ADVERTISEMENT:

 

 
 

“Help ons om die wêreld ‘n beter plek te maak”. ‘n Meer gepaste uitnodiging is daar nie vanaf die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66 nie. Hul voorsitter, Riaan Smit (middel) het jong mans tussen die ouderdom van 18 en 40 jaar uitgenooi om by die Tafelronde aan te sluit. Saam met hom staan Tafelaars Shannon Venter (links) en Hendré Labuschagne, wat die sameroeper van die gholfdag was. Foto verskaf.   

Gholfdag gaan help om ander se nood te verlig

Date: 19 May 2018 By: Andries van Zyl

Tafelronde (Round Table) Zoutpansberg 66 is een van daardie diensorganisasies wat stilweg en soms totaal ongesiens die lewens van talle mense ten goede verander.

Nasionaal is daar net minder as 1 000 Tafelaars, met Louis Trichardt wat met sewe lede spog. Saam het hierdie manne verlede jaar digby R19 miljoen nasionaal ingesamel. Uit hierdie geld kon daar wydverspreide verligting gebring word, onder andere aan die slagoffers van die vernietigende Knysna brande en inwoners van die droogtegeteisterde Weskaap. Warm komberse kon ook aan hulpbehoewendes uitgedeel word tydens die koue wintermaande as deel van die Tafelaars se Winter Knights of Round Table projek, wat ook plaaslik aangebied word.

Inwoners het Saterdag die kans gekry om bietjie meer te leer van die Tafelronde se werksaamhede tydens die Zoutpansberg 66 se jaarlikse gholfdag by die Soutpansberg Gholfklub. “Ons het geen veiling of iets soortgelyks gehou om ekstra geld in te samel nie. Al wat ons gedoen het, was om vir die spelers en hulle families ‘n video te wys van wat Tafelronde nasionaal doen en vir mense beteken,” het Riaan Smit, voorsitter van Tafelronde Zoutpansberg 66, gesê.

Die video het beslis die hartsnare geroer en die Tafelaars het ‘n besondere mooi bedrag die dag ingesamel. Dit het ingesluit ‘n skenking van R110 000 van een enkele donateur wat verkies het om anoniem te bly. “Mense moet onthou dat Tafelronde totaal afhanklik is van skenkings, anders sou ons nie kon doen wat ons doen nie,” het Smit gesê. Hier het hy verwys na die R20 000 wat hulle verlede jaar met die Radio Raps (Jonathan) konsert geïn het ten bate van die Makhado Care Group. Hulle kon ook R30 000 skenk om die eenjarige Luan Oosthuizen se mediese onkostes te help betaal, nadat hy byna dood is vanweë ‘n ernstige longinfeksie. Hierdie jaar het die manne ook reeds R10 000 geskenk ten opsigte van die 23-jarige Heidi-Lene Jonck wat begin Maart ernstig beseer is in ‘n bootongeluk op die Albasinidam. Binnekort gaan hulle ook ‘n bedrag van R30 000 skenk aan ‘n inwoner wat besig is om haar sig te verloor. “Ons wag net vir die dokters se finale kwotasies. Die totale koste van die operasie gaan sowat R60 000 beloop,” het Smit gesê.

Maar dit is harde werk om hierdie geld bymekaar te maak. “Ons is die tyd-en-moeite ouens wat die werk moet doen om die geld in te samel,” het Smit gesê. Binnekort gaan hulle juis weer hulle tyd moet opoffer deur vir al die deelnemers aan vanjaar se Kremetart Fietswedren tydens die prysuitdeling op 9 Junie kos te gee deur middel van hulle uiters gewilde en lekker potjiekosete. Dié potjiekosete tydens die Kremetart het nou al tradisie geword en word beskou as een van die naweek se hoogtepunte. Kort daarna, op 25 Augustus, gaan die manne weer vir inwoners ‘n lekker kuiergeleentheid gee deur vir Jonathan en Radio Raps terug te nooi na Louis Trichardt.

Smit sê dat hulle enige hulp sal waardeer en dat jongmans tussen die ouderdom van 18 en 40 jaar welkom is om by hulle aan te sluit. “Hulle is welkom om een van ons vergadering by te woon en te sien waaroor die Tafelronde werklik gaan,” het Smit gesê. Vir meer inligting hieroor kan hy geskakel word by tel. 082 817 5594.

Intussen het Smit almal bedank wat die afgelope naweek se gholfdag ‘n sukses gemaak het. So ook het hy die wenspan, bestaande uit Jacques Crafford, André Coetzee, Daniël Coetzee en Heine Swanepoel, gelukgewens.

 
 
 

Viewed: 731

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Broers Dirk (links) en Rudi Meissenheimer, beide ook Tafelaars, swoeg agter die potjiekospotte tydens Tafelronde Zoutpansberg 66 se jaarlikse gholfdag die afgelope naweek. Op 9 Junie maak die Tafelaars weer potjie, dié keer vir die honderde deelnemers aan die jaarlikse Kremetart Fietswedrenne. Foto verskaf.

Die wenners van Tafelronde Zoutpansberg 66 se gholfdag die afgelope naweek by die Soutpansberg Gholfklub was die 4-bal alliansie span van Jacques Crafford, André Coetzee, Daniël Coetzee en Heine Swanepoel. Voor staan Daniël. Agter, van links na regs, is Jacques, André, Heine en Hendré Labuschagne (organiseerder). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT