ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generib image.

Musina-sakelui vier hofoorwinning oor Eskom en munisipaliteit

Date: 29 April 2021 By: 

Sakeliga het twee jaar nadat die eerste regstappe geneem is om te keer dat Eskom elektrisiteit in Musina onderbreek, ‘n kostebevel ten gunste van Sakeliga in die Gautengse Hooggeregshof bekom.

“Die litigasie spruit uit pogings deur Eskom in 2018 en 2019 om elektrisiteit na alle gebruikers in Musina, insluitende betalende sakelui, af te skakel, ná versuim deur die plaaslike munisipaliteit om die gelde aan Eskom oor te betaal,” het Sakeliga in ‘n verklaring ná afloop van die hofuitspraak voorverlede week gesê.

Dié regsaksie uit 2018 en 2019 was die eerste suksesvolle intervensie deur Sakeliga om te keer dat Eskom elektrisiteit van betalende sakelui en ander gebruikers weerhou. Regsargumente wat daar ontwikkel is, het sedertdien die weg vir verdere suksesse gebaan, waarvan die vernaamste die uitspraak in Desember 2020 in die Hoogste Hof van Appèl in Eskom Holdings SOC Ltd v Resilient Properties is. “Danksy hierdie uitspraak brand ligte tans in dorpe landswyd, aangesien dit verhoed dat Eskom die elektrisiteit na plaaslike gemeenskappe in geheel, insluitende betalende kliënte, vanweë munisipale wanbetaling afskakel. Eskom het intussen wél na die Grondwethof teen hierdie bevel geappelleer, waar Sakeliga weer sal toetree om betalende sakelui en ander gebruikers te beskerm,” lui Sakeliga se verklaring.

Volgens mnr. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sal die geld van die kostebevel gebruik word “ter bevordering van ons regstrategie om suksesvolle plaaslike sakegemeenskappe te verseker. Hiervoor is betroubare elektrisiteit ‘n vereiste. Ons kan nie toelaat dat elektrisiteit na betalende gebruikers onderbreek word – dat hulle ekonomies gyselaar gehou word – net omdat een staatsorgaan nie sy rekeninge by ‘n ander staatsorgaan betaal nie.”

Le Roux het gesê Sakeliga wil die struktuur van elektrisiteitsvoorsiening in die land verander. “Benewens ons verdere rol in die Resilient-saak werk ons regspan tans ook aan verdere litigasie. Dit is nie genoeg om Eskom bloot te verhoed om elektrisiteit af te skakel nie – ons moet by ‘n volhoubare oplossing kom. Die volgende stap is om te verseker dat betalende gebruikers se gelde aan Eskom oorbetaal word, en nie verdwyn in die koffers van mislukkende munisipaliteite en korrupte amptenare nie. En uiteindelik moet verbruikers by enige verskaffer – en nie net Eskom nie – direk elektrisiteit kan koop. Ons hoop om eersdaags verdere aankondigings te doen.”

Die litigasie in Musina het gespruit uit kennisgewings deur Eskom in 2018 dat elektrisiteit in Musina onderbreek sou word weens die Musina Plaaslike Munisipaliteit se versuim om betalende gebruikers se gelde aan Eskom oor te betaal. In samewerking met plaaslike sakelui het Sakeliga ‘n aansoek by die hof gebring om hierdie besluit te laat hersien en ongeldig te laat verklaar.

 

 

 
 
 

Viewed: 461

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT