ADVERTISEMENT:

 

 
 

DBV waarsku teen vermeende hondedief

Date: 15 August 2019 By: 

Die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) het inwoners gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ‘n man wat blykbaar honde uit erwe steel.

“Ons is Saterdag in kennis gestel dat iemand se hond uit hulle erf gesteel is. Daar is ongelukkig nie bewyse daarvan dat die persoon by wie hulle weer die hond teruggekry het nie, die skurk was wat die hond gesteel het. Anders het die gesin verseker ‘n saak van diefstal gaan oopmaak by die polisie,” het die plaaslike DBV se Lesley Gaigher gesê.

Volgens Gaigher het die hond beslis nie self uit sy erf uitgekom nie. “Daar is voldoende palissades (selfs met ekstra plastiek maaswerk) voor die huis, asook ‘n muur rondom. Die familie twyfel nie daaraan dat die hek oopgestoot is en die hond met opset uit die erf gevat is nie,” het Gaigher gesê.

Gelukkig het ‘n buurvrou die man met die hond sien loop en die familie in kennis gestel. “Lang storie hoe die hond weer terug geëis is, maar ons wil in dié stadium net ons gemeenskap waarsku dat sulke gebeure nie net in die stad plaasvind nie, maar selfs hier in ons fraaie dorpie,” het Gaigher gesê.

Gaigher het inwoners adviseer om hulle honde met mikroskyfies te laat inplant. Dit, het sy gesê, is die beste manier om eienaarskap te bewys in so ‘n saak. “Verder word dit aanbeveel dat mense hulle honde veilig probeer hou agter ‘n geslote of elektriese hek en saans maar eerder binne laat slaap. Jy weet, dieselfde wenke wat mens so gereed lees, maar hartseer dat dit deesdae ook hier van toepassing is!” het Gaigher gesê.

 

 
 
 

Viewed: 579

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT