ADVERTISEMENT:

 

 
 

Aan die begin van 2016 het Oom Jakkie van der Colff op die oewers van die Limpopo vertrek op sy Suiderkruis-toer, wat hom van die noorde tot die suide en weer van die weste tot die ooste van die land geneem het.

Oom Jakkie wil in een dag van Beitbrug tot in die Kaap trap

Date: 29 January 2017 By: Anton van Zyl

Inwoners van die Soutpansberg sal Oom Jakkie van der Colff dalk nog onthou. Dié 75-jarige inwoner van Pretoria het verlede jaar die “Suiderkruis”-toer met ‘n fiets onderneem wat hom van die noorde tot die suide van die land geneem het en weer van die weste na die ooste.

Oom Jakkie kan egter nie stilsit nie en hy het vanjaar nog ‘n groter projek aangepak: Hy wil die roete van Beitbrug tot Kaapstad per fiets in een dag aandurf!

Dié keer gaan Oom Jakkie dit egter nie self aanpak nie – hy soek hulp. Die projek berus op die samewerking van verskeie groepe fietsryers in verskillende dorpe en stede wat almal ‘n deel van die roete voltooi.

Die spanne spring almal vroeg die oggend van 6 Mei weg en ry sover as wat dit vir hulle gemaklik is. Daar is reeds ‘n groepie fietsryers op Musina wat van Beitbrug tot op Louis Trichardt sal ry. In Louis Trichardt sal ‘n groepie weer om 07:00 wegspring en tot in Polokwane ry. So sal sowat twee dosyn groepe fietsryers gesamentlik die 2 200 kilometer tot in Kaapstad voltooi.

Volgens Oom Jakkie is die doel van die projek om die veiligheid van fietsryers te bevorder. Hy sal ook graag fietsry wil bevorder omdat dit soveel voordele inhou. “Elke groep of fietsryklub wat deelneem, tref hul eie reëlings. Dit is ook elkeen se keuse oor hoe ver hulle ry. Die enigste vereiste is dat die volle afstand van elke skof gery moet word. Hierdie dag is vir almal om te geniet,” sê Oom Jakkie.

Hy was vroeër die week baie opgewonde oor hoe die projek vorder. “Met uitsondering van Polokwane, Potchefstroom, Wolmaranstad en Kimberley het al die ander klubs/groepe reeds bevestig dat hulle deelneem. Wat wonderlik is, is dat fietsryers van Stilbaai die skof van Carnarvon na Williston gaan ry. En Stilbaai is baie ver van Carnarvon af. So ook gaan my groot vriend en uitsonderlike fietsryer en sy vrou van Bloemfontein die skof van Bloemhof na Warrenton ry. Netso ver van hul huis af. Van Warrenton na Kimberley is dit net dames wat die skof aanpak. James se fietsryers van Orania gaan die skof van Hopetown na Britstown ry en Kannetjies van Prieska se groep van Britstown gaan na Carnarvon ry. En hulle almal se huise is ver van daardie skofte af. En baie moontlik gaan ‘n blinde persoon van Pretoria na Carletonville ry,” vertel hy.

Op die dag van die fietsrit gaan Oom Jakkie by die ateljee van Pretoria FM wees en die verskillende groep skakel om te hoor hoe dit gaan. Verskeie ander mediahuise het ook laat weet dat hulle dekking aan die projek sal verleen. Eerskomende Maandag (30 Januarie) is Oom Jakkie ‘n gas op die DSTV-program Groot Ontbyt. “Die uitsending sal rondom 06:30 plaasvind en dit word terselfdertyd uitgesaai oor radio Groot FM 90.5, wat gehoor kan word op DSTV Kanaal 820. Kyk of luister gerus na die uitsending,” nooi Oom Jakkie.

Plaaslike fietsryers wat belangstel om deel te hê aan die projek kan hul fietsryklubs skakel of direk met Oom Jakkie in verbinding tree by [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 776

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT