ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt sterkman Leon le Roux het ná afloop van die naweek se Africa’s Strongest-kampioenskap in Rustenburg weggestap met die titel van sterkste man in sy gewig- en ouderdomsgroep, die onder 105 kg Pro Master-afdeling. Foto verskaf.

Plaaslike sterkman nommer een in Afrika

Date: 01 December 2018 By: Andries van Zyl

Dit is amptelik - plaaslike sterkman Leon le Roux is ná afloop van die afgelope naweek se Africa’s Strongest-kampioenskap die sterkste man in sy ouderdomskategorie in Afrika!

Dit was behoorlik ‘n “dream-come-true” ervaring vir hierdie 45-jarige adjudant offisier van Lugmagbasis Makhado.

Die Africa’s Strongest-kampioenskap het vanaf 23 tot 25 November by Malichri Lodge in Rustenburg plaasgevind. Le Roux vertel self: “Ek het deelgeneem in die onder 105 kg Pro Masters-kategorie, maar die Masters-groep was te klein. Toe het ek maar saam met die jong manne deelgeneem.”

Le Roux, wat geen bekendstelling aan die podium nodig het nie, se dae, weke en jare se harde werk in die gimnasium het vrugte afgewerp. Alhoewel hy veel ouer is as die meeste deelnemers, het hy ‘n hele paar manne ore aangesit. “Ek het selfs in ‘n paar items die jong manne geklop,” het Le Roux gesê.

Leon se deelname aan die kampioenskap het Vrydag begin met ‘n Dead Lift en Log Press.  “In die Dead Lift kon ek 240kg optrek en in die Log Press ‘n 110 kg-gewig,” het Le Roux gesê.

Daar was maar min rus vir die manne en Saterdag het Le Roux weggespring met die Yoke-item. Dit is waar ‘n gewig van 400 kg oor ‘n afstand van 25 meter teen tyd gedra moet word. “Ek het dit in 48 sekondes gestap. In die Tyre Flip kon ek die 350 kg buiteband agt keer flip in 44 sekondes,” het Le Roux gesê.

Volgende aan die beurt was die Kettle Bell-gooi. Dit is waar twee 10 kg-, twee 12,5 kg-, twee 15 kg- en twee 20 kg-gewigte oor ‘n 2,4 meter hoë dwarslat gegooi moet word teen tyd. “Ek het al agt in 45 sekondes oorgegooi,” het Le Roux gesê.

Sondag is die atlete se bene behoorlik getoets met ‘n 9-ton Truck Pull en die altyd uitdagende Atlas Stone-item. Le Roux kon die vragmotor in 58 sekondes oor die voorgeskrewe afstand trek, maar toe het die noodlot hom getref – ‘n spierbesering met die Atlas Stone-item.

Tog het Le Roux teen daardie tyd al genoeg punte ingesamel. “Dit het aan my ‘n eerste plek besorg in die onder 105 kg Pro Masters-afdeling in Afrika!” het Le Roux gesê.

Volgens Le Roux was die voorafgaande drie dae lank en uitputtend, maar sy eerste plek het alles beslis die moeite werd gemaak. “Ek wil dankie sê aan my wonderlike vrou, Marihan, wat my so ondersteun en bygestaan het met elke oefensessie en kompetisie.  Dankie, my skat, jy is awesome. Dankie ook aan my afrigter, Francois van Zyl. Hy het my die laaste vier maande gedruk en gebreek en opgebou. Hy het my gehelp om die titel te vat,” het Le Roux gesê. Hy het ook sy opregte dank uitgespreek teenoor die personeel van LMB Makhado vir hulle ondersteuning en bystand. “Veral Pauls Body Shop se komitee. Baie dankie vir almal, en ek is reg vir die Arnold Classic in 2019,” het Le Roux gesê.

 

 
 
 

Viewed: 648

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Wat die Truck Pull betref, kon Le Roux die 9-ton vragmotor in 58 sekondes oor die voorgeskrewe afstand trek. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT