ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van links na regs is Louise Smit, Marinda Esterhuyse en Anita Benadé. Foto verskaf.

Steeds geen verligting vir haarkappers

Date: 06 June 2020 By: Pétria de Vaal

“Weens Covid-19 is dit vir haarkappers emosioneel moeilik met geen kliënte en geen inkomste. Ons vat dit maar dag vir dag en glo en vertrou dat ons vroeër sal kan oopmaak.” Só som Marinda Esterhuyse van Salon Marinda die situasie op.

Haar- en ander salonne is sekerlik dié bedryf wat die swaarste getref word deur die inperking. Waar ander bedrywe nou al op Vlak 3 kon begin funksioneer, moet haarkappers nog wag. Die Zoutpansberger het gaan hoor hoe dit nou met hulle gaan en wat alles voorlê.

Louise Smit van Salon Lu-iz sê dat die coronavirus haar uitkyk op die toekoms redelik verander het. “Nie noodwendig sleg nie ... Uitdagings maak mens net sterker,” sê sy. Sy moes ‘n besluit neem om haar  perseel te ontruim. Huur hoop op en moet een of ander tyd betaal word. “En dan moet jy weer betaal om te kan werk, om maar net weer te sukkel om bo uit te kom.” Sy het besluit om ná die grendeltyd (wanneer dit ook al is) van hulle lodge af te werk, wat net buite die dorp is. Wanneer hulle weer mag begin werk gaan daar sekerlik baie uitdagings wees as gevolg van veiligheidsprotokolle. Die probleem gaan dan ook bestaan dat hulle nie 100%  kan funksioneer soos voorheen nie vanweë die reëls wat geïmplementeer sal word. Dit sal dan ook veroorsaak dat hulle nie dadelik dieselfde inkomste kan genereer as voorheen nie. Geen afleggings is gedoen nie. Gelukkig is die salon by die WVF geregistreer, wat ‘n bietjie help met alle werknemers se inkomste. Sover skuif al die personeel saam lodge toe na die grendeltyd. “Ons sal weer bo uitkom. Stadig maar seker. Intussen kan ons nie wag om in almal se ‘grendelhare’ in te vaar nie!” skerts Louise.

Anita Benadé en haar dogter Sunita Pretorius sê dat die onsekerheid veroorsaak dat niks beplan kan word nie. Wella, die bekende firma wat haarprodukte verkoop, het gerapporteer dat ‘n paar salonne in Suid-Afrika se deure gesluit is omdat hulle aanhou werk het. Só ‘n salon word beboet. Die persoon wie se hare gesny of gedoen word, kry self ‘n boete van R1 500.

Benadé sê dat haarkappers en ander salonne beskou word as frontlinie werkers -  saam met ander gesondheidswerkers. Alles moet 100% higiënies wees. Sy noem dat salonne in elk geval so werk. Sy is ook by die Mediese Raad geregistreer, omdat sy permanente grimering, asook verwydering van vlekke, tatoeëermerke ensovoorts in haar salon doen. Haar werksplek is in elk geval steriel.

Wanneer haarkappers opgelei word, doen hulle ‘n module in hulle studies wat spesifiek handel oor higiëne en sterilisasie van handdoeke, borsels en alle ander benodigdhede in ‘n salon. Feit bly staan, as hulle weer mag oopmaak, sal dit anders wees. Waar hulle voorheen byvoorbeeld tien kliënte op ‘n dag kon help, sal hulle miskien in die toekoms slegs vyf kan help. Slegs een persoon op ‘n keer sal in die salon mag wees.

Veiligheidsprotokol sal ook byvoorbeeld behels dat ‘n kliënt in die motor moet wag, hy/sy by die hek gehaal word, temperatuur gemeet word, hande en voete/voetsole ontsmet word, ensovoorts.  Natuurlik moet ‘n masker gedra word. Dit impliseer dat ‘n ma nie ‘n kind mag bring nie. Die ontvangsarea moet leeg wees. Nie tydskrifte nie, niks. Kliënte mag nie aan produkte vat nie. Die kliënt vrywaar die haarkapper/salon-eienaar van enige aanspreeklikheid deur ‘n vorm in te vul indien hy/sy Covid-19 sou opdoen.

Wat vir Benadé hinder is die moontlikheid dat haarkappers liefs nie die kliënt se hare moet was nie. Die haarkapper moet ook dubbele handskoene dra! ‘n Masker EN gesigskerm is verpligtend. Sy sê dat dit onmoontlik is om ‘n skêr met handskoene te hanteer.  Benadé is van mening dat warm water en seep ‘n persoon se gewaste hare dié veiligste plek maak!

Spesiale skoonmaakmiddels vir salonne moet gebruik word, asook weggooibare handdoeke en oorjassies. Die kostes hieraan verbonde is astronomies. As ‘n kliënt opstaan, moet alles weer skoongemaak word. Die stoel, die toonbank, die vloer, alles. ‘n Tydperk van 15 minute vóór en 15 minute ná afsprake word aanbeveel vir al hierdie prosesse. Haarkappers sal nie weer afsprake kan reël soos vantevore nie.

Verlede week was haarkappers angstig om te hoor van die uitslag van ‘n dringende Hooggeregshof-aansoek. Een aspek staan egter uit: in salonne kan sosiale distansiëring nie gehandhaaf word nie. “‘n Haarkapper werk die hele tyd óm ‘n persoon se gesig,” sê Benadé. 

Benadé help haar werknemers waar sy kan, maar sulke hulp is nie onbepaald volhoubaar nie. Hierdie is ‘n baie stresvolle tyd. Haarkappers is in die kalklig en sy voorsien baie logistieke uitdagings wanneer hulle weer oopmaak.

 

 
 
 

Viewed: 690

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT