ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 81-jarige oom George Fogwell en sy 76-jarige vrou tannie Ann, wat Sondagoggend in hulle slaapkamer deur drie mans oorval is. Oom George is tydens die gewapende huisroof deur die bors geskiet, maar wonderbaarlik het die koeël geen organe getref nie. Dinsdag was hy gereed om weer te gaan werk.

Skoot klap ná vuishou

Date: 10 June 2022 By: Andries van Zyl

Drie huisrowers het Sondagoggend dalk bietjie meer afgebyt as wat hulle kon kou toe hulle by die 81-jarige oom George Fogwell en sy 76-jarige vrou, tannie Ann, se huis op Louis Trichardt ingebreek het. Oom George is tydens die aanval deur die bors geskiet, maar was Dinsdag weer op die been en reg om te gaan werk.

Die egpaar se nagmerrie het Sondag, 5 Junie, omstreeks 04:00 in hulle slaapkamer afgespeel. Drie mans het toegang tot oom George-hulle se erf gekry deur eers hul palissadeheining oop te buig en deur te klim om die elektriese heining bo-oor te vermy. Hulle het toe ‘n klein venstertjie oopgekry wat onlangs vervang moes word en nog nie diefwering voor gehad het nie. Die kleinste van die drie het ingeklim, waarna hy kombuis toe gestap het en die kombuisdeur vir sy makkers oopgesluit het.

“Ek het wakker geword van ‘n lig wat in my oë skyn. Toe was hulle klaar in die kamer,” het tannie Ann Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Die drie mans het balaklawas en handskoene aangehad. Die een het aan tannie Ann se kant van die bed gestaan, die ander by die voetenent en die ander een langs oom George, wat toe nog geslaap het.

“Toe skreeu ek vir my man: ‘Daar is mense in die kamer!’” Met dié het oom George wakkergeskrik. Hy hoor moeilik, want hy dra ‘n gehoorstuk.

Die man langs tannie Ann het vir haar gesê: “We want your money!”. Hy het ‘n stuk tou klaar gereed gehad om haar hande vas te bind. “Toe die tou oor my vingers gaan, toe ruk ek my hand weg en gaan sit daarop,” het tannie Ann gesê.

In daardie stadium het oom George besluit niemand vat aan sy vrou nie en het opgespring. “‘n Stem het in Afrikaans gesê: ‘Gee ons jou geld of ek skiet jou!’ Net so...” het tannie Ann gesê. Met dié het die man ‘n pistool teen oom George se bors vasgedruk, reg waar sy hart is.

“Toe ek die ou sien, het ek besluit ek gaan hom nie los nie. Toe eet ek hom met die vuis! Hy het dit beslis gevoel, want hy het so agtertoe gesteier,” het oom George gesê.

Met dié dat die man terugsteier, het hy ‘n skoot afgetrek. Gelukkig vir oom George het hy so effens afgebuk om te koes vir die wapen. “Hy het my van ongeveer ‘n voet weg geskiet. Ek het net gevoel iets maak so ‘doef’ teen my bors. Dit was nie seer nie, niks,” het oom George gesê.

“Hy het so gebloei! Hulle [die drie mans] het weggehardloop net ná die skoot. Ek het net die oranje vlammetjie van die skoot gesien, maar niks gehoor nie, want die wapen was te naby aan sy bors,” het tannie Ann gesê.

Tannie Ann het gehardloop, ‘n handdoek gegryp en voor in oom George se T-hemp ingedruk om die bloeding te stop. “Ek het eers nie besef die koeël is reg deur hom nie,” het tannie Ann gesê.

Oom George het op sy beurt heel kalm gebly, op sy bed gaan sit, en hulp per telefoon ontbied. “Binne vyf minute was die buurtwag en my seun hier. Hy [die seun] het ook die koeël wat deur oom George getrek het, op die mat in die kamer opgetel, asook ‘n .22-doppie,” het tannie Ann gesê. Eers toe het haar seun vir haar gewys die koeël het regdeur oom George se bors gegaan.

“Ons het so geskrik! Hy was so bleek gewees, want hy het so baie bloed verloor,” het tannie Ann gesê. Kort ná die skietery is oom George hospitaal toe gejaag. Wonderbaarlik het die koeël, wat by die linkerbors in is, langs die ruggraat af getrek het en bokant die nier uit is, geen organe getref nie. Die goeie prognose is Maandag deur medici in Polokwane beaam. Geen organe is getref nie.

Oor die nare voorval sê oom George-hulle hulle is “oraait”. “Hulle het gedink dit is maklik want dit is twee ou mense ... Hy [oom George] is baie sterk en ek het geweet hy gaan baklei,” het tannie Ann gesê. “Ja, hy het gedink ek gaan skik [oor die geld], maar ek het toe bietjie ‘sendingwerk’ gedoen,” lag oom George. Volgens hom was dit drie jong manne gewees. Op die ou end is hulle daar weg sonder om iets te steel.

Die hele affêre het maar twee of drie minute geduur. “Maar wat ‘n ondervinding!” het tannie Ann gesê.

“Ons is baie dankbaar vir die Vader se genade. Die Here het ons regtig bygestaan,” het die egpaar gesê. Hulle het hulle dank uitgespreek teenoor almal wat hulle sedert die aanval op welke wyse ook al bygestaan het. “Daar is net te veel mense om te noem, en ons is bang ons los iemand uit,” het die egpaar gesê.

Hierdie was nie die eerste keer dat die egpaar ‘n gewelddadige aanval oorleef nie. Die twee is op Oukersdag in 2015 in die munisipale begraafplaas op Louis Trichardt deur twee mans oorrompel toe hulle familielede se grafte gaan besoek het. Beide oom George en tannie Ann het messteke opgedoen, maar oom George kon hul aanvallers verwilder ná ‘n paar goeie vuishoue.

Gerugte het Dinsdag die rondte begin doen dat die polisie drie verdagtes in verband met die rooftog in aanhouding het, maar teen druktyd het die plaaslike polisie nog nie gereageer op navrae in dié verband nie.

 

 
 
 

Viewed: 2948

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT