ADVERTISEMENT:

 

 
 

Triegies se 12-man span wat Saterdag die skool verteenwoordig het tydens die topskole finaal van die hoërskole Spur XCO-bergfietsliga by Hoërskool Bekker. Van links na regs staan Turner de Swardt, Rohan Cronjé, Marno van Zyl, James Raper, Richard Lambert, De Wet du Toit, Heine de Jager, Joleen de Swardt, Dominique Nel, Jennavieve Truter, Karla van Zyl en Christelle Coetzer.

Triegies skitter te midde van strawwe kompetisie

Date: 16 October 2016 By: Andries van Zyl

Die jaarlikse hoërskole Spur XCO-bergfietsliga het die afgelope naweek op ‘n hoogtepunt geëindig, met skole wat van regoor die land by Hoërskool Bekker in die Magaliesberge versamel het vir die finaal.

Hoërskool Louis Trichardt was ook daar om hul eer te verdedig, nadat hulle as topskool in die provinsie uit die stryd getree het. Kompetisie was egter straf, met die Triegie-ryers wat teen ryers van topskole soos Potchefstroom Gimnasium, Grey College, Affies en Moreletapark te staan gekom het.

Die finaal van die Spur XCO-liga is oor twee dae (8 en 9 Oktober) beslis. Die eerste dag het die skoolspanne teen mekaar te staan gekom om ‘n algehele wenskool vir die liga te bepaal. Die tweede dag het die provinsiale spanne mekaar die stryd aangesê om die top provinsie te bepaal. Triegies se 12-man span wat die Saterdag die skool verteenwoordig het, het bestaan uit Marno van Zyl, Ricard Lambert, Turner de Swardt, Joleen de Swardt, Christelle Coetzer, Dominique Nel, Heine de Jager, James Raper, Rohan Cronjé, De Wet du Toit, Karla van Zyl en Jennavieve Truter.

In die junior mansafdeling tydens die skolekompetisie Saterdag, was dit deja vu vir Limpopo se nommer een ryer, Triegies se Marno van Zyl. Soos met die laaste rondte van die provinsiale liga, die Tour de Lip, knip ‘n pap wiel binne die eerste paar minute van die wedren sy kanse vir ‘n goeie posisie kort. Soos met die Tour de Lip, moes hy die grootste deel van die eerste rondte hardloop, voordat sy wiel in die tegniese sone by die eindstreep vervang kon word. Die res van die wedren het hy rustig gery (herstelrit), om sy bene vir Sondag se interprovinsiale kragmeting te spaar. Hy voltooi steeds drie van sy vier rondtes. Triegie-spanmaat James Raper voltooi ook drie van die vier rondtes. In die junior vroue-afdeling is Joleen de Swardt die enigste Triegie-ryer en voltooi haar drie rondtes in ‘n tyd van 01:16:03.


GoPro-video van Marno van Zyl geneem tydens sy herstelrit.


In die O/16 Youth-mansafdeling het Richard Lambert (Limpopo nommer 1), Turner de Swardt en Heine de Jager die Triegies verteenwoordig. Richard was weer in vorm en het van al die Triegie-seuns die beste gevaar die dag. Hy het ‘n algehele 10de plek uit 80 ryers ingepalm, in ‘n tyd van 00:45:26 oor drie rondtes. Om vir lesers ‘n idee te gee van hoe kompeterend dié liga is, het net twee minute vir Richard geskei van die wenner. Turner het ook goed gery en sy drie rondtes in die 52ste posisie in ‘n tyd van 00:50:42 voltooi. Heine het oor die wenstreep gery in die 59ste posisie in ‘n tyd van 00:52:14.

Nog ‘n Triegie wat beïndruk het, was Limpopo se nommer een ryer in die O/15 Youth-meisiesafdeling, Christelle Coetser. Sy het ‘n algehele vierde plek in dié afdeling in ‘n tyd van 00:35:45 oor twee rondtes behaal, minder as twee minute ná die algehele wenner. Triegie-spanmaat Karla van Zyl, wat hierdie jaar begin fietsry het, het ook baie goed gery en die wedren in die 18de plek in ‘n tyd van 00:44:18 uit 28 deelnemers voltooi.

Die sub-juniorafdeling het die meeste Triegie-deelnemers gelok, wat goeie nuus is vir die toekoms van die sport by die skool. In die seuns-afdeling het Triegies se De Wet du Toit en Rohan Cronjé die strawwe en vinnige baan aangedurf oor twee rondtes. De Wet het algeheel 37ste klaargemaak in ‘n tyd van 00:54:13, met Rohan kort op sy hakke in 00:54:14 in die 38ste plek uit 68 deelnemers. In die meisiesafdeling van dié ouderdomsgroep was Jennavieve die eerste Triegie oor die wenstreep in ‘n tyd van 00:45:48 in die 24ste plek uit 32 deelnemers. Triegies se Dominique Nel het 'n paar minute later in die 26ste posisie in 00:48:41 geëindig.

Ná ‘n nag se rus was al die Triegie-ryers Sondag vroeg weer op die baan vir deelname aan die interprovinsiale kompetisie. Alhoewel die hele Triegie-span weer gery het, was dit Marno, Richard, Turner, Christelle, Joleen en Dominique wat die oggend hul provinsiale truie oor die kop getrek het om hul provinsie te verteenwoordig.

Ten spyte van die vorige dag se terugslag met sy papwiel, het Marno vol vertroue weggespring in die junior-mansafdeling saam met spanmaat James. Anders as die vorige dag se vier rondtes, het hulle Sondag slegs drie rondtes gery. Marno moes hard werk om by die voorlopers te probeer bly. Hy het algeheel 37ste uit die veld van 78 provinsiale ryers geëindig in ‘n tyd van 00:45:57, sowat ses minute ná die algehele wenner van die wedren. Dit was ‘n harde trap vir James, wat slegs een van sy drie rondtes voltooi het, in die 69ste plek. In die meisiesafdeling van die ouderdomgroep het Joleen in die 23ste posisie uit 27 deelnemers klaargemaak, in ‘n tyd van 00:47:25.

In die O/16 Youth-mansafdeling het Richard vir ‘n tweede agtereenvolgende dag ‘n algehele 10de plek uit 73 ryers ingepalm in ‘n tyd van 00:28:19 oor twee rondtes, net meer as ‘n minuut ná die eerste plekwenners. Heine het vir homself ‘n 47ste plek losgetrap in ‘n tyd van 00:31:42, met Turner kort op sy hakke in die 49ste plek in 00:31:45.

In die O/15 Youth-meisiesafdeling het Triegies se Christelle dit ook twee in ‘n ry gemaak, nadat sy ook algeheel vierde geëindig het in die provinsiale kompetisie. Sy het haar twee rondtes in ‘n tyd van 00:33:55 voltooi. Karla het ook ‘n goeie wedren gery en ‘n algehele 17de plek ingepalm in ‘n tyd van 00:39:36.

Wat die sub junior-mansafdeling betref, het De Wet op die tweede dag vir hom ‘n 36ste plek losgetrap uit 61 deelnemers in ‘n tyd van 00:33:29, met Rohan wat 42ste geëindig het in 00:33:53. Jennavieve het op haar beurt ‘n algehele 20ste plek verower in die meisiesafdeling met ‘n algehele tyd van 00:41:50 uit 28 deelnemers. Dominique het algeheel 24ste klaargemaak in 00:45:44.

Limpopo het algeheel sesde geëindig uit die 10 provinsies wat deelgeneem het, ingesluit spanne van Zimbabwe en Namibië. Die eerste, tweede en derde plek het onderskeidelik gegaan aan Noordwes, Gauteng en die Weskaap.

 
 
 

Viewed: 783

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Hierdie ses bergfietsryers van Hoërskool Louis Trichardt het Sondag, tydens die interprovinsiale finaal van die Spur XCO-bergfietsliga by Hoërskool Bekker hul provinsiale kleure verwerf. Afgeneem met hul provinsiale kleure is, van links na regs, Joleen de Swardt, Marno van Zyl, Richard Lambert, Turner de Swardt, Christelle Coetzer en Dominique Nel.    

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT