ADVERTISEMENT:

 

 
 

CP van Wyk en Alan Gordon lyk redelik verlig na die einde van die sesde skof van die Absa Cape Epic. (Foto: Ralda van Wyk)

CP en Alan sukkel op sesde skof, maar steeds 37ste

Date: 23 March 2019 By: Anton van Zyl

Sewe dae se strawwe mededinging oor etlike honderde kilometers het sy tol begin eis op die Insect Science Pro-span en tydens Saterdag se sesde skof van die Absa Cape Epic moes CP van Wyk en Alan Gordon met ‘n 70ste plek tevrede wees. Hulle is egter steeds algeheel 37ste en die 9de Suid-Afrikaanse span.

Saterdag se skof het begin en geëindig in Stellenbosch en is oor 89 kilometer beslis. Soos te verwagte was die roete nie maklik nie en het 2 650m se klim ingesluit. Dit is gewen deur die 7C CBZ Wilier-span bestaande uit Louis Meija en Johnny Cattaneo in ‘n tyd van 03:49:21. Die draers van die geeltruie, Nino Schurter en Lars Forster was kort op hul hakke en het sodoende verseker dat hulle vanjaar bitter moeilik geklop gaan word. Met net een skof oor is hulle net meer as 8 minute voor hul naaste teenstanders, Manuel Fumic en Henrique Avancini.

Die Suid-Afrikaanse spanne het gemengde suksesse behaal tydens Saterdagoggend se skof. Philip Buys en Matthys Beukes, wat Vrydag se skof gewen het, het 26ste geëindig, 35 minute na die wenspan. Die top Suid-Afrikaanse span is dié van Alan Hatherly en Matthew Beers, wat vyfde geëindig het. Hulle is algeheel na die sesde skof ook in die vyfde plek, wat ‘n uitsonderlike prestasie is.

Wat die “Limpopo”-span betref, het CP en Alan hard moes veg om die skof in ‘n billike tyd klaar te maak. Om teen die wêreld se beste fietsryers mee te ding verg al jou energie, vernuf en sommer baie durf. Om dit vir agt dae te doen oor 650 kilometer meer as 16 000 meter se klim, is uitmergelend.

Volgens CP het sy energie al vroeg in die skof min begin raak, sonder enige spesifieke rede. “Ons moet dit maar net agter ons sit en fokus op môre se laaste skof,” het hy na die tyd opgemerk.

Sondagoggend se laaste skof begin weer in Stellenbosch en eindig 70 km verder by die Val de Vie Landgoed in die Paarl. Hulle sal graag hul algehele posisie wil behou of selfs verbeter. Tans is hulle in die negende plek wat die Suid-Afrikaanse spanne betref, en hulle sal bitter graag wil eindig onder die top tien Suid-Afrikaanse spanne.

 
 
 

Viewed: 482

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT