ADVERTISEMENT:

 

 
 

Koben Hofmeyr (links) en Johan van Dijkhorst (regs) wat vanaf 9 tot 11 April gaan deelneem aan die MyWayLife 113 Brick Challenge, ‘n halwe Ystermankompetisie. Vir Koben is dit nog ‘n persoonlike mylpaal in sy lewe nadat ‘n rugbyongeluk hom in 2018 verlam gelaat het. Sedertdien werk hy baie hard om die gebruik van sy bene te herwin.

Koben en Johan pak ysterman aan

Date: 26 March 2021 By: Andries van Zyl

So, wat is jou verskoning om nie bietjie aktief te raak nie? Hierdie is weliswaar die vraag wat baie hulself kan afvra, veral as gekyk word na die uitdaging wat Louis Trichardt inwoners Johan van Dijkhorst en Koben Hofmeyr vir hulself gestel het. Dié twee gaan eersdaags aan die MyWayLife 113 Brick Challenge, ‘n halwe Ystermankompetisie, deelneem.

Johan is welbekend in plaaslike fietsry- en onderwysgeledere, maar Koben is weer die een wat die kalklig steel. Die verhaal van hierdie merkwaardige 18-jarige Graad 12-leerling van Hoërskool Louis Trichardt se pad na herstel sedert 19 Mei 2018 dien vir almal as inspirasie om nooit moed op te gee nie. Op daardie noodlottige dag het hy sy nek gebreek tydens ‘n skole rugbywedstryd, wat hom van sy skouers af ondertoe verlam gelaat het. Tog het Koben vasgehou aan sy droom om te kan opstaan uit sy rolstoel en weer te kan loop. En hy het dit grootliks reggekry.

Die Zoutpansberger het verlede Vrydag bietjie tyd spandeer met die twee kort voor hulle volgende oefensessie om voor te berei vir die driekamp. Koben glimlag van oor tot oor en borrel oor van opgewondenheid om te gaan deelneem. Merkbaar afwesig is sy groen rolstoel, Shrek. “Nee oom, hy gaar bietjie stof op. Ek probeer so min as moontlik tyd in hom spandeer,” lag Koben, terwyl hy behendig oor die weg kom met twee krukke.

Die MyWayLife 113 Brick Challenge vorm deel van die 226-uitdaging met dieselfde naam, alhoewel laasgenoemde ‘n vol Ystermankompetisie is. Die uitdaging vind plaas by die Midmardam naby Howick in KwaZulu-Natal, vanaf 9 tot 11 April. Dag een bestaan uit ‘n 1,9 km swem, gevolg deur ‘n 90 km padfietswedren op dag twee en ‘n 21,1 km wedloop op dag drie.

Maar hoe het dit gekom dat Johan en Koben se paaie gekruis het? Volgens Johan het hy so twee jaar gelede die advertensie vir die uitdaging die eerste keer gesien en gedink: Dit sal ‘n lekker ding wees om aan deel te neem! “Toe hy weer opkom ná verlede jaar se grendeltydperk, sê ek vir myself ek gaan dit doen. Ek het toe van die kinders by die skool uitgedaag om saam met my in te skryf, maar niks het daarvan gekom nie,” sê Johan.

Johan vertel dat hy op ‘n dag Koben se pa, Trompie, by die plaaslike korporasie raakgeloop het. “Ons het gepraat en hy sê toe vir my Koben is erg gefrustreerd, want hy kom nie uit nie en daar is geen uitdaging vir hom nie. Dit was toe dat ek vir sy pa vra wat Koben daarvan sal dink om so iets te probeer? Sy pa se antwoord was onmiddellik: ‘Koben sal definitief ja sê’,” sê Johan.

Koben het inderdaad ja gesê en kort daarna het die twee in alle erns begin. “Ons oefen nou al bietjie meer as ses maande. Ons het in Augustus besluit ons gaan deelneem. In September het ons die tandem gekoop,” sê Johan.

Dinge was egter nie maklik nie en feitlike alle aspekte van die oefeninge was vir beide Johan en Koben ‘n uitdaging. “Dit was vir ons almal vreemde water gewees, want nie een van ons het geweet hoe Koben se liggaam gaan reageer nie,” sê Johan. Net om op die fiets te klim, was vir Koben ‘n nuwe leerskool. So moes modifikasies aan die fiets en rolstoel gemaak word. Vir die swem word daar ‘n pull bouy tussen Koben se bene vasgemaak, sodat hy reg in die water kan dryf om te swem. ‘n Spesiale swempak (wetsuit) moes ook gehuur word om sy liggaamstemperatuur in die koue water te help reguleer, omdat sy eie liggaam die vermoë verloor het om dit te doen.  

“Ek gaan die wedloop in Shrek doen,” sê Koben. Wat die fietsry betref, word Koben basies op die fiets “vasgemaak”. “Ons het vir Shrek ‘n stootraam gebou wat vertikaal agter die stoel opstaan. So, meeste van die tyd stoot ek hom. Op kwaai opdraandes help hy om met die hande die wiele te rol en op die afdraandes ‘hardloop’ hy vir my weg,” lag Johan.

Johan en Koben het elke beskikbare tydjie wat hulle gekry het gespandeer om te oefen, maar soms het dinge maar moeilik gegaan met Koben se druk skoolprogram en Johan se werk. Die reën van die afgelope paar weke het hulle bietjie gekortwiek. Wat die draf betref, het hulle sommer in die dorp begin oefen. Hul swembad was die een by die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum en hul fietsrybaan die N1 of die lugmagbasispad.

So, is hulle gereed? “In die begin was ek baie bang gewees. Ek het ‘n groot vrees vir oop water en krokodille. Oom Johan het dit doodeenvoudig uit my uitgedruk om my vrese te oorkom. By tye, veral wat die swem betref, het ek gewonder of ek nie dalk te veel afgebyt het nie. Noudat oom Johan hier op die einde ons vordering beaam, voel ek gemaklik dat ons gereed is. Daar lê egter nog so ‘n bietjie werk voor. Ek is baie opgewonde, want ek het nog nooit aan so iets deelgeneem nie,” sê Koben.

Alhoewel hulle gereed is, kortwiek nog een finale uitdaging die duo – die koste. Volgens Johan het hulle hul uitgawes vir die uitdaging op sowat R10 000 bereken. Die huur van die swempak alleen het hulle R5 000 gekos. “Ja, die pak moet na die tyd teruggegee word,” sê Johan. Modifikasies aan die fiets het ook paar duisend rand beloop. Dan kom reis- en verblyfkostes nog by. Koben se ouers gaan saam om na hom om te sien. “So, enige bydrae sal help om die finansiële las op ons skouers makliker te maak,” het Johan gesê. In dié verband kan donasies inbetaal word in die naam van die Koben Hofmeyr Fonds by Standard Bank rekeningnommer 030 429 854 met verwysing A12166. Die rekening word geadministreer deur Kern & Dekker Prokureurs.

“Ons neem nie deel vir ‘n plek nie. Ons neem deel vir die uitdaging daarvan en vir trots,” het Koben en Johan afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 1732

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT