ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Soutpansberg se 28-jarige Wynand Louw is vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n finalis in die TLU SA se gewilde jaarlikse Jongboer van die Jaar-kompetisie. Foto verskaf.

Wynand vir tweede keer Jongboer finalis

Date: 16 August 2019 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n Top 8 finalis in die TLU SA se gewilde jaarlikse Jongboer van die Jaar kompetisie wat in samewerking met Ou Mutual Insure Agri, Manitou en Mahindra aangebied word.

Die 28-jarige Wynand Louw, wat op die plaas Nooitgedacht buite Louis Trichardt met Boran beeste en macadamianeute boer, het die afgelope week nuus ontvang dat hy vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n finalis in die kompetisie is. Hy het verlede jaar as naaswenner uit die stryd getree. “Ek gaan kyk of ek hierdie jaar nommer een kan wees,” het Wynand Maandag aan die Zoutpansberger gesê.

Dié jaarlikse kompetisie is oop vir jongboere onder 35 jaar van regoor die land. “Ons is aangenaam verras oor die kwaliteit van jongboere wat vanjaar vir die kompetisie ingeskryf het,” het mnr. Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van TLU SA, in ‘n verklaring gesê. Hy is ook een van die beoordelaars. “Die doelgerigtheid, toekomsvisie en algemene bestuursvernuf van die boere is vir ons ‘n riem onder die hart, veral in hierdie onsekere tye wat landbou vandag knel,” het Van Zyl gesê.

Die ander sewe finaliste in die kompetisie is die 34-jarige AJ Wohlfarht van Wohlfarht Pluimvee in Gauteng naby Magaliesburg; die 29-jarige Azelle Uys van Platkoppie in Heidelberg by Suikerbos wat met beeste en skape boer; die 29- en 28-jarige George en Stephan Cloete van die plaas Holbank in Ermelo wat met skape, mielies en sojabone boer; die 33-jarige Henna du Plessis van Rockferry op Maasstroom wat met groente en wild boer; die 33-jarige Lukas Eksteen van Buffelsfontein in Mookgophong wat met Bonsmaras boer; die 30-jarige Neels Uys (saaiboer) van Platkoppie in Heidelberg by Suikerbos; en die 33-jarige Stefan Landman van Dagwacht in Groenvlei (Wakkerstroom/Utrecht-omgewing) wat met skape, beeste, sojabone en mielies boer.

Die beoordelaars het einde Junie by die finaliste besoek afgelê om insae in die boere se lewens en boerderye te kry as deel van die beoordelingsproses. Video’s is van elkeen van die finaliste geneem tydens die besoeke en dit verskyn op die TLU SA se webblad by https://www.tlu.co.za/jongboere/ en hul Facebook-blaaie (https://www.facebook.com/TLUSAsedert1897/ en TLU SA Jongboere by https://www.facebook.com/TLUSAJongboere/).

‘n Splinternuwe deel van die kompetisie is die gemeenskap se stemme. Enigiemand kan vir hulle drie gunsteling-boere stem. Dié stemme dra ‘n bepaalde gewig in die beoordelingsproses. Die publiek kan direk op TLU SA se webblad stem of deur die deelnemers se naam te SMS na 34855.

“Ons is opgewonde oor die stap om die publiek by die stemproses te betrek,” het Van Zyl gesê. “Dit is belangrik om ons jongboere die nodige erkenning en aanmoediging te gee om landbou se toekoms te versterk. Ons wens die finaliste alles van die beste toe,” het Van Zyl bygevoeg.

 

 
 
 

Viewed: 930

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT