ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die jong Koben Hofmeyr se “Shrek 2” Nissan 1400 bakkie wat die naweek by ‘n woonstelkompleks in Louis Trichardt gesteel is - een van drie voertuie wat die aand uit die kompleks gesteel is. Foto verskaf.

Motordiewe slaan drie keer in een aand toe by woonstelkompleks

Date: 15 July 2022 By: Andries van Zyl

Die afgelope naweek was ‘n slegte een vir drie voertuigeienaars van ‘n woonstelkompleks in Louis Trichardt, nadat booswigte drie voertuie op een aand vanuit die kompleks gesteel het.

Een van die voertuie wat by Groningen-woonstelle op die hoek van Krogh- en Bredastraat gesteel is, is die bakkie van die welbekende Koben Hofmeyr (19). Hy is tans ‘n eerstejaar student by Tukkies, waar hy rekenaaringenieurswese studeer nadat hy verlede jaar aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer het.

Koben is baie hartseer dat sy bakkie weg is. Sy pa en ma het oor ‘n periode van vyf jaar, sonder dat hy dit geweet het, vir hom die ou wit Nissan 1400 bakkie opgebou om as geskenk te gee vir sy 18de verjaarsdag. Dit het wel gebeur, maar ‘n frats rugby-ongeluk sou Koben in ‘n rolstoel laat, en die afgelope paar jaar het inwoners saam gejuig oor Koben se vasbeslotenheid en vordering om weer te loop. Sy pa-hulle het die bakkie Shrek 2 gedoop, na aanleiding van sy rolstoel, wat Shrek 1 heet.

Koben kon egter nie regtig met die bakkie ry nie, aangesien sy beserings hom noop om ‘n outomatiese voertuig te bestuur, nie ‘n handrat nie. Tog het die bakkie vir hom baie sentimentele waarde, veral oor die jare se werk wat sy ouers daarin gesit het. Hulle het intussen na Bela-Bela verhuis, en die idee was om die bakkie op te vat vir pa Trompie om mee rond te ry. Die bakkie het egter by die woonstelkompleks gestaan aangesien iemand daar aanvanklik belanggestel het om moontlik die bakkie te koop.

“Daardie bakkie is baie naby aan my hart. My ouers het dit opgebou en geheim gehou vir my deur my hele hoërskoolloopbaan. Hy is opgebou om ‘n stoute bakkie te wees. Nou is Shrek 2 weg,” het Koben gesê.

Nog ‘n inwoner wat sy voertuig kwyt is, ‘n wit Ford Laser, is die 26-jarige D’Jan van Rhyn.

“Dit is nogal ‘n storie, baie hartseer!” het D’Jan gesê. Volgens hom het hy Vrydag, 8 Julie, nog sy motor parkeer binne die kompleks. “Saterdagmiddag wou ek net vinnig dorp toe gaan om iets te gaan kry. Toe ek by my woonstel uitloop, toe is my kar weg. Ek parkeer gewoonlik my kar voor my sitkamervenster, waar ek hom kan sien,” het D’Jan gesê.

Toe hy agterkom sy voertuig is nie daar nie, het hy die eienaar van die kompleks laat kom en haar gevra om uit te vind of iemand dalk iets gehoor of gesien het. “Sy was so 10 minute weg, toe kom sy terug en sê: ‘Jy sal nie glo nie! Daardie tannie se kar [tannie Alma Roodman] en daardie outjie se kar [Koben Hofmeyr] is ook weg!’” het D’Jan gesê.

Volgens D’Jan vermoed hulle die karre is almal uitgestoot alvorens die diewe hulle aangeskakel het. “Hulle het die hek van sy spoor afgehaal om die motors uit te kry,” het D’Jan gesê.

Die karretjie was D’Jan se enigste vorm van vervoer. Die verlies daarvan hou ernstige gevolge vir hom in as eiendomsagent wat daagliks kliënte moet gaan sien om huise te gaan wys. Hy het geen verskering nie. “Een dame wat saam met my werk het darem gesê ek kan vir tyd en wyl haar klein voertuigie leen, totdat ek plan kan maak vir iets anders,” het D’Jan gesê.

Nog ‘n inwoner wat haar enigste vorm van vervoer verloor het, is die 75-jarige tannie Alma Roodman. “Dit gaan al ‘n bietjie beter,” het sy Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Die diewe was beslis gedetermineerd om tannie Alma se karretjie, ‘n blou Nissan Sentra, te steel. “Hy was binne-in die motorplek toegesluit gewees. Hulle het hom daar uitgehaal. Hy was gesluit met ‘n ‘slot’ om die pedaal en die stuurwiel, en die stuurwiel self was ook gesluit. Daar was ook twee kettings met twee slotte om die hek waar die hekke bymekaar kom. Een van die slotte het hulle gelos en die ander een het hulle ook gesteel,” het tannie Alma gesê.

Tannie Almal sê dit moes gebeur het tydens beurtkrag. Sy is woedend oor die voorval en het gesê sy hoop hulle trek vinnig die skuldiges vas. Gelukkig het sy darem versekering op haar karretjie. Volgens tannie Alma is dit ook nie die eerste keer wat voertuie daar wegraak nie. “Dit is seker nou al die derde of vierde keer. Hulle het al party uitgestoot tot by die hek, dan het die mense wakker geword in die nag en op hulle geskreeu. Dan het hulle weggehardloop,” het tannie Alma gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het by navraag die diefstalle gedurende die aand van 8 Julie en die oggend van 9 Julie bevestig. “Daar is nog geen arrestasies gemaak nie en ons ondersoek duur voort. Enige iemand met inligting oor die diefstalle word versoek om die Makhado SAPD te skakel by tel. 015 519 4300,” het Radzilane Woensdag gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1702

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT