ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Besige naweek vir plaaslike krieketspelers

Date: 27 May 2021 By: Andries van Zyl

Twee wedstryde is die afgelope naweek op tuisbodem beslis in die Louis Trichardt Krieketklub se plaaslike 20-beurt liga, met die span van Ridgeway wat albei dae moes speel.

Saterdag het Ridgeway en die Drillers teen mekaar te staan gekom. Ridgeway het eerste gaan kolf maar deurlopend gesukkel om op dreef te kom in ‘n beurt waar slegs openinsgkolwer Craig Viljoen dubbelsyfers kon aanteken met 24 lopies. Hul laaste paaltjie het in die 18de beurt geval met die telling op 79 lopies, wat ingesluit het 18 ekstras wat afgestaan is deur die Drillers se boulers. Vir die Drillers het bouler AC Geldenhuys uitgestaan. Hy het vier paaltjies platgetrek vir die verlies van slegs 11 lopies in 4,4 beurte. Spanmaat Ruben van der Nest het twee paaltjies laat kantel vir die verlies van slegs 8 lopies in twee beurte, terwyl Dian van Tonder, Sean Collett, Francois Jonker en Ruan van Tonder elk een paaltjie ingeoes het.

Drillers se kolwers het nie op hulle laat wag nie, en danksy bydraes van 17 lopies deur openingskolwer M Parkin en ‘n blitsige 37 lopies van slegs 18 balle deur AC Geldenhuys in op nommer vier, het die span die lopieteiken in die 10de beurt verbygesteek met die telling op 81/5, wat aan die Drillers ‘n vyf-paaltjie oorwinning besorg het. Met so ‘n lae lopietelling moes Ridgeway se boulers goed boul en onder omstandighede het hulle goed vertoon deur sleg ses ekstras af te staan. Die span se suksesvolste bouler was Bielie van den Ber,g wat drie paaltjies laat kantel het vir die verlies van 19 lopies in drie beurte. Craig Viljoen het op sy beurt twee paaltjie geneem vir die verlies van 18 lopies, ook in drie beurte.

Sondag het Ridgeway teen die Toyota Vikinsg te staan gekom, nadat hierdie wedstryd vroeër in die liga uitgestel moes word. Alhoewel Ridgeway ‘n baie beter vertoning gelewer het as die vorige dag, moes hulle ongelukkig weer die knie buig.

Die Vikings het eerste gaan kolf en ‘n baie skaflike 160 vir die verlies van slegs drie paaltjies as teiken op die telbord geplaas. Dit was grootliks te danke aan openingskolwer Gysbert Guillaume se 81 lopies van slegs 55 balle af, wat ingesluit het 11 viere en twee sesse. Hy is goed ondersteun deur Morné Olwage op nommer twee met 29 lopies en Leon Furstenburg op nommer drie met 25 lopies. Met so min paaltjies is dit duidelik dat al Ridgeway se boulers redelik pakslae gekry het. Suffiyan Dala het egter uitgestaan. Hy het twee paaltjies geneem vir die verlies van 19 lopies in twee beurte. Spanmaat Craig Viljoen het die ander paaltjie laat kantel.

Ridgeway het in hulle kolfbeurt sekerlik vir ‘n paar benoude oomblikke gesorg. Met twee paaltjies plat vir ‘n bydrae van slegs 15 lopies sou die Vikings sekerlik gedink het die wedstryd is beklink. Craig Viljoen in op nommer drie het egter ‘n haastige 73 lopies van slegs 44 balle gemoker, wat vier viere en vyf sesse ingesluit het. Hussein Patel het aan die ander kant van die kolfkampie 20 lopies bygedra. Ongelukkig vir Ridgeway het hulle balle opgeraak met hul telling op 142 vir die verlies van vyf paaltjies, wat aan die Vikings ‘n 18-lopie oorwinning besorg het.

Die semi-finale wedstryd van die liga vind op Saterdag, 5 Junie, plaas met die Strikers en Vikings wat teen mekaar te staan kom. Die span wat hier wen sal dan Sondag, 6 Junie, in die finaal te staan kom teen die Drillers.

 

 
 
 

Viewed: 1253

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT