ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leerders kan nou reeds inskryf vir Afrikaanse olimpiade

Date: 21 February 2020 By: 

Stel jy belang in geskiedenis of neem jy dit as vak op skool? Dan bied die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die ideale geleentheid om jou kennis te toets en uit te brei.

Die FAK het hierdie week ‘n Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade – ‘n aanlyn toets vir leerders van Graad 8 tot 12 - bekendgemaak. “Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis, met drie hoofafdelings, naamlik Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikaner geskiedenis en Westerse geskiedenis,” het die FAK in ‘n mediaverklaring gesê.

Leerders kan nou reeds vir hierdie geskiedenisolimpiade by olimpiade.fak.org.za inskryf. Die toets word in Augustus geskryf. “Dit gee die leerders kans om sekere bronne soos afrikanergeskiedenis.co.za deur te werk en hulle kennis te toets. Die bronne sal later bekendgemaak word,” het die FAK gesê.

Die geskiedenisolimpiade sal uit twee rondtes bestaan. Die eerste rondte behels ‘n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeuse vrae – 50 punte vir elke afdeling.

Afdeling 1, Afrikaanse taalgeskiedenis, sal vrae hê oor digters (bv. wie het “Winternag” geskryf? Wie is die digter wat in die see geloop het?), die oorsprong van Afrikaans, die prestasies van Afrikaans (bv. eerste gedig, eerste gedrukte boek, eerste Afrikaanse Bybelvertaling), Afrikaanse liedjies en Afrikaanse boeke.

Afdeling 2, Afrikaner geskiedenis, sal vrae insluit oor die VOC-tydperk, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, Republiekwording, asook 1994 en daarna.

Afdeling 3, Westerse geskiedenis, sal die kennis toets oor ontdekkingsreisigers, ontdekkers, die Reformasie, oorloë en rewolusies en leiers.

Diegene wat deurdring na die tweede rondte skryf ‘n aanlyn vraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na die tweede rondte moet ‘n kandidaat minstens 80% in die eerste rondte behaal het.

Alle deelnemers ontvang ‘n deelnemersertifikaat, terwyl almal wat deurdring na die tweede ronde ook ‘n medalje sowel as ‘n erkenningsertifikaat ontvang.

Die algehele wenner ontvang R10 000, met ‘n tweede prys van R5 000 en derde prys van R2 500. Die wenskool ontvang R10 000 en ‘n FAK-wisseltrofee vir geskiedenis. Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die hoeveelheid leerders per skool wat deelneem en ‘n sekere persentasie behaal.

Alle navrae kan gerig word aan [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 456

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT