ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle past. Ernie Whitcomb (84). Foto verskaf.

Levubu se geliefde pastoor Ernie oorlede

Date: 20 September 2019 By: 

Levubu se bekende en geliefde pastoor Ernie Whitcomb is op 4 September in die ouderdom van 84 jaar in die Harthospitaal in Pretoria vanweë ‘n aneurisme oorlede.

Ernest Ritchard Whitcomb is op 25 Julie 1935 in Pretoria gebore. Hy sou later ook sy vrou, Annette, hier ontmoet en die egpaar is in 1959 getroud. Vier kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Gregory, Sarita, Craig en Bernie.

Ernie het van jongs af naby aan die Here gelewe. As kind het hy in Eloffsdal as lid van die Metodiste Kerk groot geword. Sy eerste bekering was met sy geloofsbelydenis, maar hy het volgens sy eie getuienis hierna afgedwaal. 

Hy het in die motorhandel ingegaan en in 1973 na Potgietersrus verhuis. Hier het hy die geestelike hulp van Julian Dale, die Metodiste predikant, geword. In hierdie tyd is sy oudste seun, Gregory, wat in Capricorn Hoërskool was, in ‘n skietongeluk oorlede. Hierdie traumatiese insident het hom en Annette se lewens ingrypend verander. Die aand van sy seun se dood het hy weer sy lewe aan die Here oorgegee.

Ernie het die geestelike oortuiging gehad dat die Here wou hê hy moet na Louis Trichardt kom. Julian Dale is deur die Metodiste Kerk na Louis Trichardt verplaas en Ernie het kort daarna by A & F agente (die ou Intercity Delta) in Louis Trichardt begin werk. Julian en Ernie sou in 1981 uit die Metodiste Kerk bedank en het dieselfde jaar die Emmanuel-gemeente in die dorp gestig. In hierdie tyd het Ernie sy vier-jaar kursus as predikant by die Assemblies of God se opleidingskool in Alberton begin. Hy was van 1981 tot 1984 by hierdie kerk.

In Augustus 1984 het Ernie met geestelike byeenkomste in die huis van Wium Moelich in Levubu begin. Op 3 Februarie 1985 het hy die Levubu Hatfield Kerk saam met drie gesinne gestig. Hulle was deel van verskeie plattelandse gemeentes wat by die Hatfield Kerk in Pretoria as geestelike netwerk ingeskakel het.

Later is die naam Levubu Hatfield Kerk verander na die Levubu Christelike Gemeente, waar pastoor Ernie tot en met sy aftrede in 2005 bedien het. Sy aftrede was vanweë sy vrou Annette se gesondheid. Die egpaar het toe na Groblersdal verhuis om nader aan hul dogter, Sarita, en mediese sorg te wees.

Annette is in 2007 oorlede, en Ernie het tot in 2011 in Groblersdal aangebly. Hy het daarna teruggekeer na Louis Trichardt waar hy ‘n inwoner van Ons Tuiste Ouetehuis geword het. Sowat twee jaar later het hy na Polokwane verhuis, en na sowat twee jaar daar het hy weer teruggekeer na Louis Trichardt vir twee jaar. Weer is hy toe Polokwane toe vir sowat twee jaar, en is dood kort nadat hy weer na Louis Trichardt teruggekeer het.

“Hy het ‘n groot passie gehad vir die Here en sy koninkryk. Hy was lief vir aanbidding en musiek en dit was ook sy spesialiteit gewees,” het sy seun Craig gesê. Craig self was saam met sy pa vir sewe jaar in die bediening en het as pastoor by sy pa oorgeneem by die Levubu Christelike Gemeente.

Wyle past. Ernie se begrafnisdiens het Vrydag, 13 September, vanuit die Levubu Christelike Gemeente plaasgevind. Hy is in die Levubu-begraafplaas begrawe. Die diens is waargeneem deur sy seun Craig. Hy word oorleef deur sy dogter Sarita (en skoonseun Walla), seun Craig (en skoondogter Wilna), seun Bernie, sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders.

“Ons wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor die personeel van Ons Tuiste, dr. Pieter de Wet, ons gemeentelede en die gemeenskap in die breë vir almal se vriendskap, ondersteuning en bystand tydens en ná sy afsterwe,” het Craig gesê. (Met dank aan ds. Petrus Kriel van Levubu uit wie se elektroniese boek “Die NG Gemeente Levubu 1972 – 1986. Die geskiedenis van ‘n gemeente se wegkeer van Jesus as afgod en se toekeer weer tot Jesus Christus as Here en God” baie van bogenoemde inligting versamel is).

 

 
 
 

Viewed: 510

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT