ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Droom het verlede week vir plaaslike kragman Leon le Roux waar geword met die nuus dat hy uitgenooi is om deel te neem aan die 2021 World Strongest Man-kompetisie in Amerika. Foto: Fitness Photo.

Leon op pad na World's Strongest Man

Date: 02 October 2020 By: Andries van Zyl

‘n Droom het verlede week vir plaaslike kragman Leon le Roux waar geword met die nuus dat hy uitgenooi is om deel te neem aan die 2021 World's Strongest Man-kompetisie in Amerika.

“My plan was om op 50 aan my laaste kompetisie deel te neem en uit te tree uit die sportsoort, so om uiteindelik die uitnodiging te kry, is vir my awesome!” het hierdie 47-jarige adjudant-offisier van LMB Makhado gesê. Volgens hom was sy droom en mikpunt nog altyd om na die Wêreld Sterkmankompetisie uitgenooi te word.

Leon het verlede Woensdag die uitnodiging ontvang, iets waarvoor hy die afgelope 11 jaar gewerk het. “Om op te som, dit was bloed, sweet, trane en geskeurde spiere ... Net Saterdae rus ek bietjie. Die ander ses dae van die week is ek elke dag tussen ‘n uur-en-‘n-half en twee ure in die gimnasium. Ek het al my kuit geskeur, asook my bisepspier ... Jou liggaam vat nogal ‘n beating. Ek was so ‘n rukkie terug weer by die siekeboeg om X-strale te neem en ja, die ruggraat is maar skeef. My afrigter sê daardie goed gebeur maar met ouderdom,” het Leon glimlaggend gesê.

Wat ouderdom betref, het Leon redelik “laat” aan die sportsoort begin deelneem. Volgens hom begin deelnemers so jonk as 18 jaar al deelneem. “Op 25 peak hulle en oop 35 los hulle gewoonlik die sport,” het Leon gesê. Leon het egter eers op die ouderdom van 36 in die sportsoort begin belangstel nadat ‘n vriend van hom, Andries de Beer, hom oorreed het om aan sy eerste plaaslike sterkmankompetisie deel te neem. Leon sal dus een van die oudste deelnemers by die Wêreld Sterkmankompetisie wees. “Maar dit is nie ‘n issue vir my nie,” het Leon gesê.

Maar hoe het dit gekom dat Leon uiteindelik die uitnodiging gekry het waarvoor hy so lank gewag het? “Jy kry nie jou uitnodiging omdat hulle jou jammer kry nie. Hulle gaan kyk na jou laaste twee of drie jaar se prestasies, en daarvolgens kry jy jou uitnodiging,” het Leon gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Leon verduidelik dat hy deelgeneem het aan die jaarlikse Arnold Classic en Africa’s Strongest Man kompetisies. “As jy tydens die Arnold Classic ‘n eerste plek kry, dan word jy genooi. By die Africa’s Strongest Man word die eerste twee plekke genooi. Ek is genooi omdat ek tydens beide die 2018 en 2019 Africa’s Strongest Man kompetisie eerste was in my klas,” het Leon gesê. Hy het verwys na die onder 105-kg klas waar hy in die meestersafdeling (oor 40 jaar) deelneem. Die Wêreld Sterkmankompetisie het egter nie ‘n meestersafdeling nie. “Hulle het my toe genooi om saam met die jong ouens in die onder 105-kg klas deel te neem,” het Leon gesê.

Buiten vir sy prestasies tydens die Africa’s Strongest Man-kompetisie was daar ook ander hoogtepunte vir Leon die afgelope paar jaar in sy loopbaan. “In 2015 het ek saam met die jong outjies deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse sterkmankampioenskappe en algeheel sewende in die land geëindig. In Junie hierdie jaar het ons ook aan ‘n virtuele sterkmankompetisie deelgeneem waar ons ‘n Dead Lift en Log Press moes doen. Die beoordelaar het jou op WhatsApp video geskakel, waarna jy jou optelle (lifts) moes doen. Daar het ek in die meestersklas nuwe Suid-Afrikaanse rekords opgestel vir beide die Dead Lift en Log Press,” het Leon gesê.

Die spreekwoordelike kersie op die koek bly egter sy uitnodiging om aan die Wêreld Sterkmankompetisie deel te neem. “Vir seker het ek hard gewerk hiervoor. ‘n Ou hou maar nie op nie, en elke keer as jy ‘n persoonlike beste by ‘n kompetisie opstel, gaan jy terug en werk harder om dit te verbeter,” het Leon gesê. Sy slagspreuk in die lewe is: You work until your idols become your rivals. “Dit is waar ek nou is. Die ouens waarna ek opgekyk het, is nou my teenstanders,” het Leon gesê.

Alhoewel opgewonde oor die uitnodiging, is Leon baie nederig ten opsigte van sy verwagtinge. “Al kom ek heel laaste kan ek sê ek was daar gewees,” het Leon gesê. Hy is dankbaar teenoor almal wat sy droom help bewaarheid het. “As dit nie vir Andries de Beer was wat my in 2009 omgepraat het om met die sportsoort te begin nie, sou ek dit nooit begin het nie. Dit was harde werk. Die laaste twee, drie jaar het my vrou Marihan my geweldig ondersteun. My afrigter Francois van Zyl het my laat klippe kou en bloed laat sweet,” het Leon gesê.

Die Wêreld Sterkmankompetisie word vanaf 12 tot 14 November 2021 te Daytona Beach in Florida, Amerika, aangebied, maar daar is nog net een struikelblok in Leon se pad. “Ek wil bitter graag gaan. Ek het klaar vir die mense in Amerika laat weet ek kom, so mens moet maar net werk maak daarvan om borgskappe te kry,” het Leon gesê. Hy het bygevoeg dat hy so vinnig uitgewerk het dat dit hom ongeveer R60 000 sal kos om te gaan.

 

 
 
 

Viewed: 2346

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Kragman Leon le Roux en sy vrou Marihan het bietjie pret saam. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT