ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alan Gordon (voor) en CP van Wyk van die Insect Science Pro-span in aksie tydens Dinsdag se tweede skof van die Absa Cape Epic. Foto: Ralda van Wyk.

CP en Alan byt vas in Cape Epic

Date: 21 March 2019 By: Anton van Zyl

Selfs ‘n gebreekte wiel en ‘n pap band kon nie die Insect Science Pro-span se moed Woensdagoggend breek nie en hulle het teruggeveg om algeheel 33ste te eindig na afloop van die derde skof van die moordende Absa Cape Epic bergfietswedren.

Die Insect Science Pro-span is die nie-amptelike “Limpopo-span” wat aan dié marathon-resies deelneem. Die span bestaan uit oud-Triegie CP van Wyk en Alan Gordon van Tzaneen. Alhoewel CP deesdae in Stellenbosch woon, het hy op Louis Trichardt grootgeword en het hy hier ‘n fietsrylegende geword.

CP en Alan skuur tans skouers met die wêreld se beste bergfietsryers tydens die Cape Epic, wat beskou word as een van die taaiste bergfietswedrenne ter wêreld. Jaarliks lok dit die room van fietsryers van regoor die wêreld, wat wêreldkampioene soos Nino Schurter van Switzerland insluit. Dit word beslis oor agt dae oor 650 moordende kilometers.

Die Cape Epic het Sondag afgeskop met ‘n 21 km roete wat begin en geëindig het by die Universiteit van Kaapstad. CP en Alan het ‘n billike vertoning gelewer en algeheel 33ste geëindig. Sondag se skof was egter net ‘n voorloper vir die wedren en ‘n geleentheid vir die jaers om gewoond te raak aan die Kaapse berge. Dit is gewen deur Nino Schurter en spanmaat Lars Forster.

Die werklike stryd het Maandagoggend begin en die net meer as 670 spanne het in Hermanus weggespring op ‘n 111 km sirkelroete waartydens die ryers sowat 2 700 meter moes klim. Schurter en Forster het dié skof gewen. CP en Alan was die agste Suid-Afrikaanse span tuis en het geskuif na 36ste op die algehele puntelys. Maandag was ‘n moeilike dag vir Alan, wat erg las gehad het van krampe.

Tydens Dinsdag se skof het die Insect Science Pro-span egter baie gemakliker gery en die 90 km vanaf Hermanus tot by Oak Valley Landgoed in Grabouw in net meer as vier ure voltooi, vir ‘n 30ste plek. Dit het hulle algehele posisie met een plek laat verbeter tot 35ste. “Alan was ongelooflik en het my feitlik gesleep tot by die einde,” het CP na afloop van die skof gesê. CP en Alan het ook hul posisie in die stryd vir die beste Suid-Afrikaanse span verbeter deur op te skuif na die sewende plek.

Woensdag se skof het oor 107 km gestrek en die jaers het onder meer die berugte Groenlandberg aangedurf, wat die hoogste punt in die resies is. CP en Alan het egter reeds vroeg in die resies probleme ondervind toe CP se wiel gebreek het. Met ‘n pap band en gebreekte wiel, moes hulle voortsukkel tot by die waterpunt waar die tegniese span dit kon herstel. Dit het hulle egter baie tyd gekos.

Die Insect Science Pro-span het uiteindelik in die 46ste plek geëindig in bykans vyf-en-‘n-half ure. Die skof het egter sy tol geëis onder talle van die top jaers en heelwat spanne moes onttrek weens beserings en tegniese probleme. Ten spyte van ‘n swakker tyd as waarvoor hulle gehoop het, het hulle algehele posisie opgeskuif na die 33ste plek.

CP en Alan is egter nog vol moed vir die skofte wat voorlê. Donderdag se skof is ‘n baie korter 43 km tydtoets wat begin en eindig by Oak Valley Estate. Vrydag durf die spanne ‘n moordende 100 km roete aan wat eindig by die Stellenbosch universiteit. Saterdag vertrek hulle vroeg op ‘n 89 km roete wat weer in Stellenbosch eindig en Sondag eindig die resies met ‘n 70 km roete tot by die eindpunt by die Val de Vie Landgoed in Stellenbosch.

Die spanne se vordering kan gevolg word deur die webtuiste te besoek by www.cape-epic.com. Daar is ook ‘n baie handige toepassing wat afgelaai kan word vanaf die Google Play Store of Apple se iStore.

 
 
 

Viewed: 347

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Alan Gordon (links) en CP van Wyk van die Insect Science Pro-span afgeneem kort ná die einde van Dinsdag se tweede skof van die Absa Cape Epic. Foto: Ralda van Wyk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT