ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Hannes du Toit van Musina staan op die plek in sy woonhuis waar hy deur die veiligheidshek waarskuwingskote afgevuur het tydens die jongste inval in sy huis.

Musina-egpaar die teiken van tweede aanval

Date: 25 January 2008 By: Frans van der Merwe

Skaars vier maande nadat hulle wonderbaarlik ‘n barbaarse moordaanslag in hul woonhuis oorleef het, moes ‘n egpaar op Musina verlede Saterdag die trauma van nóg ‘n inval in dieselfde woonhuis verduur.

Die woonhuis van egpaar Hannes en Ina Du Toit is verlede Saterdag omstreeks 03:00 deur minstens vier mans aangeval, wat, deur ‘n klein opening in ‘n ruit te breek, die vensterknip oopgeskuif en die diefwering voor die venter behendig met ‘n selfververvaardigde breekyster weggebuig het. Die hele huis is deeglik met diefwering, buiteligte, staalversperrings, veiligheidshekke en ‘n alarmstelsel beveilig sedert die vorige aanval.

Mev. Du Toit, wat ‘n ligte slaper is, het onraad bemerk. Sy het die mans eers deur die slaapkamervenster bemerk, waar hulle besig was om om die huis te beweeg.

"Twee van hulle het doodluiters op die swaaibank in die tuin gaan sit en mangos eet," sê Mev. Du Toit. Sy het haar man wakker gemaak. Hulle het deur ‘n veiligheidshek voor die slaapkamer bemerk hoe een van die mans deur die voorkamervenster in die huis inklim. Die inbreker in die huis het skielik vasgesteek toe hy hoor die alarmstesel is geaktiveer. Mnr. Du Toit het van agter ‘n veiligheidshek die alarm geaktiveer en verskeie skrikmaakskote afgevuur. Die booswig het verskrik deur die venster teruggeskarrel en saam met sy makkers die donker strate in verdwyn.

"Ons het te midde van die hele voorval, terwyl die inbraak nog aan die gang was, herhaaldelik die polisie se noodnommer gebel. Net soos ná die vorige aanval, was daar geen antwoord nie. Hulle het later verduidelik dat die telefoonkabel tydens die bouwerk aan die nuwe polisiestasie beskadig is," sê mnr. Du Toit.

Die egpaar het toe weer vriende en kennisse, hul dokter en pastoor gebel, wat onverwyld, ongeag die late uur, die Du Toits te hulp gesnel het. Van hulle moes die polisie fisies by die polisiestasie gaan verwittig van die voorval.

"Abie Herbst was eerste hier," sê Mev. Du Toit. "Dr. Mig Swanepoel en pastoor Boetie Visser en Babsie Visser het ook kom help."

Hulle almal het die egpaar ook met die bloedige aanval in September verlede jaar te hulp gesnel en sedertdien ondersteun.

Die egpaar dra altwee nog die duidelike letsels van daardie barbaarse moordaanslag, toe twee gewapende mans die voordeur van hul huis sowat ‘n uur ná middernag oopgeforseer en hulle vir ‘n geruime tyd roekeloos en gewetenloos wreedaardig te lyf gegaan het.

Beide Hannes en Ina was in daardie stadium nog besig om te herstel ná ernstige operasies – sy van ‘n heupvervangingsoperasie en hy ná ‘n ernstige ongeluk met hoogspanningskragkabels. Die egpaar wou nie bespiegel nie oor die moontlikheid dat dieselfde twee booswigte van die vorige aanval deel was van die groep van minstens vier wat by die jongste voorval betrokke was. Niemand is teen druktyd al aangekeer nie.

Mnr. Du Toit sê die twee polisiemanne wat die jongste voorval kom ondersoek het, was uiters bedagsaam en professioneel. Hy is egter uitgesproke in sy verwerping van die onbeholpe en ontoereikende hantering van noodoproepe en die instandhouding van noodsaaklike infrastruktuur - ook deur die plaaslike munisipaliteit.

"Ons het ‘n voortgesette stryd met die munisipaliteit oor die defekte straatligte in hierdie buurt. Daar is eenvoudig geen roetine instandhouding nie. Die veiligheid van inwoners word ernstig in die gevaar gestel deur hierdie traak-my-nieagtige houding," sê mnr. Du Toit.

Die egpaar se kinders, Murvin en Bettie Wiggill, het vandeesweek hul waardering uitgespreek teenoor die gemeenskappe van Louis Trichardt en Musina vir die bedagsame meelewing met die gesin sedert die eerste aanval.

"Ons is veral dankbaar vir die ruim skenking van die voorste veiligheidstralies by ons ouers se woonhuis en ook die skenking van die alarmstelsel en weereens vir die waardevolle bystand van mnr. Abie Herbst, dr. Swanepoel, pastoor en mevrou Visser en ook pastoor Van Rensburg van Louis Trichardt."

 
 
 

Viewed: 1173

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT