ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die erg beseerde tannie Joekie (80) kort nadat sy in die hospitaal opgeneem is. Sy het merkwaardig herstel ná ‘n operasie om die skade aan haar hande te probeer herstel, tot so ‘n mate dat sy Woensdag dalk al uit die hospitaal ontslaan kon word. Foto verskaf.

Dit gaan goed met ma en seun na wrede aanval

Date: 31 May 2019 By: Andries van Zyl

Beide die 80-jarige tannie Joekie Nortjé en haar 62-jarige seun Johan kan gelukkig wees om te leef, nadat hulle Maandagoggend wreed aangeval is op die familie se plaas Nooitgedacht net buite Louis Trichardt.

“In hierdie stadium gaan dit baie goed met hulle,” het tannie Joekie se ander seun, Dippie, Woensdag gesê. Inteendeel, dit het so goed gegaan dat daar al sprake was dat tannie Joekie uit die Tzaneen MediKliniek ontslaan kon word. Daar was ook goeie nuus oor Johan. Weens bloeding op die brein was daar ernstige onsekerheid oor hom. Volgens Dippie het hy egter Woensdagoggend ‘n oproep ontvang van sy broer om te hoor hoe dit gaan.

Die aanval op tannie Joekie en Johan het Maandag omstreeks 10:30 op die plaas langs die ou kommandoskietbaan plaasgevind. Baie inwoners sal egter die plaas beter ken as Die Skuur, wat jarelank ‘n gewilde kuierplek en onthaalsaal was.

Vyf mans in ‘n wit bakkie het blykbaar op die plaas opgedaag onder die voorwendsel dat hulle varke wou koop. Johan, wat besig was om ontbyt saam met sy ma te geniet, het aanvanklik hul huishulp gevra om die mans na die varkhok te neem. Toe sy egter nie terugkom nie, het Johan besluit om te gaan ondersoek instel. In daardie stadium is hy oorrompel. Hy is sleg oor die kop geslaan met ‘n ysterpyp, waarna sy hande agter sy rug aan sy enkels vasgemaak is. ‘n Emmer is ook oor sy kop geplaas. Die huishulp en nog ‘n plaaswerker is ook vasgebind en geslaan, maar glad nie so ernstig soos Johan nie.

Tannie Joekie is by haar agterdeur oorval. Die een aanvaller het haar met ‘n windbuks wat hy in die huis gekry het, gedreig. “Hy het kort-kort gevra waar hy haar moet skiet, in die maag of wat? Sy [tannie Joekie] het egter gesien dit was net ‘n windbuks en het besluit om terug te baklei,” het Dippie gesê.

Tannie Joekie en die man het baklei-baklei deur die huis gevorder. Intussen het meer en meer van die aanvallers hulle by die geveg in die huis aangesluit. Hulle het alles omgekeer op soek na geld.

Tannie Joekie en haar aanvallers se geveg het hulle tot op die voorstoep gebring. “Hulle het herhaaldelik gesê hulle soek geld. Sy het telkens vir hulle gesê sy het nie geld nie en dat sy dit vir hulle sou gee as sy gehad het,” het Dippie gesê.

Met al die gespook het tannie Joekie baie ernstige snywonde opgedoen. Sy is ook met haar eie panga bygekom wat sy op die stoep gegryp het om haarself te beskerm. Daarbenewens het die aanvallers haar ook met die kolf van die windbuks teen die kop geslaan.

In ‘n stadium kon tannie Joekie daarin slaag om van haar aanvallers weg te kom na ‘n woonstelletjie langs die huis. Dit was blykbaar ook toe dat die aanvallers besluit het daar was nie regtig iets om te steel nie en hulle het gevlug. Die hele nagmerrie het sowat 15 minute geduur.

‘n Erg beseerde en bebloede tannie Joekie kon per telefoon hulp ontbied. Dippie was binne minute eerste op die toneel. “Toe ek op die toneel kom, sien ek ‘n blou figuur teen die heining lê, en dit was toe my broer,” het Dippie gesê. Hy het bygevoeg dat Johan glad nie lekker kon praat nie. “Elke keer as ek hom gevra het waar is Ma, was al wat hy kon sê: ‘In die huis…’” het Dippie gesê. Kort daarna het hy sy ma gekry.

Lede van die polisie, dorps- en plaaswag was vinnig op die toneel. “Ek is baie dankbaar vir die mense wat so vinnig op die toneel was,” het Dippie gesê.

Tannie Joekie en Johan is na die Zoutpansberg Privaathospitaal gejaag. Daar is hulle toestand gestabiliseer. Tannie Joekie is toe oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen, terwyl Johan oorgeplaas is na die MediKliniek in Polokwane. In daardie stadium kon Johan nie praat nie en kon hy niemand onthou nie. Weens die bloeding op die brein en die gepaardgaande swelling kan medici hom nie skandeer om die omvang van die skade te bepaal nie.

Teen Dinsdag het Dippie laat weet dat die dokters suksesvol was om die skade aan sy ma se hande tydens ‘n operasies te herstel so goed as wat hulle kon. Johan is intussen na sy seun in Pretoria waar hy eers moet herstel alvorens medici op 12 Junie ‘n breinskandering kan doen. Soos genoem lyk dinge egter nie sleg vir Johan nie, aangesien hy Woensdagoggend met Dippie wou praat. “Hy sukkel nog om te praat, maar hy begin darem onthou,” het Dippie gesê.

Dippie is dankbaar oor hoe dinge uitgedraai het, ongeag die brutaliteit van die aanval. “As ek my ma kan aanhaal: Sy het gesê sy wonder wat sou gebeur het as sy nie by ‘n telefoon kon uitkom nie. Sou sy nie kon nie, dan was sy dood. Ek volstaan daarby dat die hand van die Here is wat bewerk het dat sy kon hulp ontbied,” het Dippie gesê.

Oor die toekoms vorentoe sê Dippie het hulle nog nie regtig daaroor gepraat nie. Hy sê sy ma-hulle bly nou al meer as 40 jaar op die plaas. “Sy het nog nooit enige begeerte gehad om te trek nie. Ná dese weet ek nie,” het Dippie gesê. Hy het bygevoeg dat sy ma-hulle die laaste tyd getreiter is met diefstalle.

Wat betref tannie Joekie se ervaring van die nagmerriegebeure het Dippie gesê sy ma is glad nie bitter nie. “Ek ken haar nou al vir 60 jaar, want ek is 60 jaar. In my 60 jaar het ek nog nooit haar ‘n kragwoord gehoor sê nie. Sy sal iemand kan slegsê dat die see hulle nie kan afwas nie, maar sy sal nie ‘n kragwoord gebruik nie. Wat ek van haar admireer is dat sy, met al hierdie dinge wat gebeur het, haarself gebly het. Sy is nie ‘n haatdraende tipe mens nie. Sy sal nie haar beginsels oorboord gooi as gevolg van hierdie [gebeure] nie,” het Dippie gesê.

 Intussen het die polisie bevestig dat een verdagte in verband met die aanval Maandagaand in die Tshikota-woongebied aangekeer is. Teen druktyd was daar nie sekerheid of hy al in die hof verskyn het nie. Vir die interim gaan tannie Joekie eers bietjie by haar een dogter, Susan, in Alberton bly om te herstel. Johan is reeds by sy seun, ook Johan, in Pretoria. “Om op te som, dit gaan eintlik baie goed,” het Dippie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2011

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Ouer foto van die nou 62-jarige Johan Nortjé. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT