ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike fietsryer Rick Coetzee, afgeneem tydens voorverlede jaar se Kremetart 175 km-wedren. 

Welkom terug Kremetart

Date: 26 January 2018 By: Isabel Venter

Groot opgewondenheid heers oor die nuus dat die jaarlikse Kremetart Fietswedren weer vanjaar aangebied sal word.

Die Kremetart Fietswedren is die grootste sportgebeurtenis op die plaaslike sportkalender, maar moes verlede jaar vir die eerste keer in 28 jaar gekanselleer word weens ‘n gebrek aan ‘n hoofborg.

Die Kremetart sal vanjaar op 9 en 10 Junie aangebied word. “Hierdie jaar het ons gesê dit maak nie saak wat gebeur nie, daar SAL ‘n Kremetart wees,” het die organiseerders, die Soutpansberg Fietsryklub, gesê.

Vanjaar se Kremetart word moontlik gemaak danksy die rugsteuning van verskeie plaaslike borge. Nog ander borge sal ná verwagting bykom, maar wie hulle is wil die Soutpansberg Fietsryklub nie in hierdie stadium bekend maak nie.

Wat wel duidelik is, is dat die Kremetart weer soos van ouds ‘n oorwegend plaaslike byeenkoms sal wees wat deur die gemeenskap vir die gemeenskap aangebied sal word.

Dit is egter nie so maklike om die bal aan die rol te hou nie, en daarom het die klub die hulp ingeroep van RootZ, ‘n plaaslike bemarkingsmaatskappy, om te help met al die koördinering van die Kremetart. “Ons fokus gaan daarop wees om die Kremetart ‘n ware fietsrynaweek en gemeenskapsfees te maak vir die hele gesin,” het Kylié Henn, uitvoerende hoof vir RootZ, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.  

Daar is besluit om weer die wedren aan te bied vanaf Hoërskool Louis Trichardt se sportvelde (Leeupark). Beide die 175 km- en 70 km-wedrenne sal Saterdag, 9 Junie, wegspring by Leeupark. Daar is ook sprake van ‘n 10 km- en 21 km-padwedloop - ‘n ware sportnaweek.

Soos in die verlede, sal die 175km-wedren gevolg word met die Kremetart XCO-bergfietswedrenne op Sondag, 10 Junie. Hierdie wedren sal weer wegspring in die Hanglip bosbouplantasie, waar daar heelwat plek is vir toeskouers om al die aksie van naby te sien.  

Kylie het ‘n beroep gedoen op plaaslike skole, kerke, besighede en diensorganisasies om sommer nou al betrokke te raak. Daar is heelwat geleenthede, nie net vir fietsryers of liefhebbers van die sport nie, om betrokke te raak en as’t ware munt te slaan uit die geleentheid. Buiten vir al die monde waarvoor daar spys en drank voorsien moet word tydens die wedren, is daar heelwat uitstalruimte beskikbaar op Leeupark.

Deur die jare het die Kremetart in gewildheid gegroei, en telkens inskrywings gelok van dié top name in fietsrygeledere. Veral die 175 km-wedren wat op een dag in vier skofte beslis word, was ‘n groot aantrekkingskrag en het jaarliks sowat 1 000 deelnemers (plus hul families) van reg oor die land gelok.

Inskrywings vir die Kremetart sal open op 1 Februarie teen ‘n spesiale prys van R620 per deelnemer, net vir Februarie. Daarna sal die inskrywing R680 per deelnemer kos.

Kylie het die publiek uitgenooi om met haar te skakel met enige navrae wat hulle mag hê oor die Kremetart of hoe hulle betrokke kan raak. Sy kan telefonies geskakel word by tel. 061 580 8753 of 079 792 7536 of daar kan ‘n e-pos aan haar gestuur word na [email protected].

 
 
 

Viewed: 1849

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT