ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hoërskool Louis Trichardt se Brendan Bruce palm ‘n algehele derde plek in die afdeling vir sub-junior hoërskool seuns in. Foto: Karla van Zyl.

Fietsryers trotseer bitter koue vir eerste punte in liga

Date: 19 August 2021 By: Andries van Zyl

Terwyl baie sportsoorte nog in die wegspringblokke vassit vanweë die Vlak 3 Covid-19 beperkings, het die provinsiale XCO-skoleliga darem Saterdag aan die gang gekom met die hou van die eerste van drie liga bepalings vir skole bergfietsryers in Limpopo.

Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag opgetree as gasheer van die eerste liga, die Tour de Lip. Die byeenkoms het nie so baie deelnemers soos in die verlede gelok nie, hoofsaaklik vanweë die Covid-19 pandemie, maar ook vanweë die uiters koue en nat weer die afgelope naweek. Heelwat van diegene wat Saterdag die modder, reën en bittere koue op die baan verduur het, het stilweg sekerlik hul besluit om deel te neem bevraagteken.

Vir diegene wat hul visiere geplaas het op deelname aan die nasionale kampioenskap later vanjaar, was daar geen ander keuse as om deel te neem nie. Dus het hierdie XCO-bergfietswedren van die provinsie se top jong fietsrytalent gelok.

As gasheerskool het Hoërskool Louis Trichardt heelwat inskrywings gehad. In die sub-junior afdeling vir hoërskoolseuns palm die skool se Brendan Bruce ‘n algehele derde plek in, met spanmaats Daniel en Matthew Lee wat onderskeidelik 5de en 6de eindig.

In die Youth-afdeling vir seuns spog Hoërskool Louis Trichardt ook met ‘n podiumplek met Jacques de Preez wat algeheel tweede eindig. Hy is goed ondersteun deur spanmaats Ian du Plessis, Rikus Smit, Werner van Ree en Werner de Villiers wat onderskeidelik 11de, 13de, 15de en 16de eindig. Slegs een van Hoërskool Louis Trichardt se ryers durf die junior-afdeling vir seuns aan met Douglas Piorek wat algeheel 8ste eindig in die kategorie.

Die Triegie-ryers slaag daarin om altesaam 43 punte vir die skool in te samel wat aan hulle ‘n derde plek op die provinsiale punteleer besorg na die eerste ronde. Hoërskool Ellisras neem ‘n vroeë voortou met 46 punte met Hoërskool Merensky in die tweede plek met 45 punte.

Laerskool Louis Trichardt het op hulle beurt ‘n algehele tweede plek op die provinsiale punteleer ingepalm in die afdeling vir laerskole met 78 punte. Pietersburg Oosskool lê na die eerste ronde bo-aan die punteleer met 99 punte, met Dynamico derde met 43 punte.

Laerskool Louis Trichardt spog tans met ‘n goeie groep talentvolle jong fietsryers waarmee daar beslis in die toekoms rekening gehou sal moet word. Onder hulle is die jong Aiden Bruce wat vir homself ‘n tweede plek los ry in die afdeling vir sub-Nipper seuns. Spanmaats Daniel George en Matteo Henn eindig onderskeidelik 6de en 14de. Christiaan Odendaal was eerste in die Nipper-afdeling. Die skool se enigste inskrywing in die sub-Nipper afdeling vir meisies was Zane Adlam wat 5de klaar maak.

Die jong Triegie-talent lewer veral ‘n goeie vertoning in die Sprogs-afdeling vir seuns met Nicolas Archer wat ‘n welverdiende 2de plek inpalm, gevolg deur spanmaat Gerhard Furstenburg in die 3de plek. Peroux de Preez ry oor die eindstreep in die 4de plek met Wian Joubert wat 8ste klaarmaak. Ook in dieselfde afdeling vir meisies sorg Triegies vir ‘n podiumplek met Cara Bruce wat algeheel tweede eindig.

Die volgende ligabepaling in die provinsiale liga is die Tour de Lake by Stanford Lake College op 4 September, gevolg deur die Tour de Maroele op Lephalale op 18 September.

 
 
 

Viewed: 1300

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT