Dr. André Uys Maandag buite die Landdroshof op Louis Trichardt, nadat die Staat hulle saak teen hom teruggetrek het. Hy is daarvan beskuldig dat hy renosters in 2009 onthoring het sonder die nodige permitte of toestemming.

Polisie arresteer te vinnig, sê veearts

Date: 01 July 2011 By: Isabel Venter

Viewed: 1017

Die saak teen ‘n veearts wat daarvan beskuldig is dat hy renosters sonder die nodige permitte onthoring het, is Maandag deur die Staat teruggetrek nadat dit intussen aan die lig gekom het dat hy wel oor die nodige permitte beskik het.

‘n Merkbaar-verligte dr. André Charles Uys (38), ‘n wildveearts van Thabazimbi, het Maandag vlugtig in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn, waar sy saak teruggetrek is. Hy sal nou ‘n getuie word vir die Staat in hulle saak teen mnr. Jacques Els (37). Els word daarvan beskuldig dat hy verlede jaar ongeveer 30 renostherhorings van wyle mnr. Tom Fourie (51), die destydse bestuurder van die Maremani Natuurreservaat, aangekoop het. Els het homself aan die polisie oorgegee met Fourie se tweede hofverskyning en is op R30 000 borg vrygelaat.

Uys is in Januarie vanjaar deur die polisie se spesiale eenheid teen georganiseerde misdaadeenheid, die Valke, by die hof gearresteer. Volgens Uys en sy regsverteenwoordiger, adv. Albrecht Pieterse, is Uys deur die ondersoekbeampte in die saak versoek om by die hof op Musina aan te meld of hy word summier gearresteer.

“Niemand het my voor die tyd kom vra wat my kant van die saak is nie,” het Uys Maandag buite die hof aan die Zoutpansberger gesê.

Die polisie het destyds bevestig dat Uys gearresteer is, nadat hy in Oktober 2009 die 15 renosters van die Maremani Natuurreservaat se horings afgehaal het sonder die nodige permitte. Volgens Uys is hy deur Fourie gehuur om die renosters se horings te verwyder. Dit is glo gedoen om die renosters op die plaas te beskerm teen stropers.

“Ek het die renosters gepyl en weer na die tyd gedokter toe die horings klaar afgehaal is. Wat hulle met die horings gemaak het, weet ek nie,” het Uys gesê.

Uys het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop die polisie te werk gegaan het om sy saak te ondersoek, gesien in die lig daarvan dat hy wel in besit was van ‘n wettige permit om die renosters te pyl. Die permit, sê Uys, is in September 2009 aan hom uitgereik. Verder, vertel Uys, moes hy vanweë die publisiteit wat sy arrestasie geniet het, sy praktyk op Thabazimbi prysgee.

Die Staat sal vroeg in September vanjaar hul saak teen Els hervat. Els staan tereg op klagte van die onwettige besit en verkoop van renosterhorings sonder die nodige toestemming of permitte.

Intussen is die saak teen twee sakemanne van Louis Trichardt, mnre. Yahya Shoek Jiwa (44) en Mohammed Irfan Gulam Rasool Malek (41), wat glo renosterhorings probeer koop het van ‘n polisie-agent, weer uitgestel. Albei het op 13 Junie weer in die Streekhof op Louis Trichardt verskyn.

Jiwa is ook deur die Valke gearresteer, nadat hy glo geld aan ‘n polisie-agent oorbetaal het in ruil vir renosterhorings. Malek is in hegtenis geneem vir verdere ondervraging toe hy op die toneel opgedaag het om Jiwa by te staan. Jiwa en Malek is onderskeidelik op R80 000 en R5 000 borg vrygelaat.

Albei sal weer op 4 Julie in die hof verskyn, wanneer hulle na verwagtinge gevra sal word om te pleit.

 
 

 
 
 
 
 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: isabel@zoutnet.co.za

 
 

More photos...