ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dave afgeneem op 27 Desember 2016, 10 km suid van Solitaire, toe hy Namibië van suid na noord deurkruis het. Foto verskaf. 

Avonturier Dave durf dorre Kaokoveld aan

Date: 09 January 2020 By: Andries van Zyl

Avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt laat beslis nie toe dat stof in die hangkas op sy stapstewels vergader nie en het reeds sy volgende uitdaging aangepak – om man-alleen deur die afgeleë en dorre Kaokoveld in die noorde van Namibië te stap.

Inwoners van die Soutpansberg is nou al welbewus van die 62-jarige Dave se epiese staptogte om bewusmaking teen wildstropery, veral renosterstropery, te kweek. Begin verlede jaar het hy sowat 1 300 km gestap vanaf Ruacana op Namibië se noordgrens tot by die Victoria Valle in Zimbabwe. Aan die einde van 2016 het hy Namibië van suid na noord deurgestap vanaf Roshi Pinah tot by die Kunene-rivier, ‘n staptog wat hom twee maande, vier dae en twaalf ure geneem het. Voor dit, in 2015, het hy sy eerste groot staptog aangepak deur vanaf Pretoria tot in Kaapstad te stap. Dave se aanvanklike motivering om te begin stap was ‘n persoonlike uitdaging wat hy aan homself gestel het. Dave het vir jare aan ‘n baie pynlike siekte gely wat sy rug aangetas het. Dit was so erg dat hy baie sterk pynstillers moes drink om net deur die dag te kom. Hy het toe vir homself belowe dat as hy sou herstel, wat hy wel het, hy graag deur Suid-Afrika sou wou stap om ‘n pynvrye lewe te vier.

Dave het Dinsdag vinnig by die Zoutpansberger ingeloer. Hy het gesê hy beplan om tussen 18 en 20 Januarie weer by Ruacana weg te spring, oor Van Zyls Pas via plekke soos Marienfluss, Puros en Palmwag tot by Kamanjab (wat “klipperige plek” beteken) - ‘n afstand van sowat 800 km.

Klipperig gaan die stap beslis wees, tot so ‘n mate dat sy getroue “metgesel”, die Bart Mobile, oorgebou moet word. Hierdie driewiel sleepwaentjie het hom op al sy vorige staptogte vergesel. “Die grootste verandering aan die Bart Mobile ‘Merk 2’ sal wees dat dit nou ‘n tweewiel sleepwaentjie gaan wees. Die driewiel val te maklik om en Van Zyls Pas gaan te rof wees vir ‘n driewiel sleepwaentjie,” het Dave gesê. (Van Zyls Pas word gereken as een van die steilste en gevaarlikste 4x4-roetes in Namibië).

Nog ‘n groot “verandering” sal wees dat Dave dié keer feitlik al sy proviand sal moet saamdra, aangesien daar in hierdie afgeleë deel van Namibië nie baie supermarkte is nie. Wat water betref, het Dave gesê, het hy tydens sy verkenning van die roete met die bekende Himba-stam van die area gereël om water aan hom te voorsien.

Ter voorbereiding vir die staptog het Dave gesê dat hy Maandag sy nuwe Merrell-stapstewels aangetrek het om hulle te begin instap. “Ek verkies Merrell. Vir my hou hulle die heel beste. Ek kry so ‘n 1 000 km uit hulle uit,” het Dave gesê.

Dave het gesê hy vat ook hierdie keer ‘n klein hommeltuig (drone) saam om sy staptog te dokumenteer. “Ek gaan ook probeer om soveel moontlik van die klipmannetjies op te spoor.” Hy verwys na die tientalle klipmannetjies wat deur iemand, blykbaar ‘n kunstenaar, in die Kaokoveld opgerig is en nêrens anders nie. Tot vandag toe is die werklike oorsprong en doel van die “beelde” steeds in geheimsinnigheid gehul.

Soos met sy vorige staptogte sal Dave se hooffokus weer wees bewusmaking teen stropery. Hy sal ook weer met ‘n sender toegerus wees waarmee sy vordering gemeet kan word. Die Zoutpansberger sal ook sy vordering volg.

 

 
 
 

Viewed: 2255

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Avonturier Dave van Graan en sy Bart Mobile, afgeneem voor die Voortrekker Monument vanwaar hy op 10 November 2015 weggespring vir sy eerste stap van 2 100 km tot in Kaapstad. Foto verskaf.

Dave het op 15 Januarie 2019 vanaf Ruacana op die Namibiese noordgrens na die Victoria Valle in Zimbabwe begin stap. Afgeneem saam met hom en sy Bart Mobile is vriend Frank van Zyl kort voor sy begin. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT