ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dr Casper Venter spring eersdaags weg vir deelname aan sy tweede Freedom Challenge bergfietswedren oor ‘n afstand van 2 150 km. Vanjaar gaan hy poog om die uitdaging in 15 dae te voltooi. Tydens sy eerste deelname aan die uitdaging in 2012 het hy die wedren voltooi in 19 dae en agt ure. Meegaande foto van hom is tydens die 2012 uitdaging geneem. Foto: Andrew King.

Casper wil moordende Freedom Challenge in 15 dae 'kaftrap'

Date: 26 June 2021 By: Andries van Zyl

Hardebaard bergfietsryer Dr Casper Venter van Louis Trichardt staan weereens slaggereed vir deelname aan een van Suid-Afrika - indien nie die hele suidelike Afrika nie - se taaiste bergfietswedrenne, die moordende Freedom Challenge Race Across South Africa oor ‘n afstand van 2 150 km.

Die eerste groep bergfietsryers het reeds Maandag, 21 Junie, in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal weggespring, met die wedren wat 26 dae later by Wellington in die Wes-Kaap eindig. “Hulle spring in groepe (batches) weg, met die stadiger ouens wat eerste wegspring en die vinnige ouens laaste. Elke dag spring daar ‘n groep weg,” het Casper gesê. Hy is in die groep wat op 1 Julie wegspring.

Die 54-jarige Casper gaan vir die tweede keer aan hierdie uitdaging deelneem. Die vorige keer was in 2012, toe hy die uitdaging in 19 dae en agt ure voltooi het. Vanjaar, het Casper gesê, wil hy probeer om die uitdaging in 15 dae te voltooi. Die rekord vir die uitdaging is nege dae en 22 uur. “Die ‘Holy Grail’ is om dit onder 10 dae te doen, en dit is verlede jaar die eerste keer reggekry in die 20-jarige bestaan van die wedren,” het Casper gesê. Sommige mense meen egter dié “rekord” kan nie aanvaar word nie, omdat die wedren verlede jaar in Oktober en nie in Junie gery is nie weens die Covid-19 pandemie. “So, daar is bietjie kontroversie daarom, want die dae is langer en jy kon langer in die donker ry,” het Casper gesê. Die warmer weersomstandighede het dit ook meer gunstig vir die ryers gemaak.

Tog het dit ‘n uitsonderlike poging gevat van die wenners om dit onder 10 ure te doen. “Om dit te kan doen, moet jy gemiddeld 200 km per dag ry en dit is nie mooi paaie nie,” het Casper gesê.  In totaal sal deelnemers 33 000 m (ja, 33 km!) tydens die uitdaging klim. Casper self sal gemiddeld 143 km per dag moet ry om die wedren in 15 dae te voltooi.

Wat die wedren uniek maak, is die navigasie. Geen elektroniese apparate soos GPS’e word toegelaat nie en deelnemers gebruik ‘n kaart om hulle van een kontrolepunte na ‘n volgende te neem. Al wat toegelaat word, is ‘n instrument wat afstand kan meet. Deelnemers kan darem so elke 100 km by ‘n ondersteuningstasie aandoen waar hulle iets kan eet, drink, rus of dalk ‘n bietjie slaap. Vir slaap is daar egter nie altyd tyd nie. Sommige ryers ry by twee of drie van hierdie stasies verby voordat hulle ‘n blaaskans vat “Die ernstige ouens ry gewoonlik so 20 ure en slaap vier elke dag. Ek gaan probeer om so 18 ure te ry, twee ure uit die saal te spandeer en so vier ure te slaap,” het Casper gesê.  

Casper sê egter dat jou beplanning en vordering alles van die weer afhang. “As die weer sleg is, belemmer dit jou erg. Mens weet nooit hoe dit gaan nie, want daar is te veel faktore wat buite jou beheer is. So jy moet net gesond bly, jou fiets reg hou en die weer moet saamspeel, dan sal jy goed ry,” het Casper gesê. Wat “hulp” langs die pad betref, is jou ook op jouself aangewese, so ryers moet voorbereid wees vir pap wiele en ander meganiese probleme. Alles wat jy nodig het, moet jy saamry. Dit sluit in ekstra warm klere (baie), baadjies, droë skoene ensovoorts.

Om gereed te maak vir die wedren het Casper reeds in Oktober verlede jaar begin oefen. Vir hierdie jaar het hy reeds 4 500 km getrap, wat uitwerk op ‘n gemiddeld van tussen 200 km en 300 km en 10 tot 15 ure in die saal per week. “Ek oefen maar in die aand en partykeer in die oggend. Mens pas dit maar so tussen die werk in,” het Casper gesê.

Meeste mense sal egter vir hulself die vraag afvra hoekom enige mens met gesonde verstand sy liggaam deur so ‘n trauma wil sit. Geen pryse of prysgeld is ook op die spel nie. Al “prys” wat jy ontvang by die eindpunt is ‘n Basotho-kombers. “Hulle praat van ‘The Clan of Blanket Wearers’… Die ou wat eerste kom, kry dieselfde as die ou wat laaste kom. Van die ouens praat ook van die ‘Coveted Blanket’,” sê Casper. Wat sy deelname aan die wedren betref, gaan alles vir hom bloot oor die uitdaging daarvan.

Persone wat meer oor die Freedom Challenge wil uitvind, kan hulle webtuiste besoek by https://www.freedomchallenge.org.za/.  Casper se daaglikse vordering kan ook vanaf 1 Julie “lewendig” gevolg word op die “Live Tracking” skakel wat op genoemde webtuiste beskikbaar is.

 

 
 
 

Viewed: 2154

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT