ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Brug-na-berg logo.

Brug-na-Berg-uitdaag lê om die draai

Date: 15 April 2017 By: Anton van Zyl

Fietsryers wat wil deelneem aan die Brug-na-Berg-rit op Saterdag, 6 Mei, moet van hulle laat hoor en inskakel by een van die groepe.

Die Brug-na-Berg-rit is ‘n bewusmakingsveldtog waartydens groepe fietsryers van regoor die land die pad vanaf Beitbrug tot Kaapstad aandurf. Die fietsryers hoef gelukkig nie die hele 2 200 kilometer te voltooi nie.

Sowat twee dosyn groepe sal die oggend om 07:00 by verskillende dorpe en stede wegspring en sodoende gesamentlik die roete voltooi. In die Soutpansberg-streek spring ‘n groep by Beitbrug weg en ry tot in Louis Trichardt. ‘n Tweede groep spring in Louis Trichardt weg en ry tot in Polokwane.

Die Brug-na-Berg inisiatief is die breinkind van die 75-jarige Oom Jakkie van der Colff van Pretoria. Inwoners van die Soutpansberg sal hom onthou toe hy sowat ‘n jaar gelede per fiets deur die streek gereis het. Hy het ‘n “Suiderkruis”-toer onderneem wat hom van die noorde tot die suide van die land geneem het en weer van die weste na die ooste.

Volgens Oom Jakkie is die doel van die projek om die veiligheid van fietsryers te bevorder. Hy sal ook graag fietsry wil bevorder, omdat dit soveel voordele inhou. “Elke groep of fietsryklub wat deelneem, tref hul eie reëlings. Dit is ook elkeen se keuse oor hoe ver hulle ry. Die enigste vereiste is dat die volle afstand van elke skof gery moet word. Hierdie dag is vir almal om te geniet,” sê Oom Jakkie.

Op die dag van die fietsrit gaan Oom Jakkie by die ateljee van Pretoria FM wees en die verskillende groep sal geskakel word om te hoor hoe dit gaan.

Plaaslike fietsryers wat belangstel om deel te hê aan die projek kan Stanley Thompson van die Soutpansberg Fietsryklub skakel by 015 516 1338, of vir Mark Archer (083 324 8495) of Anton van Zyl (084 616 4997). In Musina kan Wendy Campbell by 082 457 3101 geskakel word.

Meer inligting oor die projek is ook beskikbaar op Facebook, by https://www.facebook.com/Brug-Na-Berg-254183118343224/. (Soek op Facebook vir Brug na Berg.)

 
 
 

Viewed: 973

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT