ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Viva-winkel op Bandelierkop het Saterdagoggend 'n gratis ontbyt bedien aan al die fietsryers en die helpers.

Brug-na-Berg ‘n avontuur

Date: 12 May 2017 By: Anton van Zyl

Bykans 30 plaaslike fietsryers het Saterdag deelgeneem aan die Brug-na-Berg rit en sodoende die aandag gevestig op die voordele van fietsry, sowel as die veiligheidsaspekte van dié sport.

Die rit was die eerste van sy soort en het behels dat 20 spanne regoor die land op dieselfde tyd vanaf verskillende plekke wegspring. Gesamentlik het die spanne die sowat 2 200 kilometer vanaf Beitbrug tot in Kaapstad voltooi.

Die rit is die breinkind van die 75-jarige Jakkie van der Colff, ‘n man wat die land al letterlik te fiets deurkruis het. “Die roete is van Beitbrug tot Pretoria, van Pretoria na Carletonville en vandaar via Kimberley tot Britstown en dan via Carnarvon na Vredendal, Elandsbaai en uiteindelik tot by die Kasteel in Kaapstad,” het Oom Jakkie vertel kort voor die rit begin het.

Op die mees noordelike punt, by die Beitbrug grenspos, het drie plaaslike fietsryers, Mark Archer, Jaco Oberholzer en Malcolm Tucker Saterdagoggend vroeg weggespring. Hulle het die skof tot by Thompson's Motors in Louis Trichardt in ‘n rapsie meer as vyf ure voltooi.

‘n Groter groep, bestaande uit bykans 30 fietsryers en helpers, het Saterdagoggend by Thompson's Motors weggespring en tot by die Bicycle Shop in Polokwane gery. Die eerste deel van hul roete was tot by Bandelierkop, waar die eienaars van die kafee en restaurant hul getrakteer het met ‘n gratis ontbyt. Vandaar het hulle die besige verkeer deur Matoks en verder aangedurf en uiteindelik het die eerste ryers kort na 13:00 in Polokwane aangekom.

Oom Jakkie het na afloop van die rit baie lof gehad vir die paar honderd fietsryers wat die projek ondersteun het. In die meeste gevalle het groepe fietsryers saamgery, maar daar was ook gevalle soos dié in Kimberley waar Deon Bester op sy eie die 140km tot in Hopetown aangedurf het. “Daar is ook voorbeelde van twee blinde persone wat hul skofte van onderskeidelik 140 km en 160 km voltooi het. Voorwaar inspirerend,” het Oom Jakkie gesê.

Die voorstel is gemaak dat die rit ‘n jaarlikse instelling word en dat dit op die eerste Saterdag in Mei plaasvind. Die rit moet egter op informele basis aangebied word, met die klem op ontspanning, het Oom Jakkie gesê.

Die plaaslike fietsryers het hul waardering uitgespreek vir die helpers wat agter die fietsryers aangery het met hul voertuie en die rit veilig gehou het. Verskeie persone het eetgoed en drinkgoed saamgebring en die rit nog meer aangenaam gemaak. Bandelierkop Viva Kafee is bedank vir die gratis ontbyt en Palm Groothandelaars vir die borg van die koeldranke.

 

 

 

 

 
 
 

Viewed: 459

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

'n Deel van die groep fietsryers afgeneem kort ná hul aankoms by die Bicycle Shop in Polokwane.

Die groepie fietsryers wat tot in Polokwane gery het, afgeneem by die vertrekpunt by Thompson's Motors in Louis Trichardt.

Die groepie fietsryers wat van Beitbrug tot in Louis Trichardt gery het, afgeneem by die lêboom net buite Musina.

Die groepie fietsryers wat van Beitbrug tot in Louis Trichardt gery het, afgeneem by die Verwoerd-tonnels.

Die groepie fietsryers wat by Beitbrug weggespring het. Van links na regs is Mark Archer, Jaco Oberholzer en Malcolm Tucker.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT