ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 38-jarige Jaco “Sakkie” Cilliers, wat verlede Donderdagoggend koelbloedig voor die MAC Messina Rugbyklub doodgeskiet is. Sy familie en vriende sal hom onthou as iemand wat altyd gelag het en sy lewe ten volle uitgeleef het. Foto verskaf.

Sakkie het voluit gelewe

Date: 22 July 2022 By: Andries van Zyl

Die sinnelose moord op ‘n jong man van Musina, die 38-jarige Jaco Cilliers, laat steeds inwoners van die Soutpansberg verslae. Hy is Donderdag, 14 Julie, vroegoggend koelbloedig buite die MAC Messina Rugbyklub doodgeskiet.

Meeste inwoners van die grensdorp het Cilliers as Sakkie geken, sy Groentjienaam wat sedert Standerd 6 by hom gebly het. “As jy gepraat het van Jaco het niemand geweet wie dit is nie,” het suster Inge Heymans Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Die dood van haar broer was vir haar nog baie onwerklik. Ure voor sy dood het sy nog met hom per selfoon gepraat, en in April vanjaar het hy haar die kerk ingebring op sy eie “sakkie-sakkie” weergawe van die troumars op haar huweliksdag.

Provinsiale polisiewoordvoerder Brigadier Motlafela Mojapelo het by navraag die moord bevestig. Die voorval het ongeveer 01:20 plaasgevind. Volgens Mojapelo was ‘n gewapende sekuriteitsbeampte besig om in die area te patrolleer toe hy ‘n enkele geweerskoot gehoor het. Hy het dadelik in die rigting van die geweerskoot beweeg en na bewering gesien hoe ‘n man gebukkend oor Sakkie se liggaam staan en sy sakke deursoek. Die sekuriteitsbeampte het onmiddellik sy vuurwapen uitgetrek en verskeie skote op die verdagte man geskiet. Die verdagte het ‘n skoot teruggeskiet, waarna hy en (volgens die sekuriteitsbeampte) twee ander verdagtes vanaf die toneel weggehardloop het.

Volgens Inge vermoed hulle Sakkie is doodgeskiet tydens ‘n mislukte motorkaping. “Op die ou end is hy vir sy sleutels vermoor - nie vir sy bakkie nie, sy sleutels” het Inge gesê. Buiten vir sy bakkiesleutels wat weg was, is nie sy horlosie, beursie, selfoon of enige iets waardevols gesteel nie. Roof, het Inge gesê, was dus duidelik nie die motief nie.

Inge het vertel dat Sakkie Woensdag by die rugbylapa gaan kuier het. Toe die kroeg toemaak, het hy na sy bakkie gestap, waarop hy oorrompel is. Vir Sakkie was dit ‘n geval gewees van op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Hy is dood vanweë ‘n enkele skoot in die kop. “Hulle het hom geskiet op sy linkerkant op sy slaap. Een skoot en hy het geval,” het Inge gesê.

Vroeër die aand was daar blykbaar ook ‘n skietery in die omgewing van die rugbyklub. Gerugte van dié skietery is wyd op sosiale media versprei. Die vermoede bestaan dat dit dalk die werk was van dieselfde drie verdagtes.  “Hulle het blykbaar ‘n Toyota bakkie probeer kaap. Daar is ‘n paar skote gevuur en die persoon is blykbaar gewond, soos ons verstaan, maar hy kon wegkom deur weg te jaag,” het Inge gesê. Sy het egter bygevoeg dat sy nie weet of iemand die skietery gerapporteer het nie.

Sakkie se dood kan die werk van ‘n sindikaat wees. “Volgens wat ons nou hoor in die dorp en van die polisie se kant af, vermoed hulle dit is ‘n sindikaat,” het Inge gesê. Sy het bygevoeg dat die sindikaat hulle blykbaar toespits op Toyota en Ford bakkies. “En soos jy weet, dit is ‘n kwessie van 10 minute en hulle is oor die grens,” het Inge gesê. Al wat hulle kan hoop is dat die verdagtes vinnig vasgetrek word.

Sakkie se familie het in 1989 na Musina getrek. Hy het sy skoolloopbaan voltooi by onderskeidelik Laerskool Messina en Hoërskool Eric Louw, waar hy in 2003 gematrikuleer het. Ná skool het Sakkie maar, soos baie jong mans, gesukkel om werk te kry. Hy het toe besluit om vir twee jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aan te sluit. Daarna is Sakkie vir sowat vier jaar Afganistan toe, waar hy privaat sekuriteitswerk gedoen het. Terug in Suid-Afrika het hy sy vakleerlingskap as dieselwerktuigkundige deur die Basil Read konstruksiemaatskappy gedoen. Ten tye van sy dood was hy werksaam vir Murray & Roberts by Venetia Myn.

Alhoewel sy lewe so onnodig kortgeknip is, het Sakkie ‘n avontuurvolle lewe gehad. “Toe hy in Afganistan was, het hy die wêreld vol getoer. Hy het plekke gesien wat ons net van kan droom. Hy was outgoing en avontuurlustig. Hy het gelag en gedans. Dit was nie ‘n partytjie as Sakkie nie daar was nie. Hy was daardie een,” het Inge gesê

Vir Inge en die familie vind hulle darem ‘n bietjie troos daarin dat Sakkie sy lewe voluit gelewe het. “Sy een vriend sê nou die dag vir my ‘n mens gaan dood soos jy gelewe het. Sakkie het vinnig gelewe en is vinnig dood,” het Inge gesê.

Sakkie was ‘n groot man, maar met ‘n sagte hart. “My boetie het nooit enige iemand leed aangedoen nie. Hy het nie ‘n vlieg in sy lewe seergemaak nie. Jy kon nie ‘n beter mens as hy gekry het nie. Hy het die grootste hart gehad. Om vir jou ‘n voorbeeld te gee. So ‘n jaar gelede, om ‘n meisie se aandag te kry wat betrokke is by liefdadigheid, het hy haar een aand uitgevat vir ete by die Spur. Maar hy het voor haar by die Spur aangekom en 100 hamburgers en tjips bestel, sonder dat sy daarvan weet. Toe hulle klaar geëet het en wou ry, het hulle die 100 hamburgers gelaai en saam vir minder bevoorregte mense gaan uitdeel,” het Inge gesê.

‘n Roudiens vir wyle Sakkie is Woensdag vanuit die Hervormde Kerk in Musina gehou. Hy word oorleef deur sy ma Ina Krijt, pa Gert Cilliers, broers Fanie Cilliers, David Cilliers en Handré Joubert en suster Inge.

“Asseblief, sê dankie aan die gemeenskap vir hulle ondersteuning, want my boetie het 10 miljoen mense geken. Spesifiek wil ons as familie vir Freek Clifford, Dirk Genis, Michiel Nel, Johan van Rooyen, Denise Hanekom en Pieter Krijt ook bedank vir alles wat hulle gedoen het,” het Inge gesê.

Teen druktyd was daar nog geen aanduiding of enige arrestasies in verband met Sakkie se dood gemaak is nie. “Maar ons hoop en glo ons sal antwoorde kry,” het Inge gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2504

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT