ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die brawe groep ryers wat die skof vanaf Beitbrug na Louis Trichardt aangepak het, was, van links na regs, Anton van Zyl, Anna Cartwright, Pierre du Preez en Mark Archer. 

Fietsryers hyg tydens tweede Brug-na-Berg

Date: 11 May 2018 By: Isabel Venter

Saterdag het sowat 20 plaaslike fietsryers in die pad geval om die mees noordelike skofte van die jaarlikse Brug-na-Berg rit af te lê.

Hierdie jaar was dit die tweede keer wat dié rit aangebied is, waartydens fietsryers van Beitbrug tot Kaapstad (Tafelberg) ry in skofte. Vanjaar is die afstand van ongeveer 2 200 km in 21 skofte ingedeel. Elke span het hulle skof na die volgende dorp voltooi sonder om vir die spreekwoordelike “aflosstokkie” te wag en sodoende is die totale afstand in minder as 12 ure afgelê.

Die rit is die breinkind van die 76-jarige oom Jakkie van der Colff, ‘n man wat die land al letterlik per fiets deurkruis het. Die rit word op ‘n vrywillige basis gereël en het eintlik net ten doel om die aandag te vestig op die voordele van fietsry, sowel as die veiligheidsaspekte van dié sport.

Plaaslik was dit Saterdag die perfekte weer vir fietsryers wat lank in die saal moes sit.

Op die mees noordelike punt, by die Beitbrug grenspos, het plaaslike fietsryers Mark Archer, Anna Cartwright, Pierre du Preez en Anton van Zyl vroeg Saterdagoggend weggespring. Dit was Mark se tweede keer wat hy die skof aanpak. Later het Francois du Preez ook by die groepie aangesluit. So saam-saam het hulle die skof van 107.1 km  tot by Thompson’s Motors in Louis Trichardt in net bietjie meer as vyf ure voltooi.

Die groep wat vanaf Thompson’s Motors weggespring en tot by die Bicycle Shop in Polokwane gery het, het gespog met die oudste ryer in die hele Brug-na-Berg rit, die 75-jarige Oom Wim Botha.

Die eerste deel van die groep se roete was tot by Bandelierkop. Vandaar het die groep opgebreek en was dit net oom Wim, Marco Roets, André Koorts, Anthony Scott, Timothy Ramadwa, Catò de Bruin en Isabel Venter wat kans gesien het vir die res van die skof. Die mistige reënweer waarin hulle weggetrek het, het gelukkig by Bandelierkop opgeklaar en uiteindelik het die eerste ryers kort na 12:00 in Polokwane aangekom.

Oom Wim het die afstand van 108 km in ‘n tyd van vyf ure en drie minute voltooi. Hy en sy fietsrymaat, Catò, het verlede jaar die skof om die beurt gery. Hierdie jaar het hulle spesiaal geoefen sodat hulle elkeen die hele roete kon ry, sonder om in die ondersteuningsvoertuig te klim.

Oom Jakkie het ná afloop van die rit baie lof gehad vir die paar honderd fietsryers wat die projek ondersteun het, en in besonder ook vir oom Wim. “Jy is voorwaar 'n inspirasie. Hoop jy neem weer deel volgende jaar en wys die jongeres wat mens kan doen as jy wil,” het oom Jakkie gesê.

Hy het ook nog twee ryertjies uitgesonder, die agtjarige Lelani Human wat 26,2 km afgelê het saam met die groep wat vanaf  Britstown na Carnarvon gery het en die 11-jarige Sarel Roets. Dié knaap het ‘n skof van 130 km afgelê van Hopetown tot in Britstown. Hy is uitgedaag en, danksy die mannemoed wat hy aan die dag gelê het, kry hy ‘n nuwe fiets.

Die rit is vinnig besig om ‘n jaarlikse instelling te word en word altyd beplan vir die eerste Saterdag in Mei. Volgens oom Jakkie is dit egter belangrik dat die klem gelê word op ontspanning.

Die plaaslike fietsryers het hul waardering uitgespreek vir die helpers wat agter die fietsryers aangery het met hul voertuie en die rit veilig gehou het. Verskeie persone het eetgoed en drinkgoed saamgebring om die rit nog aangenamer gemaak.

 
 
 

Viewed: 611

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die groep bittereinders wat die skof vanaf Louis Trichardt na Polokwane voltooi het, was (van links na regs) Wim Botha, Isabel Venter, Anthony Scott, Catò de Bruin, Timothy Ramadwa, Marco Roets en André Koorts.

'n Vinnige stop by die Hendrik Verwoerd Tonnels, onderweg na Louis Trichardt was, van links na regs, Mark Archer, Pierre du Preez en Anna Cartwright.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT