ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Dorp wen ligawedstryd naelskraaps met een lopie

Date: 11 March 2021 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste krieketspan het Sondag, 7 Maart, ‘n naelskraapse oorwinning van slegs een lopie behaal in hul Limpopo Impala Premierliga-wedstryd teen hul opponente van Polokwane, Pan Solution Eagles.

Louis Trichardt het eerste gaan kolf en goed gebruik gemaak van hulle tuisveld voordeel in hierdie 50-beurt wedstryd, met aanvangskolwer Dewald Joubert wat 44 lopies gemoker het van slegs 31 balle voordat sy paaltjie geval het. Sy beurt het ses viere en twee sesse ingesluit.

Dewald is goed ondersteun deur AJ Fourie (25 lopies van 34 balle) en Sahil Patel (30 lopies van 35 balle). Op die stertkant was die enigste ander kolwer wat dubbelsyfers kon aanteken Hussain Patel, wat 38 balle gevat het om sy 11 lopies aan te teken.

Louis Trichardt was almal terug in die paviljoen met die telling op 130 lopies ná 29.3 beurte. Vir die Eagles het boulers Sias Willemse (drie paaltjies vir die verlies van 29 lopies in nege beurte) en Henro van Zyl (drie paaltjies vir die verlies van ses lopies in 3,2 beurte) die beste gevaar. Aakon Landsberg het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van 20 lopies in ses beurte, terwyl Corné Craig en Christo van Zyl elk een paaltjies ingeoes het.

Die Eagles het ook maar gesukkel om aan die gang te kom in hul kolfbeurt. Slegs drie spelers kon dubbelsyfers aanteken, naamlik Fahim Walayat (13 van 22 balle), Drian Kruger (18 van 36 balle) en Sian Willemse (37 van 50 balle) in ‘n kolfbeurt waar slegs 104 lopies van die kolf af gekom het. Louis Trichardt het dit redelik onnodiglik vir hulself moeilik gemaak deur 25 ekstras af te staan, wat 17 wydlopers ingesluit het. Gelukkig vir Louis Trichardt kon hulle die Eagles uitboul met hul telling op 129 na 39 beurte – ‘n een lopie oorwinning vir die tuisspan.

Vir Louis Trichardt het Sahil Patel die beste gevaar met die bal deur drie paaltjies plat te trek vir die verlies van 25 lopies in 10 beurte. Hussain Patel het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van 15 lopies in vyf beurte, terwyl Jandré Hancke, Dewald Joubert en AJ Fourie elk een paaltjie gevat het.

Eerskomende Sondag, 14 Maart, sal Louis Trichardt se eerste krieketspan weer tuisveldvoordeel geniet in hulle volgende Premierliga-bepaling teen die Hornbills. Die wedstryd voldoen aan streng Covid-19 bepalings en geen toeskouers sal ongelukkig toegelaat word nie.

 

 
 
 

Viewed: 1214

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT