ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ds. Ronnie van Niekerk van die Veritas Gemeenskapskerk in Louis Trichardt. Foto verskaf.

Plaaslike leraar deel in nasionale inisiatief teen 'liberale teologie'

Date: 29 July 2022 By: Andries van Zyl

Ds. Ronnie van Niekerk van die Veritas Gemeenskapskerk, ‘n onafhanklike gereformeerde kerk in Louis Trichardt, was op 21 en 22 Julie een van die afgevaardigdes om die Kairos-Netwerk-Familiebyeenkoms vir Gereformeerde Gemeentes in Pretoria by te woon.

Die byeenkoms is onder die naam “Familie van Gereformeerde Gemeentes” (FGG) gehou. Alhoewel die organiseerders vanuit die NG Kerk afkomstig is, is die bydraes en ondersteuning van ander gereformeerde kerkverbande, te wete die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes, die Vrye Gereformeerde Kerk en ‘n “Reformed Alliance” van die VSA ontvang. “In wese behels dit dat behoudendes vanuit verskeie gereformeerde kerke en denominasies hande vat om ‘n inisiatief te loods teen die liberaal/progressiewe teologie, vryelik na verwys as dwaallering, wat die kerk binnegedring het deur middel van besluite van die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk die afgelope dekade,” het Van Niekerk gesê.

Van Niekerk het gesê dat die Kairos-Netwerk-FGG inisiatief dit duidelik gestel het dat hulle sommige besluite van die NG Kerk se Algemene Sinodesittings van 2015 en 2019 bevraagteken, en uitwys as nie Skrif-gefundeerd nie. Die doel van die naweek se inisiatief was juis om hieroor te praat, het Van Niekerk gesê, nie om die kerk te skeur nie, maar om te poog om deur ‘n proses van verandering van binne die bediening van die NG Kerk terug te laat keer na Bybelse waarhede. “Die inslag hier sal wees om terug te keer na wat God sê deur sy Woord, en nie wat mense sê oor God se Woord nie. Neem kennis dat daar hoofsaaklik verwys word na besluite wat op Algemene Sinodale (AS) vlak aanvaar en op gemeentes afgedwing word, en nie noodwendig na die normale bediening van plaaslike leraars nie. Daar is sterk simpatie met die saak van plaaslike leraars wat vasgevang word in ‘n teologiese stryd as die AS besluite afdwing wat ooglopend in stryd is met die leer van die Bybel,” het Van Niekerk gesê.

Prominente teologiese en akademiese leiers, huidige en voormalige dosente van teologiese kweekskole, voormalige lede van die NGK se Algemene Sinodale Kommissie, kerkregkenners en verteenwoordigers van ander gereformeerde groepe het van die besprekings tydens die inisiatief gelei. Van die kernpunte waarna gekyk is, was dat die kerk in krisis is, nie God nie, en dat plaaslike gemeentes die hoop vir die behoud van die kerk is. “Die magte van die Algemene Sinode en die invloed wat dit uitoefen op die beleid van die kerk en die leer van gemeentes word bevraagteken. Plaaslike gemeentes het hulle onafhanklikheid en outonomiteit verloor,” het Van Niekerk gesê. Dit is ook duidelik gestel dat dit nie die behoudendes is wat die kerk skeur nie, maar die liberaal-progressiewe leraars en ampsbekleërs binne die kerk wat besluite neem en ‘n leer verkondig wat nie skrif-gefundeerd is nie. Van die leerdwalings binne die kerk waarna verwys is, het ingesluit kern geloofsbeginsels wat ontken word, insluitend die maagdelikheid van Maria; Jesus se wonderwerke; Jesus se opstanding en Hemelvaart; die beloftes van Jesus se wederkoms en toekomstige ewige koninkryk; en mense glo in die waarheid van wat mense sê oor God se Woord, in plaas van te glo in die waarheid van God se Woord.

Tydens die FGG inisiatief is ook gesê dat die kerk onder andere fouteer deur antwoorde op teologiese en geloofsake buite die Bybel te soek en daardie tekste wat nie empiries beoordeel kan word nie, te reduseer tot “mites” en “legendes”. Dat behoudendes geëtiketteer en beskuldig word van byvoorbeeld rassisme, homofobie of kerkskeuring is uitgewys en daarmee word die moontlikheid vir gesonde gesprekvoering geblokkeer. “Niemand neem iemand ernstig op as daar ‘n negatiewe etiket om sy/haar nek gehang is nie,” het Van Niekerk gesê. Ontstellend was dat die Bybel nie meer as die hoogste gesag in die kerk beskou word nie, maar die opinie van die meerderheid.

Om hierdie situasie te verander, is tydens die FGG inisiatief onder meer gesê dat dwaalleraars hulle moet bekeer en kerkbesluite wat nie Skrif gefundeerd is nie, herroep moet word. Verder is gevra dat ampte wat leiers in buitengewone magsposisies plaas, herdefinieer moet word en die verantwoordelikheid teruggeplaas moet word in die hande van plaaslike kerkrade. Laastens is onder meer genoem dat die kerk die evangelie moet verkondig en nie ‘n agentskap moet wees vir sosiaal-maatskaplike verandering nie.

 

 
 
 

Viewed: 1159

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT