ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Johan Kok. Foto verskaf.

Hy was een van die streek se grootste kremetartbome

Date: 08 August 2019 By: 

Die volgende huldeblyk oor wyle mnr. Johan Kok, oud-stadsklerk van Musina wat op 26 Julie oorlede is, is ingestuur deur ‘n jarelange vriend en kollega, mnr. Jack Klaff:

Ek het die voorreg gehad om Johan vir baie jare te ken. Hy was vir 23 jaar betrokke by die Stadsraad van Messina, eers as tesourier en later as stadsklerk. Ek kan sonder twyfel sê dat sonder Johan Kok, het Messina vandag heeltemal anders gelyk en ek wonder of Messina eintlik sou bestaan het? Johan het alles volspoed aangepak. Hy het baie monumente gelos en hy het oral diep spore getrap.

Ek wil graag teruggaan want baie mense is nie bewus van die werk wat eintlik plaasgevind het om hierdie dorp aan die gang te hou nie. Ons gaan terug tot die sluiting van die kopermyn jare gelede waar daar 10 000 mense in diens was. Dit was ‘n uiters moeilike tyd. Daar was ‘n droogte in die omgewing en mense het Messina verlaat teen ‘n tempo.

Johan was altyd positief en het nooit gehuiwer om vorentoe te gaan nie en as ek praat, praat ek van die munisipale gebou. Hy het dit beplan en basies deurgedruk onder baie moeilike omstandighede. Dit staan as ‘n monument vir hom vandag.

Toe die kopermyn toegemaak het, wou hul die hospitaal afbreek. Die prys was R500 000 en daar was nie geld nie. Kok het R500 000 uit een of ander rekening uitgekrap. Hy het kontrakte opgestel en ons het die hospitaal gekoop.

Dit het voor die Raad verskyn en toe ons die vraag vra waar ons die geld gaan kry en hoe ons dit gaan terugbetaal, was dit tipiese Kok-houding van ‘Moenie worry’ nie. Die ouditeure het dit opgetel met baie vrae en die geld is deur die provinsie terugbetaal in die spesifieke rekening en die hospitaal staan tot vandag toe nog.

Daar was amper internasionale insidente, want hy het beplan om walle in die Limpoporivier te bou en een op Beitbrug. Toe die ‘bulldozers’ van die weermag begin oop skraap, staan die Zimbabwiese weermag aan die ander kant en wil weet wat aangaan! Bietjie hier en bietjie daar en die keerwal is gebou. In dieselfde ‘maindrif’ is daar ook ‘n keerwal in die rivier gebou wat Johan self gereël het. Sonder daardie walle kan ek vir u sê sou daar ‘n groot krisis in Messina gewees het. 

Messina het toe desentralisasie voordele en as gevolg hiervan kon ons fabrieke oprig met sekere voordele vir betaling ens.

Messina Canning is gebou maar het ongelukkig nie lang gehou nie. Hul het insolvent geraak en daarna het Langeberg-fabriek verrys waar Johan ‘n groot rol gespeel het. Daar was 600 mense in diens en as gevolg van politiekery het die fabriek toegemaak en kleiner gegaan.

M-pak, wat aan Flip Nel behoort het, kon as gevolg van die desentralisasie voordele in Messina oopmaak en vandag voer hul van hul produkte uit. Die KSOK-gebou was opgerig.

Toe kom die groot storie en Anglo American se mense daag hier op met ‘suits’ en ‘ties’. Ons het gepraat oor die oopmaak van Venetia Myn. Een van die voorwaardes wat hul gestel het was dat daar ‘n  grysgebied moet wees. Dit was ongehoord vir die politiek maar vir Johan was dit geen probleem nie. Hy het die hele Raad in die kar gelaai en ons het met die provinsie onderhandel. Die eerste grysgebied in Suid-Afrika, was in Messina  geproklameer.  Ek dink dit het De Beers baie moed gegee en so het die storie aangegaan. Die teerpad is gebou na Venetia Myn en tot vandag is Venetia Myn se mense nog hier.

Johan beskou die amalgamasie van die twee stadsrade, Messina en  Nancefield in een oorgangsraad as ‘n besonderse prestasie oor die wyse waarop dit plaasgevind het en die feit dat dit plaasgevind het sonder om ‘n ekstra skuldlas op die inwoners se skouers te plaas.

Ons het saam gedien op die Distriks Ontwikkeling Komitee en daar was baie ontwikkeling gedoen. Ons praat van kraglyne wat oor die hele gebied loop, teerpaaie en vele ander meer items wat vandag staan. Johan het ‘n groot rol hierin gespeel.

Hy was lief vir boer en visvang.  Johan was ‘n uitstekende rugbyspeler en gelukkig was daar nie rooikaarte daai tyd nie. Hy het tot ‘n hoë ouderdom rugby gespeel en Verre-Noord verteenwoordig. Johan was ook ‘n kranige gholfspeler en het bygedra tot die gholfklub se toonbeeld.

Die Messina-skou was seker die beste in Suid-Afrika! Hy het dit gereël vir jare en jare en dit was altyd groot pret en baie groot ‘sports’ om saam met hom op die komitees te dien. Johan het op beide skole se bestuursliggaam gedien en was ‘n sterk kerkman wat baie vir die NG-kerk gedoen het.

Ek kan lank aangaan maar om af te sluit hoor ek gereeld dat hier het ‘n “Groot Kremetartboom” geval het. Ek kan net sê, en met alle respek aan die ander kremetartbome, dat hierdie seker een van die grootste kremetartbome is wat nog in Messina geval het.

Rus in vrede ou maat!

 
 
 

Viewed: 1485

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT