ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ruan Scheepers, agsteman vir Louis Trichardt se eerstespan, beur oor die doellyn vir ‘n welverdiende drie teen die Harlequins van Pretoria.

Conwaydag lewer fees van rugby

Date: 07 March 2019 By: Andries van Zyl

Vanjaar se Conway Rugbydag was ‘n geskiedkundige gebeurtenis, met ‘n fees van rugby wat nie teleurgestel het nie.

Dit was geskiedkundig in dié opsig dat dit die eerste rugbywedstryde was wat op die Louis Trichardt Rugbyklub se nuwe velde beslis is sedert die klub vanaf hul ou perseel verskuif het om plek te maak vir ‘n nuwe winkelkompleks.

Saterdag, 2 Maart, het skolerugby die program vanaf vroegoggend oorheers. Louis Trichardt se o.14-span het belowend en talentvol gelyk en Mitchell House geklop met 24 punte teenoor 17. Triegies se o.15’s het egter vasgeval teen Hoërskool Eric Louw, met die Louwtjies wat uiteindelik 32-15 koning gekraai het. Insgelyks het Triegies se o.16-span bietjie die wind van voor gekry, met die Louwtjies wat ook hier ‘n oorwinning behaal het met ‘n eindtelling van 17-7. Louis Trichardt se eerstespan, oftewel die Witleeus, het egter weer die bordjies verhang in Triegies se guns en hul Louwtjie opponente redelik oortuigend met 31 punte teenoor 17 in ‘n taai en fisieke wedstryd geklop.

Na ‘n kort breek was dit Louis Trichardt se “ou-manne” span wat teen Letaba se derdespan uitgedraf het. Die ou manne sou aanvanklik die voorwedstryd gespeel het vir die dorp se eerstespan in hul kragmeting teen die eerstes van die Harlequins Rugbyklub in Pretoria, maar aangesien die Harlequins se tweedespan onttrek het, is die wedstryd vroeër gespeel.

Die dorp se “ou manne” het Saterdag gewys dat hulle steeds baie, baie talent het en die wedstryd was effens eensydig, met Louis Trichardt met gereeld agter Letaba se doellyn gaan kuier het. Letaba het op hulle beurt het geen antwoord gehad vir Louis Trichardt se meedoënlose aanvalle en harde duikslae nie, soveel so dat Letaba kort ná die begin van die tweede helfte gevra het dat die wedstryd gestaak moet word.

Louis Trichardt se tweedes het daarna, in stede van Harlequins se tweedes, teen Letaba se eerstespan uitgedraf. Hulle was egter van meet af aan op die agtervoet, met die veel sterker Letaba eerstespan wat redelik gemaklik gapings in Louis Trichardt se verdediging uitgebuit het om agter die doellyn te gaan kuier. Louis Trichardt het ‘n dapper geveg opgesit, tot met die blaas van die eindfluitjie, maar dit was nie genoeg om Letaba te verhoed om hulle 46-7 te stoomroller nie.

Die hoogtepunt van die dag was Louis Trichardt 1 teen Harlequins 1 en dié wedstryd het beslis nie teleurgestel nie. Ten spyte daarvan dat talle geglo het die “veel sterker” Pretoria-span gaan oor Louis Trichardt loop, het Louis Trichardt vir ‘n groot deel van die wedstryd vir Harlequins drie vir drie geëwenaar. Die groot verskil was dat Louis Trichardt maar bietjie gesukkel het met die skopskoen. Louis Trichardt kon nie een van hulle eerste drie drieë verdoel nie. In teenstelling daarmee, het Harlequins al drie hulle eerste drieë verdoel en stadig maar seker het die voorsprong gegroei.

Tot diep in die tweede helfte was dit steeds enige iemand se wedstryd. Harlequins het egter die voet op die versneller gedruk en, danksy ‘n vinnige paar drieë in die doodsnikke van die wedstryd, het die telling op 42-27 gestaan in Harlequins se guns.

Die voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, Kevin Gilbert, het gesê die dag was ‘n groot sukses. “Daar was lekker baie ondersteuners en ons het goed gedoen by die hekke,” het hy gesê. Hy het elkeen bedank wat op welke wyse ook al bygedra het tot die dag se sukses.

 
 
 

Viewed: 539

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Louis Trichardt se eerstespan losskakel, Nollie Davel, duik oor die doellyn vir ‘n drie in hul kragmeting teen Harlequins van Pretoria tydens die jaarlikse Conway Rugbydag.

Jaco Ceronio, stut vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan, in aksie tydens die dorp se wedstryd teen Harlequins 1 van Pretoria die afgelope naweek. Harlequins het die wedstryd 42-27 gewen.

Rulke Pieterse (links) en Jacques Jordaan (regs) van Louis Trichardt se tweedespan spook vir die bal in hul wedstryd teen Letaba se eerstes.

Duncan Moodie van Louis Trichardt se tweedespan op volle spoed tydens hulle wedstryd teen Letaba se eerstes die afgelope naweek. Letaba was net te sterk vir Louis Trichardt en het 46-7 gewen.

 

Louis Trichardt se Willem Martin word hard grond toe gebring in die dorp se tweedespan kragmeting teen Letaba 1 as deel van die jaarlikse Conway Rugbydag.

Louis Trichardt se “ou manne” het Saterdag tydens die jaarlikse Conway Rugbydag dat hulle nog baie talent het. Die “ou manne” het Letaba se derdes aangedurf, met Letaba wat in die tweede helfte gevra het dat die wedstryd moet stop. Louis Trichardt het met reëlmaat agter die doellyn gaan kuier en ‘n wegholoorwinning behaal. Afgeneem (van links na regs) is Bertie Swanepoel en Louis van Staden wat ‘n duikslag op ‘n Letaba-speler uitvoer, terwyl Lian Nel toekyk.

Spelers van Letaba se derdespan probeer vir Jaco Esterhuizen, wat vir Louis Trichardt se “ou manne” uitgedraf het, stuit. Links agter is Kevin Gilbert, voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, wat ook deel was van die “ou manne” se span. Hulle het ‘n wegholoorwinning behaal.

Binnesenter vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan Ludwig Gossman op die aanval in hul wedstryd teen Harlequins tydens die jaarlikse Conway Rugbydag.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT