ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Unie skort alle klubrugby in provinsie op

Date: 24 June 2021 By: Andries van Zyl

Met die derde vlaag van die Covid-19 pandemie wat in intensiteit toeneem in Suid-Afrika het die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) Maandag besluit om alle klubrugby in Limpopo te staak tot verdere kennisgewing.

Vir plaaslike rugbyliefhebbers het die besluit as slegte nuus gekom, want tot en met die afgelope naweek het die Louis Trichardt Rugbyklub goed gevaar in die provinsiale liga, veral die eerstespan.

“Ek het so ‘n bietjie slegte nuus. Ná beraadslaging met die adjunk-president is daar vanmôre besluit dat ons voorlopig alle klubrugby in Limpopo gaan opskort,” het Attie Buitendag, voorsitter van die BBRU in Polokwane, Maandag in ‘n stemboodskap aan provinsiale klubs gesê.

As rede vir hul besluit, het Buitendag gesê, is die huidige omstandighede wat betref die derde vlaag van infeksies welbekend aan almal. “Ons kan nie toelaat dat die risiko’s wat gepaard gaan met die Covid-19 pandemie ook oorspoel na ons klubs toe en na ons families toe nie, so ons het geen ander keuse as om dit effektief te bestuur nie. Daarom is daar besluit dat alle klubrugby en oefeninge toe verdere kennisgewing in Limpopo opgeskort word. Ons sal die omstandighede monitor en kyk wanneer ons weer ‘n Return to Practice en Return to Play beleid kan instel,” het Buitendag gesê.

Die voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, Kevin Gilbert, het Dinsdag gesê dat hulle baie teleurgesteld is dat die liga opgeskort is – vir ‘n tweede keer. “Dit het ons maande gevat om ons spelers weer op standaard te kry, nadat ons verlede jaar ‘n hele seisoen verloor het as gevolg van Covid. Nou is spel weer opgeskort. Maar ons verstaan dat dit in belang is van die spelers se gesondheid,” het Gilbert gesê.

Volgens Gilbert het die dorp se eerstespan sover vanjaar skitterend gevaar in die provinsiale liga. “Hulle het hierdie seisoen nog nie een wedstryd verloor nie en ons beklee tans ‘n eerste plek op die provinsiale punteleer. So, dit het goed gelyk vir ons eerstes en ons het uitgesien na ‘n opwindende seisoen. Ons het selfs daarvoor gemik om die liga te wen. Ons was die afgelope vyf tot agt jaar in talle finale, maar het jare laas die liga gewen,” het Gilbert gesê. Hy het bygevoeg dat die klub se tweede- en derdespanne ongelukkig nie so ‘n suksesvolle seisoen agter die rug het nie. Al twee spanne lê vierde op die punteleer in hulle onderskeie ligas.

“So, vir nou sal ons maar moet sien wanneer ons weer kan begin. Dan sal ons weer van voor af moet begin om die spelers se standaard en fiksheid op te bou,” het Gilbert gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1288

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT