ADVERTISEMENT:

 

 
 

CP van Wyk in aksie tydens die eerste skof van die Cape Epic.

CP in stryd met wêreld se bestes

Date: 25 March 2017 By: Anton van Zyl

Een van die beste fietsryers wat die Soutpansberg nog opgelewer het, CP van Wyk, het die afgelope week die internasionale fietsrygemeenskap laat regop sit en kennis neem van sy uitsonderlike talent. Hy en sy spanmaat, Charl-Pierre Esterhuyse, neem deel aan die moordende ABSA Cape Epic bergfietsresies, een van die wêreld se bekendste fietswedrenne.

Ná die derde skof was die twee CP’s nog goed geplaas in die algehele 34ste plek. Hulle het Woensdag die baie strawwe roete van 78 kilometer voltooi en net meer as 35 minute ná die voorlopers, Christoph Sauser en Jaroslav Kulhavy, by die eindpunt aangekom.

Die ABSA Cape Epic is vanjaar vir die 14de keer aangebied. Dit het Sondag (19de) by die Meerendal wynlandgoed in die Wes-Kaap begin, maar die eerste dag se rit was net 'n inleiding tot die resies en bekendstelling van die jaers. Maandag het die groep van sowat 1 300 fietsryers op Hermanus weggespring vir die eerste van sewe moordende skofte. Die resies eindig eerskomende Sondag by die Val de Vie Landgoed in die Paarl.

Die Cape Epic lok jaarliks die wêreld se top fietsryspanne en die name van deelnemers klink soos die “wie's wie” in fietsry wêreldwyd. Elke span bestaan uit twee jaers en hulle moet te alle tye binne twee minute van mekaar by punte verbyry. Dit is die enigste skof-resies wat oor agt dae aangebied word en word deur die Union Cycliste Internationale (UCI) geklassifiseer as ‘n hors catégorie-resies. Dit is die bergfietsresies wat wêreldwyd die meeste blootstelling op televisie kry.

Vir CP van Wyk het die uitnodiging om deel te neem heeltemal as ‘n verrassing gekom. Omdat dit die wêreld se topjaers is wat deelneem, is dit nie sommer enige fietsryer wat kan inskryf nie, en definitief ook nie as deel van die spanne in die topkategorie nie. CP is deel van die Maties (Universiteit van Stellenbosch) se fietsryspan en ‘n voltydse student. Die oorgrote meerderheid deelnemers in die kategorie waar hy meeding is professionele fietsryers.

Volgens CP se ma, Ralda, het hy eers 10 dae voor die resies ‘n uitnodiging gekry om deel te neem as deel van die Breedenet-span. CP het einde Maart aan die PEPlett bergfietsresies deelgeneem wat oor vier dae vanaf Port Elizabeth tot by Plettenbergbaai gestrek het. CP en sy spanmaat, Shaun Glover, het verras deur derde in hul kategorie te eindig. Dit het duidelik die aandag getrek van ‘n klompie mense en kort daarna het CP ‘n oproep ontvang van Charl-Pierre Esterhuyse. Die twee van hulle is die geleentheid gebied om ‘n laat inskrywing vir die Cape Epic te wees. “Die twee van hulle het nog nooit voorheen saamgery nie,” sê Ralda. CP is ook een van die handjievol voltydse studente wat meeding teen die professionele fietsryers.

In die Soutpansberg is CP geen onbekende nie. Gedurende die tyd wat hy op Louis Trichardt op skool was, het hy die fietsrypodiums oorheers. Hy het plaaslik veral uitgeblink in bergfietswedrenne, maar die afgelope paar jaar het hy sy stempel as padfietsryer afgedruk.

Volgens Ralda mik CP en sy spanmaat vir ‘n Top-10 plek onder die jaers van Afrika. Indien hulle algeheel onder die voorste 40 spanne eindig, sal dit vir hulle ongelooflik wees.

Met Sondag se skof was die spanne redelik gelyk en die Breedenet-span het 36ste in hul kategorie geëindig (algeheel 46ste). Na Maandag se moordende eerste skof het hulle algehele posisie na 36ste verbeter, ná ‘n 32ste plek in hul kategorie. Dinsdag was ‘n besonderse goeie dag vir die twee CP’s, met ‘n 31ste plek in hul kategorie, wat hulle na die algehele 34ste plek laat opskuif het. Woensdag was ‘n besonderse strawwe dag, met ‘n roete wat 1 650m geklim het en baie tegniese dele ingesluit het. Hulle het 31ste in hul kategorie geëindig en 38ste algeheel vir die dag.

CP en Charl-Pierre het na Woensdag se skof in die sewende posisie gelê vir die kompetisie om die Afrika-trui.

 
 
 

Viewed: 650

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

CP van Wyk (links) en sy Breedenet spanmaat, Charl-Pierre Esterhuyse.

CP van Wyk saam met sy pa (en getroue ondersteuner), André van Wyk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT