ADVERTISEMENT:

 

 
 

Marno van Zyl van Hoërskool Louis Trichardt in aksie tydens die Akkedis 70 km-wedren die afgelope naweek. Hy het algeheel derde geëindig in die wedren en was die tweede Elite-man oor die eindstreep.

Fietsryers kou harde bene tydens Akkedis

Date: 17 August 2018 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg met sy pragtige natuurskoon het die afgelope naweek weer gasheer gespeel vir die Akkedis Bergfietsuitdaging, maar vir baie deelnemers was daar nie regtig tyd om die natuurskoon te bewonder nie.

Die uitdaging, wat ingesluit het ‘n 15 km-, 35 km- 70 km-wedren, is Saterdag weer na ‘n jaar se afwesigheid van die fietsrykalender in die Hanglip-plantasie buite Louis Trichardt aangebied. Die wedren het in sy kort bestaan ‘n reputasie opgebou as een van die moeilikste bergfietsuitdagings op die fietsrykalender en Saterdag was weer geen uitsondering nie. Talle deelnemers het ná afloop van die 35 km- en 70 km-wedrenne opgemerk dat mens nie ‘n sin vir humor nodig het tydens die wedrenne nie, jy kan sommer iemand anders s’n optel wat dit verloor het. Tog is die moeilikheidsgraad van die Akkedis ook dit wat hom gewild maak.

In die 70 km-wedren het ‘n veld van 25 langasem fietsryers vroegoggend weggespring. Amper die helfte van hulle sou eers vyf ure later weer die eindpunt sien, met ses deelnemers wat net meer as ses ure in die saal was.

Om lank in die saal te sit, was beslis nie die algehele wenner, Alan Gordon van Tzaneen, se plan van aksie nie. Hy het die res van die veld ernstig stof in die oë geskop en die moordende 70 km in ‘n blitsige tyd van net drie ure, veertien minute en 58 sekondes voltooi. Sowat ses minute later het Brand du Plessis oor die eindstreep getrap in drie ure, 21 minute en 20 sekondes. Die derde plek het gegaan aan plaaslike ryer Marno van Zyl. Hy het die 70 km in ‘n tyd van vier ure, vyf minute en 39 sekondes voltooi en was ook die tweede Elite man tuis. Van Zyl sou na die tyd opmerk dat dit een van sy moeilikste wedrenne ooit was.

Wat die vroue betref, was daar geen kompetisie vir Wilmarie du Plessis, wederhelfte van Brand, nie. Sy het algeheel sewende geëindig in die wedren en was die eerste vrou tuis in ‘n tyd van vier ure, 16 minute en 31 sekondes. Theresia Lessing was tweede in ‘n tyd van vier ure en 40 minute, gevolg deur Louwrina Dando in vyf ure, 21 minute en 25 minute.

Die enigste ander plaaslike fietsryer wat kans gesien het vir die 70 km was Jernay Mcleod. Haar tyd was ses ure, een minuut en 10 sekondes as eerste vrouemeester oor die eindstreep.

Heelwat meer plaaslike ryers het kans gesien vir die 35 km-wedren. Die algehele top drie posisies het egter gegaan aan besoekers. Die wedren is gewen deur Sheldon Muller in een uur, 45 minute en agt sekondes. Broers Benjamin en Joshua Baber wat Waterberg was onderskeidelik 2de en 3de in een uur, 46 minute en 53 sekondes en een uur, 47 minute en 36 sekondes. Louis Trichardt het darem ‘n plek op die podium gehad in die algehele vroue afdeling, met Hoërskool Louis Trichardt se Christelle Coetzer wat algeheel tweede was in twee ure, 14 minute en 18 sekondes. Sy was ook die tweede junior meisie. Anna Guitierrez van Stanford was eerste in twee ure, ses minute en vyf sekondes, met Stanford spanmaat Lara Dando derde in twee ure, 17 minute en 16 sekondes.

Ander plaaslike ryers wat podiumplekke in hul kategorieë ingepalm het, was Wessel Furstenburg (tweede o.14 seun), Eliz-Marie Pretorius (eerste o.14 meisie), Marko Roets (derde Elite man) en Jessica Taylor (tweede o.14 meisie).

Wat die jongspan betref wat die 15 km-wedren gery het, het Louis Trichardt se ryertjies goed gevaar. Eleen Furstenburg was derde in die meisies o.12-afdeling, Catelyn de Beer vierde in dieselfde afdeling, Mieke Veldman derde in die meisies o.14-afdeling, Gerhard Furstenburg vyfde in die o.10-afdeling en Jacques du Preez tweede in die o.14-afdeling.

(Vir volledige uitslae, besoek www.webscorer.com).

 
 
 

Viewed: 541

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Hoërskool Louis Trichardt se Eliz-Marie Pretorius was die eerste o.14-meisie oor die eindstreep tydens die 35 km Akkedis-wedren die afgelope naweek.

Die algehele vrouewenners van die 35 km Akkedis wedren die afgelope naweek was, van links na regs, Christelle Coetzer (tweede), Anna Guitierrez (eerste) en Lara Dando (derde).

Die wenners van die Akkedis 70 km-wedren die afgelope naweek was, van links na regs, Marno van Zyl (derde), Alan Gordon (eerste) en Brand du Plessis (tweede).

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT