ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle mnr. Leon Saayman (71). Foto verskaf.

Leon Saayman skielik oorlede

Date: 11 September 2020 By: 

Die Soutpansberg het die afgelope naweek met leedwese verneem van die dood van die 71-jarige mnr. Leon Saayman wat Saterdag, 5 September, skielik oorlede is, vermoedelik aan ‘n hartaanval.

Leon het in die vroeë 1990’s vanaf Die Strand na Louis Trichardt verhuis waar hy as elektriese ingenieur by die destydse Gants Foods in die voormalige Venda begin werk het. Ná bykans 10 jaar het hy die fabriek vaarwel geroep en onder meer opgetree as faktotum by Laerskool Soutpansberg vir ongeveer vier jaar. Ná sy aftrede het hy hom besig gehou met tydelike werke soos om op te tree as toesighouer tydens Unisa-eksamens.

Leon was ook ‘n gekwalifiseerde ambulansman. Sy groot liefde en stokperdjie, as mens dit so kan beskryf, was egter die Nasionale Seereddingsinstituut. Kort voor hy en sy familie na Louis Trichardt verhuis het, was hy hoof van die instituut se radionetwerk.

Leon is in 1970 met sy vrou Betsie getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore, Ruben en Anton. Ruben bly tans in Engeland en Anton in Nelspruit.

“Ons wil graag baie dankie sê aan almal vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank gaan aan Tjorra Nagel en die Soutpansberg Dorpswag vir julle hulp en bystand tydens en ná afloop van Leon se dood,” het die familie gesê.

Teen druktyd was reëlings ten opsigte van wyle Leon se begrafnis nog nie gefinaliseer nie weens die Covid-19 beperkings wat Ruben se terugkeer na Suid-Afrika vertraag het. Wyle Leon word oorleef deur sy vrou Betsie, seuns Ruben en Anton (met skoondogter Lezanne en kleinkinders Bertus en Amelia).

 

 
 
 

Viewed: 780

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT