ken deur die Covid-opleiding, inentings en ‘handewas veldtogte’. Voorts is sy ook betrokke by die Agora Dames se ‘Palesa pads outreach’ by skole, asook lesings oor menopouse. Talle jong mammas ken ook vir Majha as die lewensgordel wat raad gee oor nuwe babas en borsvoeding,” vertel sy. “Majha is sowaar ‘n aanwins vir ons gemeenskap en ‘n gerespekteerde mentor en spanlid by ZPH. Sy is nie net ‘n ongelooflike bate vir Louis Trichardt nie, maar ook vir die groter Makhado en Vhembe [gebied] - ons pasiënte kom van wyd en ver,” sê Anneke.

 

 
 
 

Viewed: 1285

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT