ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Dorp se kolwers lê lang stele in teen Phoenix

Date: 06 May 2021 By: Andries van Zyl

Die kolwers van Louis Trichardt se eerste krieketspan het behoorlik die lang stele ingelê in hul provinsiale Impala Premier-ligawedstryd teen Phoenix wat Sondag op Louis Trichardt beslis is.

Louis Trichardt se kolwers was in verwoestende vorm gewees. Craig Viljoen op nommer twee het ‘n skaflike 20 lopies van 21 balle aangeteken, terwyl Dirk van den Berg op nommer drie 32 lopies van 42 balle geslaan het. Sahil Patel en Dewald Joubert, wat onderskeidelik op nommer vier en vyf ingekom het, het ook haastig aanstaltes gemaak met die kolf en elk 45 lopies van onderskeidelik 56 en 40 balle af gemoker. En net om sout te vryf in die Phoenix boulers se wonde, het JP Coetzee (nie uit nie) op nommer agt 55 lopies aangeteken vanaf 59 balle, terwyl FC Phillipson op nommer nege 26 lopies aangeteken het. Louis Trichardt is in die 49ste boulbeurt almal uitgeboul, maar nie alvorens hulle ‘n allemintige 272 lopies op die telbord geplaas het nie.

Alhoewel effens aan die duur kant, was Phoenix se beste bouler Jan Borman gewees wat drie paaltjies kon plattrek vir die verlies van 48 lopies in sy toegelate beurte. Spanmaats Hendrik Botes en Ruben Vosloo was eweneens duur gewees en het elk twee paaltjies vir die verlies van onderskeidelik 54 lopies en 73 lopies in hulle 10 beurte ingeoes. Kobus Geldenhuys en Matty Maritz het elk een paaltjie laat kantel.

Alhoewel Phoenix se openingskolwer, Gideon Swanepoel, dapper probeer wal gooi het teen Louis Trichardt se boulaanval, het al Phoenix se kolwers maar bietjie gesukkel. Swanepoel het 36 lopies van 55 balle af geslaan, terwyl Matty Maritz op nommer drie hard moes werk vir sy 15 lopies van 33 balle af. Ná hulle vertrek het die paaltjies egter redelik vinnig gekantel, met slegs André de Beer op nommer sewe en Jan Borman op nommer ag wat nog dubbelsyfers met die kolf kon aanteken. De Beer het 16 lopies vanaf 23 balle af bygedra, en Borman 19 lopies vanaf 24 balle. Louis Trichardt se boulaanval was egter net te goed en Phoenix is in 33.5 beurte uitgeboul met die telling op 119, wat aan Louis Trichardt ‘n 153-lopie oorwinning besorg het.

Feitlik al Louis Trichardt se boulers kon spog met ‘n paaltjie of meer. Craig Viljoen het drie paaltjies vir die verlies van 32 lopies in sy 10 beurte laat val. Sahil Patel en FC Phillipson het elk twee paaltjies platgetrek vir die verlies van onderskeidelik 32 lopies in agt beurte en ses lopies in 1,5 beurte, terwyl JP Coetzee, Dirk van den Berg en Dewald Joubert elk een paaltjie ingeoes het.

Eerskomende Sondag sal Louis Trichardt se eerstes te staan kom teen die Nashua Aces in Polokwane.     

 

 
 
 

Viewed: 1171

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT