ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike sterkman Leon le Roux (44) met die medlajes wat hy gewen het tydens die naweek se Arnold Classic. Nie net het hy die meestersklas gewen nie, maar hy het ook ‘n nuwe Suid-Afrikaanse en wêreldrekord opgestel in die Strict Arm Curl-item.

SA- en wêreldrekord vir sterkman Leon

Date: 12 May 2017 By: Andries van Zyl

Plaaslike sterkman Leon le Roux spog nie net met ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord nie, maar ook met ‘n wêreldrekord in die Strict Arm Curl-item.

Le Roux het hierdie unieke prestasie behaal tydens sy deelname aan die Arnold Classic wat vanaf 5 tot 7 Mei by die Sandton Konferensiesentrum deur die wêreldbekende Arnold Schwarzenegger aangebied is.

Die 44-jarige sersant-majoor van Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt het die naweek teen van die wêreld se sterkste manne kragte gemeet. Hy het deelgeneem in die Meesters-afdeling van die toernooi in die bo-40-jaar ouderdomskategorie. “Op die eerste dag van die kompetisie, dit was Vrydag gewees, was ons ses deelnemers in hierdie ouderdomsgroep. Saterdag het ons gerus en met die aanbreek van die kompetisie Sondagoggend het vier van die ses deelnemers onttrek. Ons was dus net twee in ons afdeling,” het Le Roux Maandag gesê. Daar was een deelnemer van Zambië en die res was van Suid-Afrika. “In die ander ouderdomsgroepe was daar deelnemers van reg oor die wêreld, insluitend Engeland, Poland, Amerika en selfs Iran,” het Le Roux gesê.

Le Roux het gesê sy eerste dag se deelname het goed gegaan. “Teen Vrydagaand het ek eerste gelê op die punteleer in my ouderdomsgroep. Dit was ook die dag wat ek ‘n nuwe Suid-Afrikaanse- en wêreldrekord in die Strict Arm Curl opgestel het,” het Le Roux gesê.

Le Roux het opgewonde die eerste dag afgesluit en Saterdag saam met die ander sterkmanne uitgerus vir die tweede rondte op Sondag. “Sondag het ek vir hulle gevra of my rekords nog staan. Dit is toe dat hulle my meedeel dat hulle dit nie geregistreer nie, omdat ek die items gedoen het onder die vaandel van die sterkmankompetisie, en nie onder die vaandel van die South African Strict Arm Curl Federation (SASAF) nie. Ek was baie ontsteld daaroor gewees. Gelukkig het iemand my gou gehelp om onder die vaandel van die SASAF te registreer, waarna ek weer die item gedoen het. In die proses het ek sommer die rekord wat ek Vrydag opgestel het met ‘n kilogram verbeter deur 81 kg te lig,” het Le Roux gesê.

Ander items waaraan Le Roux die naweek deelgeneem het, was die Overhead Medley (die Apolons Axle waar drie repetisies van 90 kg bokant die kop uitgedruk moet word, asook drie repetisies van die Viking Press, waar 100 kg bokant die kop uitgedruk moet word teen tyd), die Yoke Walk (waar daar teen tyd oor 20 m met 360 kg op die skouer gestap word), Frame Carry (waar 'n 260 kg raamwerk oor 20 m teen tyd gedra moet word), Log Press (waar Le Roux ‘n maksimum van 120 kg bokant sy kop kon uitdruk), die gevreesde Atlas Stone (waar deelnemers 60 sekondes gehad het om ‘n 110 kg gewig vanaf die grond op te tel en bo-oor ‘n 1,2 m dwarslat te gooi. Le Roux kon ses repetisies hiervan doen).

Algeheel het Le Roux sy ouderdomsgroep tydens die Arnold Classic gewen, met Marius Vorster in die tweede plek. “Ek is verheug oor my prestasie die naweek. Dit het al my verwagtinge oortref. Ek is veral uit die veld geslaan met die Suid-Afrikaanse en wêreldrekord agter my naam,” het Le Roux gesê.

Daar is egter nie veel tyd vir stilsit nie. Le Roux het weens sy goeie prestasie tydens die Arnold Classic klaar gekwalifiseer vir deelname aan die Afrika Sterkmankompetisie wat in November in Rustenburg aangebied word. “Hulle het ook vir ons gesê dat almal wat eerste en tweede plekke behaal het moontlik uitnodigings sal kry na die Arnold Classics wat in Ohio in Amerika aangebied sal word,” het Le Roux gesê. Tans spandeer Le Roux tussen twee-en-‘n-half en drie ure in die gimnasium. “Maar vir nou gaan ek eers net ‘n week bietjie rus,” het Le Roux gesê.

 
 
 

Viewed: 539

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Nog een van die items waarin Le Roux sy krag moes wys, was die Frame Carry waar hy ‘n gewig van 260 kg oor 20 m teen tyd moes dra. Foto verskaf.

Le Roux moes drie keer teen tyd ‘n gewig van 100 kg bokant sy kop uidruk in die Viking Press as deel van die Overhead Medley-item. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT