ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Kobie Cronjé (81). Foto verskaf.

Nog ‘n groot boom van die Soutpansberg val

Date: 20 November 2020 By: 

Nog een van die Soutpansberg se groot bome het geval met die nuus van die afsterwe van die 81-jarige oom Kobie (Jacobus Abraham) Cronjé op 8 November.

Gebore op 23 Februarie 1939, het die jong Kobie in Krugersdorp grootgeword en skoolgegaan. Ná skool het hy sy BA-graad in maatskaplike werk by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf en daarna vir ‘n paar jaar vir die Johannesburg Stadsraad as maatskaplike werker gewerk. Hy is in 1961 met die pragtige nooi van sy hart, Bets Pieterse, getroud en hulle was vanjaar in 2020 vir 60 jaar lank getroud.

In 1963 het hy en Bets deur die NG Kerk by die Tshilidzini Hospitaal in Venda beland waar hy as bekwame jeugwerker vir die NG Kerk gewerk het. Hy het later die sekretaris van Ntume Sendingstasie se Hayani Hospitaal in Makwarela geword. Dit is hier op die rooi grond van die Sendingstasies in Venda waar vyf van hulle ses kinders (Braam, Pierre, Kurt, Jaco en Claudie) hulle kleintyd deurgebring het. Hulle jongste seun, Fritz, is in Louis Trichardt gebore.

In 1972 het die gesin na Louis Trichardt verhuis waar die ses Cronjé-kinders almal skoolgegaan het en Kobie sy boerdery en slaghuise opgebou het. Bets het die eerste en bekende Louis Trichardt Boekwinkel begin en as suksesvolle besigheid opgebou. Kobie was hoofdiaken in die NG Moedergemeente vir baie jare en het menige jong mens met deernis, liefde en begrip deur katkisasie gelei. Hulle het later na Polokwane en Pretoria verhuis waar Kobie ‘n streeksbestuurder by Sanlam in onderskeidelik Polokwane, Pretoria en Johannesburg was.

Die familie het later weer na die Soutpansberg teruggekeer en met makadamias in Levubu geboer tot sy aftrede. Hulle enigste dogter, Claudie Simon, se afsterwe aan kanker op ‘n jong ouderdom was vir Kobie en Bets en die Cronjé-broers ‘n harde slag.

Kobie was baie geliefd onder sy kollegas en vriende. Vir sy vrou, kinders en kleinkinders was hy ‘n man, pa en oupa met ‘n wonderlike sin vir humor, ‘n oop, slim, filosofiese kop, ‘n warm, mededeelsame hart en altyd ‘n oor om jongmense se dilemmas en die landspolitiek met skerp begrip aan te hoor. “Ons gaan hom mis tot in lengte van dae ... en ons wens rus daar waar u nou is, mag die sterre en heelal u sus. Tot weersiens ons liefste pa, man, vriend en oupa,” het die familie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1498

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT