ADVERTISEMENT:

 

 
 

Boet Grobler (links) en spanmaat Christo van Wyk (regs) het die afgelope naweek onderskeidelik die eerste en derde plek ingepalm tydens die NG Kerk Levubu se jaarlikse Baber en Karp Bonanza.

Baber en Karp Bonanza sorg vir paar mooi visse

Date: 04 May 2018 By: Andries van Zyl

Die NG Kerk Levubu het die afgelope naweek weer hulle uiters gewilde Baber en Karp Bonanza by die Albasinidam aangebied.

Drie spesies kon die naweek gehengel word, insluitend baber, karp en swartbaars, alhoewel die swartbaarskompetisie net van 07:00 tot 17:00 Saterdag geduur het. Die baber- en karphengelaars het bietjie langer tyd gehad. Hulle kompetisie het Saterdag 06:00 begin en Sondag om 12:00 geëindig.

‘n Eerste tydens vanjaar se kompetisie is dat daar vanjaar, buiten vir die boothengelaars, vanaf drie oewers gehengel kon word. Dit het ingesluit die oewer by Beja Hengelparadys, Texas en die plaas van mnr. Gys Scheepers. “Dit was vir ons ‘n proeflopie om te sien hoe ons die kompetisie groter en beter kan maak. Ons ervaring is dat dit beslis werk. Volgende jaar kyk ons na nog ekstra oewers vir hengelaars,” het die gemeente se ds. Petrus Kriel ná afloop van die kompetisie gesê.

Soos sit maar met hengel gaan, was daar dié wat lekker gevang het en dié wat maar gesukkel het. Bygesê, die Albasinidam is nie wyd bekend vir “tempo” hengel nie en mens moet maar hard werk vir ‘n vis.

‘n Paar hengelaars het egter wel goed gevaar, veral die spesie-hengelaars wat reeds vroeër in die week begin voerplek maak het (enige hengelaar kon dit doen). Hierdie spesie-hengelaars het met reëlmaat ‘n paar blink lywe geland, veral Sondag toe die visse eensklaps van die byt afgegaan het vanweë ‘n skielike daling in temperatuur. Saterdag se warm weer het egter gesorg dat die katrolle gereeld geskreeu het, al was die vis meestal aan die klein kant. Die swartbaarsmanne en -vroue het ook Saterdag se baie warm weer geniet, met van die spanne wat reeds vroegoggend hul vyf vis limiet bereik het en deur die loop van die dag hulle sak kon uitdun met groter vis.

Ná twee dae se intensiewe hengel was dit tyd vir die prysuitdeling, aangesien die hengelaars deurlopend hulle vis kon weeg. Die prysgeld in die baber en karp kompetisie het onderskeidelik R7 000, R3 000 en R1 000 beloop vir die swaarste, tweede swaarste en derde swaarste vis. In die swartbaarskompetisie het die prysgeld vir die swaarste sak vis onderskeidelik R3 000, R1 000 en R500 beloop.

Boet Grobler, ‘n man wat geen bekendstelling nodig het in plaaslike hengelgeledere nie, het die karpkompetisie ingepalm met sy karp van 9,92 kg. In die tweede plek was Gys Scheepers met ‘n mooi vis van 8,21 kg, gevolg deur Christo van Wyk in die derde plek met ‘n 7,02 kg karp.

In die baber-afdeling was dit Markus van der Merwe wat met die louere weggestap het, met sy 8,41 kg baber. Frans Nortjé was tweede met sy 7,5 kg baber en derde was dit Mark Thompson met sy vangs van 6,47 kg.

Wat die swartbaarskompetisie betref, is die kompetisie gewen deur die span bestaande uit MJ Erasmus, Hanno Theunissen en TP Erasmus. Hul vyf-vis het gesamentlik ingeweeg op 7,6 kg. Tweede was die span van Stefan Badenhorst en Alex Keisus, wie se sak ingeweeg het op 6,2 kg, met Cobus van der Goot en spanmaat Jason Janse van Rensburg in die derde plek met hulle vyf visse se gesamentlike gewig van 4,18 kg.

Dit was egter nie net die “manne” wat pryse gewen het nie. Cycle Centre/The Fisherman’s Paradise het vanjaar opgetree as borg van die junior kompetisie, met pragtige pryse in die vorm van visstokke en hengelgerei vir al die junior hengelaars.

Die hoogtepunt van die naweek was egter die trekking van die naam van die gelukkige wenner van die R25 000 prysgeld. Almal wat ‘n kaartjie gekoop het vir die kompetisie het in aanmerking gekom vir die prys. Die enigste voorwaarde om te kwalifiseer vir die volle R25 000 was dat die persoon teenwoordig moes wees tydens die trekking. Indien die persoon nie daar was nie, het hy/sy slegs R15 000 gewen en name sou getrek word totdat ‘n persoon se naam getrek is wat wel daar was. Dié persoon sou dan R10 000 wen.

Retha Lordan se naam is eerste getrek, maar aangesien sy nie by die prysuitdeling was nie, het sy net R15 000 gewen. Daarna is verskeie ander name getrek, maar die eerste persoon teenwoordig was Werner Venter, wat die R10 000 gewen het.

 
 
 

Viewed: 654

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die wenners van die baberkompetisie was die span van Markus van der Merwe (middel) en Jan-Daniel Griesel (regs). Tweede was Frans Nortjé (links) en derde was Mark Thompson (afwesig tydens die neem van die foto).

In die derde plek ná afloop van Saterdag se swartbaarskompetisie was Cobus van der Goot (links) en Jason Janse van Rensburg (regs).

Die span wat die swartbaarskompetisie gewen het, het bestaan uit (van links na regs) MJ Erasmus, Hanno Theunissen en TP Erasmus.

Hengelaars Stefan Badenhorst (links) en Alex Keisus (regs) was algeheel tweede in die swartbaarskompetisie.

Cycle Centre/The Fisherman’s Paradise het vanjaar opgetree as borg van die junior kompetisie, met pragtige pryse in die vorm van visstokke en hengelgerei vir al die junior hengelaars.

Gys Scheepers het met hierdie karp van 8,21 kg ‘n algehele tweede plek ingepalm in die karpkompetisie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT