ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike sterkman Leon le Roux (regs) en sy kleinneef Heine de Jager (links) het op 5 en 6 Desember deelgeneem aan die Africa Strongman 2020-kompetisie en beide derde plekke behaal. Dit was Heine se eerste kompetisie, waarvoor hy slegs twee maande geoefen het. Foto verskaf.

Leon en Heine skitter tydens Africa Strongman

Date: 18 December 2020 By: Andries van Zyl

Meeste inwoners is nou reeds goed bekend met plaaslike kragman Leon Le Roux se prestasies, maar dit blyk dat sy kleinneef, Heine de Jager (jnr.), net so vasberade is om opgang in die sterkman arena te maak. Leon en Heine het die naweek van 5 en 6 Desember deelgeneem aan die Africa Strongman-kompetisie in Rustenburg, waar albei met algehele derde plekke uit die stryd getree het.

Vir die 20-jarige Heine was dit ‘n eerste. Maar hoe het dit gekom dat hierdie oud-leerling van Hoërskool Louis Trichardt ook besluit het om aan sterkmankompetisie te begin deel neem? “Aan die begin was dit maar om goed te lyk en fiks te word vir die lugmag,” het Heine aan die Zoutpansberger gesê. Hy is tans besig met opleiding by die lugmag kollege in Pretoria met die doel om ‘n vegvlieënier te word. Sy oom Leon, sy ma Leonie se broer, is reeds etlike jare op Lugmagbasis Makhado gestasioneer.

 So twee, drie maande gelede het Leon hom egter genader en gevra of hy nie saam met hom aan sterkmankompetisies wil begin deelneem nie. “Oom Leon is ‘n legend en ek het vir hom gesê ‘Yes, ek is game’,” het Heine gesê.

Leon het vir Heine ‘n oefenprogram gestuur met wenke oor hoe om te oefen. Die eerste kompetisie was egter nie kinderspeletjies nie. “Dit was baie erger as wat ek oorspronklik verwag het. Dit plaas baie stremming op jou lyf en dit maak nie saak hoe hard jy vooraf geoefen het nie, dit gaan jou steeds vang op die einde van die dag,” het Heine gesê.

Heine het aan ses items in die onder 90 kg beginnerskategorie deelgeneem. Hy sê sy gunsteling item was die Load Race.

Leon is ongelooflik trots op sy kleinneef. “Om op jou eerste kompetisie ‘n derde plek in te palm is beslis nie sleg nie ... Dit was ‘n internasionale kompetisie. Daar was ouens vanoor die hele Afrika kontinent, met ouens van Nigerië, Zambië en selfs ouens van Egipte," het Leon gesê.

Soos genoem het Leon eweneens goed gedoen. “Hierdie jaar is daar drie ouens wat 40 geword het, so hulle het van die 105 kg pro-klas oorgekom na my klas. Dit was dus hulle eerste keer wat hulle saam met my in die onder 105 kg meestersklas deelgeneem het. Daar is dus nou heelwat meer kompetisie vir my en ek geniet dit,” het Leon gesê.

Volgens Leon het hy dit egter bietjie rustig gevat tydens sy deelname in Rustenburg. “Ek het basies net deur die kompetisie ge-cruise, want ek wou my nie seermaak nie. Ek het my gespaar vir volgende jaar dat as ek die fondse kan bymekaarkry, ek kan gaan deelneem aan die wêreldkampioenskap,” het Leon gesê. Hy het verwys na die na Wêreld Sterkmankompetisie wat vanaf 12 tot 14 November 2021 te Daytona Beach in Florida, Amerika, aangebied word. Deelname aan dié kampioenskap geskied slegs op uitnodiging en vir Leon was dit ‘n hoogtepunt in sy loopbaan om in September vanjaar na die kampioenskap uitgenooi te word.

Alhoewel hy dit rustig gevat het tydens die Africa Strongman, het Leon steeds twee van sy afdelings gewen. Hy het ook twee persoonlike bestes opgestel. In die Dead Lift het hy vir die eerste keer 260 kg gelig en in die Apollons Press het hy vir die eerste keer 125 kg bokant sy kop uitgedruk.

Die gogga het egter behoorlik vir Heine gebyt. “Beslis gaan ek aangaan met die sport. Dit is heeltemal iets anders. Die ondersteuning is ongelooflik en die meisies is nêrens so mooi soos by die kompetisies nie,” het Heine skertsend gesê.

Leon en Heine se volgende groot kompetisie is die jaarlikse Arnold Classic in Johannesburg in Mei volgende jaar. “Dit gaan maar moeilik wees, want in Januarie begin ek met offisierskursus. Ek glo egter ons sal genoeg tyd hê om ordentlik voor te berei,” het Heine gesê. Gelukkig beskik die lugmagkollege oor ‘n goed toegeruste gimnasium waar Heine kan oefen. “Oom Leon help tans as my afrigter. As hy volgende jaar ná die wêreldkampioenskap klaarmaak, gaan hy permanent oorvat as my afrigter,” het Heine gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2877

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT