ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nie alle plaaslike leraars gaan eerskomende Sondag weer hulle gereelde eredienste hervat nie.

Nie alle gemeentes hervat Sondag eredienste nie

Date: 05 June 2020 By: Pétria de Vaal

Na aanleiding van President Cyril Ramaphosa se aankondiging op 26 Mei dat godsdienstige samekomste wel mag plaasvind tydens Vlak 3, heers gemengde gevoelens onder kerkgangers oor die heropening van kerke.

In die dorp en omgewing het sekere gemeentes besluit om vir eers toe te bly en ander sal wel begin met eredienste.

Ds. Jan Pretorius van NG Louis Trichardt meld dat die Kommissie vir Gemeentebediening (Dagbestuur) besluit het dat hulle eers net voortgaan met virtuele eredienste en oordenkings. “Ons gaan dus nie dadelik met fisiese eredienste in ons kerkgebou op Sondae begin nie, maar sal voortdurend hieroor besin om in die geestelike behoeftes van ons lidmate te voorsien, asook om die mees weerloses in ons gemeente en gemeenskap te beskerm. Hierdie reëling geld voorlopig tot 28 Junie, waarna daar weer ‘n besluit geneem sal word. Ons sal mettertyd versigtig met kleiner groepe kan begin en sal stelselmatig inligting hieroor deurgee,” het ds. Pretorius gesê. Daaglikse oordenkings sal steeds op WhatsApp en Facebook geplaas word, asook Sondae se eredienste op YouTube. Begrafnisdienste word ook opgeneem en op YouTube geplaas, aangesien ‘n beperking van 50 persone om so ‘n diens te kan bywoon tans van krag is.

“Al hierdie besluite is tydelik in ons soeke na die beste manier om ons bediening aan ons lidmate te laat voortgaan, terwyl ons ook die gesondheid van almal in gedagte hou. Ons vra dus voortdurende voorbidding en hou kommunikasiekanale dop vir verdere inligting in dié verband,” het ds. Pretorius gesê.

Daarteenoor gaan die NG Kerk Soutpansberg-gemeente wel sy deure op 7 Junie heropen. Volgens Ds. Etienne van Staden sal die hoeveelheid mense wat dit wil bywoon vooraf moet bel of SMS. Die kerkgebou is reeds ontsmet en hand-saniteerder sal by die deur gebruik word. ‘n Lidmaatregister moet ingevul word wat elkeen se temperatuur sal aandui. Die toegelate afstand tussen lidmate in die kerk sal streng toegepas word.  Geen kategese sal onderrig word nie en geen samesyn (bv. tee) ná die diens sal plaasvind nie. Mense bo 60 en met onderliggende siektetoestande moet liewer oorweeg om tuis te bly.

Volgens Ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu sal die gewone diens om 8:30 hervat. Lidmate laat weet per WhatsApp wie dit bywoon. “Indien daar meer as 50 mense is, reël ons ‘n tweede diens om 10:00. Al die reëls vir so ‘n byeenkoms word nagekom. Die preek word ná die diens per WhatsApp uitgestuur soos gewoonlik - ongeag of iemand die diens bygewoon het of nie.”

Ds. Wynand van der Westhuizen van die Afrikaanse Protestantse Kerk sê dat die kerkraad nog in die proses is om alles in plek te kry. Hulle sal definitief Sondag met eredienste begin en bywoning word per wyksindeling gedoen. Hulle beveel aan dat siek en ouer gemeentelede liewer nie dienste bywoon nie.

“Die Hervormde Kerk Zoutpansberg, lid van die Geloofsbond van Hervormde gemeentes, het besluit om te wag met die hou van eredienste in die kerkgebou tot Vlak 2 van inperking. Ter wille van ons baie bejaarde lidmate en lidmate met onderliggende siektetoestande, gaan ons eers voort met die aanstuur van preke op WhatsApp. Ons dra mekaar op aan ons Hemelse Vader en bid dat ons weer spoedig as gemeenskap van gelowiges sal kan aanbid,” aldus ds. Ronel Eckard.

Pastoor Sampie van Niekerk van die Agapé Gemeente sê dat hulle nog onseker is hoe hulle dit gaan doen. Hulle maak nou eers 'n opname van wie bereid is om dienste by te woon. Dit sal bepaal hoeveel dienste plaasvind en wanneer. Uitsendings sal voortgaan vir diegene wat nie bywoon nie. Geen baba-, peuter- of kinderbediening sal plaasvind nie. Aanpassings sal gemaak word soos wat sake duideliker word. Bejaardes en mense met sekondêre gesondheidsprobleme, asook dié met enige simptome, word sterk aangedraai om eerder tuis in te skakel vir die dienste. Higiëne-vereistes sal streng toegepas word!

Ds Johan Marais van die Baptiste Kerk sê: “Ons gaan nie met dienste begin nie, aangesien ons ‘n tweetalige gemeente is en daar nie tyd tussen die twee dienste is om weer die gebou te ontsmet nie. Ons wag maar tot alles weer normaal is en ons kan sing en nagmaal kan gebruik. Intussen neem ons die boodskappe op video op en plaas dit op die gemeente se Facebook-blad.

Roger de Troch van die Sewendedag-Adventiste sê dat die kanse goed is dat hulle vir eers die kerk gaan toe hou. De Troch is van mening dat die vereistes verregaande, onredelik en byna onbekostigbaar is. “Verbeel jou, om die gebou wat al 10 weke toe staan te ontsmet ... teen wat?” Indien ontsmetting wel gedoen word, moet die diens professioneel gedoen word ten einde 'n sertifikaat te bekom. Om ‘n termometer aan te koop, kos R1 000 ekstra. Hulle gaan dus voort met aanlyn-dienste.

Veritas Gemeente het weer eredienste Sondae om 09:00, met ingang 7 Junie. “Ons sal hou by die regeringsvoorskrifte van minder as 50 mense, met behoorlike afstand tussen almal. Lidmate moet maskers dra en ons sal siftings doen. Die diens sal nie langer as 'n uur duur nie. Om 11:30 sal ons voortgaan met die Facebook-stroomdiens,” sê Dr. Philip Venter.

Pastoor Leonie Meyfarth van die AGS Charisma noem dat hulle ‘n program het waarop mense registreer om die dienste by te woon om getalle te kontroleer. Hulle is nog besig om die moontlikheid te ondersoek dat die diens “uitgesaai” kan word. Mense kan dan in hulle motors voor die kerk parkeer en só daarna luister. Dit is egter nog in proses. Hulle sal steeds voorgaan om die diens op YouTube te plaas vir diegene wat nie wil uitgaan na die diens toe nie.

Ds. Innes Nagel van die Gereformeerde Kerk deel mee dat hulle bede is dat “ons almal in hierdie tyd ons nuwe bewegingsmoontlikhede sal koester en is dankbaar dat ons gemeentes weer met beperkte byeenkomste in die geboue en beperkte pastorale werk mag begin.” Streng voorwaardes geld waaraan voldoen moet word ten opsigte van die handhawing van sosiale afstand en ontsmetting. Vanaf eerskomende Sondag word twee oggenddienste, om 08:30 en 10:00, gehou. Die 08:30 erediens word lewendig opgeneem en op die gemeente se Youtube-kanaal gelaai. ‘n Maksimum van 50 persone – wat ampsdraers insluit – word toegelaat.  Lidmate wat eredienste wil bywoon moet voor Donderdae 12:00 hul plek by die Kerkkantoor bespreek, sodat die nodige registers en vraelyste opgestel kan word.  Slegs persone met gesigsmaskers sal toegelaat word en elke persoon se temperatuur sal geneem word. As dit bo 37,5º C is, sal die persoon versoek word om huis toe te gaan.

 

 
 
 

Viewed: 847

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT