ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die twee Insect Science spanne wat aan die Cape Epic deelgeneem het. Links is Alan Gordon en CP van Wyk, wat die Insect Science Pro-span verteenwoordig het. Regs is Thomas Orchard van Malmesbury en die eienaar van Insect Science, Gerhard Booysen van Tzaneen. Die span van Thomas en Gerhard het algeheel 362ste geëindig, 119de in hul kategorie.

CP en Alan veg terug in Epic vir 35ste plek

Date: 28 March 2019 By: Anton van Zyl

CP van Wyk en Alan Gordon het Sondag hard teruggeveg tydens die Absa Cape Epic bergfietskompetisie en 24ste geëindig in die laaste skof. Dit het aan hulle ‘n algehele 35ste plek besorg en verseker dat hulle onder die top 10 Suid-Afrikaanse spanne geëindig het.

CP, ‘n oud-Triegie wat tans in Stellenbosch woon, en Alan Gordon van Tzaneen het vir die Insect Science Pro-span deelgeneem. Die Cape Epic word beskou as een van die taaiste bergfietswedrenne op die internasionale fietsrykalender en lok jaarliks die top bergfietsryers ter wêreld. Dit word oor agt dae beslis en vanjaar se roete het gestrek oor net meer as 630 kilometer.

Van die 688 spanne wat Sondag, 17 Maart, by die Kaapstadse Universiteit weggespring het, kon slegs 597 klaarmaak. Die eerste dag se resies was grotendeels ‘n opwarmingsrit en voorbereiding vir dit wat sou volg. CP en Alan het die 20 km in net meer as 49 minute voltooi, vir ‘n algehele 33ste plek.

Maandag se skof was oor 111 km en het op Hermanus begin en geëindig. Dit het ‘n strawwe 2 700 m se klim ingesluit. Die skof is gewen deur die wêreldkampioen Nino Schurter en sy Switserse spanmaat, Lars Forster. CP en Alan het 37ste geëindig, wat hulle algehele posisie na 36ste laat skuif het.

Dinsdag se roete was oor 90 km en het vanaf Hermanus tot by die Oak Valley Landgoed in Grabouw gestrek. Schurter en Forster het weer gewen, maar die ander internasionale spanne was kort op hul hakke. Die Insect Science Pro-span het ‘n goeie dag beleef en minder as 24 minute ná die wenners klaargemaak vir ‘n 30ste plek. Hulle was ook die sewende Suid-Afrikaanse span tuis. Dit het hulle algehele posisie ook na die 35ste plek laat opskuif.

Woensdag het die jaers ‘n moeilike 107 km roete in die berge rondom Grabouw aangedurf. Die skof, wat weer by Oak Valley Landgoed geëindig het, is gewen deur Manuel Fumic van Duitsland en sy spanmaat van Brasilië, Henrique Avancini. CP en Alan het ‘n vroeë terugslag beleef toe CP se voorste wiel gebreek het en hulle moes aansukkel tot by die eerste waterpunt waar hulle hulp kon kry. Hulle het egter teruggeveg en 46ste geëindig. Hulle was egter nie die enigste span wat gesukkel het nie en op die algehele punteleer het hulle na die 33ste plek opgeskuif.

Donderdag se vierde skof was ‘n tydtoets, waar spanne oor ‘n 43 km roete teen die horlosie meegeding het. Schurter en Forster het weer gewys hoekom hulle internasionale kampioene is deur die skof te wen. CP en Alan het ‘n baie skaflike 34ste plek verower, net sowat 16:30 stadiger as die wenners. Hulle het egter een plek op die algehele puntestand afgeskuif na 34ste.

Vrydag was een van die moeilikste skofte en die 100 km roete het die jaers tot by Stellenbosch geneem. Die Suid-Afrikaanse Pyga Euro Steel-span, bestaande uit Philip Buys en Matthys Beukes, het die skof gewen, slegs ‘n breukdeel van ‘n sekonde voor Schurter en Forster. Die Insect Science Pro-span het een van die beste vertonings van hul Cape Epic resies beleef en 30ste geëindig. Wat die algehele puntestand betref, het hulle na die 31ste posisie opgeskuif en was die agtste Suid-Afrikaanse span.

Saterdag was egter ‘n dag wat niks reg wou loop vir die twee “Limpopo” jaers nie. CP het na die tyd opgemerk dat daar net nie krag in die bene oor was nie. Die 89 km skof het begin en geëindig in Stellenbosch, maar die fietsryers moes verskeie bergroetes eers baasraak. Louis Meija van Colombia en Johnny Cattaneo van Italië was die wenners, met Schurter en Forster wat bietjie meer as twee minute later klaargemaak het. CP en Alan het dapper voortgestry, maar moes met ‘n 70ste plek tevrede wees. Dit het ook meegebring dat hulle na die algehele 37ste plek teruggesak het.

Die Cape Epic het Sondag in die Paarl geëindig by die Val de Vie Landgoed. Die skof vanaf Stellenbosch tot in die Paarl was 70 km, met 1 800 m se klim. Dit is gewen deur Spanje se Sergio Mantecon Gutierrez en sy Tseggiese spanmaat, Ondrej Cink. CP en Alan het 24ste geëindig, net meer as 17 minute ná die wenners. Hulle was ook die sesde Suid-Afrikaanse span by die eindstreep.

Sondag se goeie vertoning het ook beteken dat hulle algeheel met twee plekke opgeskuif het na die 35ste plek, 32ste in hul kategorie. Hulle het negende geëindig in die stryd om die beste Suid-Afrikaanse span.

CP was na afloop van die resies vol lof vir sy spanmaat, Alan Gordon. “Dit was ‘n wonderlike ervaring en ek hoop ons kan binnekort weer aan ‘n resies deelneem,” het hy gesê. Hy het ook die vriende en familie bedank wat voortdurend boodskappe van steun gestuur het.

 

 
 
 

Viewed: 539

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT