ADVERTISEMENT:

 

 
 

Koben Hofmeyr van Louis Trichardt kan nie wag vir 31 Julie nie, want dit is die dag wat hy gaan optree as gelukbringer vir die Springbokke in hulle toetswedstryd teen die Britse en Ierse Leeus. Om meer uit te vind wat Koben se taak as gelukbringer vir die Springbokke gaan behels, besoek gerus sy mees onlangse vlag by: https://www.youtube.com/watch?v=dcoFjUMS2Uc

Koben gekies as een van Bokke se gelukbringers

Date: 29 July 2021 By: 

Deur Karla van Zyl

‘n Unieke eer en een-maal-in-‘n-leeftyd geleentheid het die 18-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt onlangs te beurt geval toe hy gekies is as een van die Springbokke se gelukbringers om die span te verteenwoordig tydens een van hulle toetswedstryde teen die Britse en Ierse Leeus.

Plaaslik het Koben geen bekendstelling nodig nie. Sy merkwaardige verhaal van herstel sedert 19 Mei 2018 dien as inspirasie vir baie. Op daardie noodlottige dag het hy sy nek gebreek tydens ‘n skole-rugbywedstryd, wat hom van sy skouers af ondertoe verlam gelaat het. Tog hou Koben vas aan sy droom om eendag weer te kan loop, ‘n droom waaraan hy hard werk om te bewaarheid.

Vir Koben was 30 Junie ‘n dag soos enige dag - totdat hy ‘n oproep ontvang het van Gail Baerecke van The Players’ Fund, ‘n organisasie wat hulle beywer daarvoor om bystand te verleen aan rugbyspelers wat hulself ernstig in dié sport beseer het.

Gail wou by Koben weet of hy sou belangstel om as een van vyf gelukbringers vir die Springbokke op te tree, meer spesifiek vir die toetswedstryd op 31 Julie vanjaar. Hy is as een van die gelukbringers gekies ween sy betrokkenheid by The Players’ Fund.

Koben was totaal stomgeslaan, maar sy antwoord was ‘n besliste “ja” gewees.

Ongelukkig beteken dit nie dat Koben fisies saam met die Bokke op toer sal gaan of langs die veld sal wees tydens hulle wedstryd nie. Sy teenwoordigheid sal ‘n virtuele teenwoordigheid wees waartydens hy via Zoom met die spelers langs en op die veld kan gesels. ‘n Tipe van ‘n virtuele kantlyn aansig. Dit sluit in ‘n virtuele ontmoeting met Springbokkaptein Siya Kolisi. In kort sal van Koben verwag word om net homself te wees saam met die Springbokke en om sy tyd saam met die Bokke te geniet.

Vir Koben is sy verkiesing as gelukbringer vir die Springbokke ‘n ongelooflike voorreg. Hy het gesê hy sal dit sy hele lewe lank onthou en vergelyk dit met die eerste keer toe hy op Loftus was. “Dit gaan nou wel virtueel wees, maar die spanning van die toer en die intensiteit van die toer wat slegs elke 12 jaar gebeur, sal hierdie een na die volgende vlak toe vat. Dis nie net ‘n gewone toets nie, dit is die Britse Leeus en die Springbokke. Dit is so cool en ek is so dankbaar daarvoor,” het Koben gesê.

Koben kan nie wag dat die dag aanbreek nie. “Ek kan nie met my woordeskat beskryf hoe dit voel om ‘n mascot vir die Bokke te wees nie … As ek dit laat insink, kry ek soms hoendervleis ... ek kry nou hoendervleis.”

Om meer uit te vind wat Koben se taak as gelukbringer vir die Springbokke gaan behels, besoek gerus sy mees onlangse vlag by: https://www.youtube.com/watch?v=dcoFjUMS2Uc.

 

 
 
 

Viewed: 1475

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT