ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vleistraat in Louis Trichardt is nou al vir maande feitlik heeltemal gesluit vanweë ‘n straatrehabilitasiekontrak wat net nie rigting kan kry nie. Intussen sê sakelui in die straat hulle ly geweldige finansiële verlies omdat kliënte nie by hulle kan uitkom nie. Konflik tussen sakelui en die kontrakteur(s) wat aangestel is om die projek te voltooi neem ook toe.

Sakelui en kontrakteur(s) stamp koppe oor 'toe' straat

Date: 12 August 2022 By: Andries van Zyl

Sakelui in Vleistraat, Louis Trichardt, stem saam dat die slakkepas waarteen die straat tans “gerehabiliteer” word, onaanvaarbaar is en direk daartoe bydra dat hulle besighede ernstige finansiële skade ly.

Sover die koerant kon vasstel, is die kontrak vir die rehabilitasie van Vleistraat met plaveistene onder tender nommer 78 van 2021 deur die Makhado Munisipaliteit toegeken. Dié projek is nou al vir etlike maande aan die gang, nadat aanvanklik begin is met die rehabilitasie van Vleistraat tussen Grobler- en Burgerstraat. Aan die begin van Junie is die laaste gedeelte van Vleistraat tussen Burger- en Kortstraat opgeruk, met slegs ‘n smal stukkie sypaadjie wat tussen bome deur kronkel wat vir besigheidseienaars, hulle personeel en hulle kliënte toegelaat word.

“Jy kan nie met ‘n vragmotor tussen daardie bome op so ‘n nou sypaadjie ry nie. So, geen vragmotor kan daar deurkom nie. En al wat hulle vir ons sê is: ‘Dít is julle pad!’” het Riaan Engelbrecht van Prestige Scrap Metal gesê. Hy het verwys na ‘n vriend van hom, Adam Barnard van G4 Propshaft Centre, wat duisende rande verloor omdat vragmotors nie by hom kan uitkom nie.

“Toe staak hulle, want die geld is blykbaar op. Ons het toe probeer om dele van die pad gelyk te maak by ons opritte om by ons besighede in en uit te kom. Dit was Vrydag. Vyftien minute later kom hulle hier aangejaag met ‘n TLB en gaan grawe ‘n sloot oor die pad en stoot die ingange op die sypaadjies toe, sodat geen voertuig kan inkom nie,” het Engelbrecht gesê.

“Al wat ons wil doen is om die straat oop te maak. Hier gaan moes nou niks aan nie. Maak hom oop dat die besighede kan aangaan. Nou is hulle moedswillig. Hulle sê mos vir ons ‘We’ve got the power’,” het Barnard gesê. Hy het verwys na die mense wat die pad weer Vrydag gaan toestoot het nadat hulle [besighede] dit probeer oopmaak het. “Hoekom kom praat hulle nie net met ons nie, en ons sit idees bymekaar?” wou Barnard weet.

Volgens Barnard het sakelui in die straat van die begin af die kontrakteurs versoek om eers een deel van die straat klaar te maak, voordat hulle na die volgende deel beweeg. Hiervan het absoluut niks gekom nie. “Die hele ding is, ons kliënte kom nie in nie of hulle ry verby,” het Barnard gesê.

“In ‘n stadium was daar geel versperrings wat die ingange toegehou het, met ‘n ou wat dit vir jou moet oop- en toemaak as jy wil inkom of uitgaan. Maar kort-kort is hy weg en dan kan niemand in of uit nie,” het Engelbrecht gesê.

Volgens Engelbrecht en Barnard sit al die besighede in die straat met dieselfde probleem. “Een besigheidseienaar het vir my gesê hy gaan toemaak, want hy kry nie kliënte nie,” het Engelbrecht gesê. “So, met ander woorde, nou moet jy maar sit en kyk hoe jy ondergaan– hoe jy jou gat sien,” voeg Barnard by.

“Hulle is net moedswillig!” is Lukas Visser van ProFit se mening. Wat dit betref het Visser gesê hy kan nie verstaan hoekom sekere strate in die dorp, soos Hlanganistraat oorkant die parkie in Baobabstraat, asook Krugerstraat vanaf Rissikstraat na die treinstasie, binne ‘n week of twee totaal uitgehaal en oor geteer kan word nie, en ander strate neem maande. “Kameelstraat, waar ek bly, het hulle amper ses maande gevat om klaar te maak,” het Engelbrecht bygevoeg.

Vrae oor die slakkepas waarteen die herbou van Vleistraat geskied is Maandag aan die Makhado Munisipaliteit gestuur. Hulle is onder meer gevra om gerugte te bevestig dat bouwerk gestaak is vanweë ‘n tekort aan geld, wie die kontrakteur is wat aangestel is om die kontrak te voltooi, wat die kontrakwaarde is en wanneer die kontrak voltooi moet [moes] wees. Geen reaksie, nie eers ‘n erkenning van ontvangs, is vanaf die munisipaliteit ontvang nie. Intussen hoop sakelui dat Vleistraat nie ook ‘n Main Street gaan word soos in die Eltivillas-woongebied nie. Main Street, die hoofingangsroete na die woongebied, is in September verlede jaar opgeruk. Bykans ‘n jaar later spook kontrakteurs steeds om die projek klaar te kry en is die straat steeds vir verkeer gesluit.

Meer onlangs is begin met die herbou van die aansluiting van die N1 na Main Street, wat ‘n nagmerrie-ondervinding geword het by dié besige kruising. Geldelike tekort is ook aangevoer as die rede waarom die projek so stadig vorder. Antwoorde vanaf beide die munisipaliteit en die kontrakteur wat aangestel is vir die herbou van Main Street was egter min. Die media is ook in Maart vanjaar toegang tot ‘n openbare vergadering geweier wat gereël is deur die Makhado Munisipaliteit en die kontrakteur met die gemeenskap van Eltivillas om die probleme met die kontrak te bespreek.

Talle vrae oor nog ‘n omstrede kontrak, die rehabilitasie van Kameel- en Alwynstraat, bly tot op hede ook steeds onbeantwoord deur die Makhado Munisipaliteit. Die munisipaliteit is duidelik glad nie gretig is om enige vrae te beantwoord wat betref die toeken van tenders vir straatrehabilitasieprojekte nie.

 

 
 
 

Viewed: 1035

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT