ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Ridgeway kolwers struikel teen Strikers

Date: 23 September 2021 By: Andries van Zyl

‘n Paaltjie met die eerste bal van die wedstryd kon dalk vir die manne van Ridgeway College Saterdag hoop gegee het vir ‘n wen in hul 20-beurt kragmeting teen Strikers, maar dit was hulle nie beskore nie.

Slegs een wedstryd is die afgelope naweek gespeel in die Louis Trichardt Krieketklub se volgende ronde wedstryd van hul 20-beurt liga. Strikers en Ridgeway College het Saterdag mekaar die stryd aangesê by die Louis Trichardt Ovaal.

Ridgeway het met die eerste bal van die wedstryd bloed getrek toe hulle vir openingskolwer Dirk Pieter van den Berg vir ‘n nulletjie uitgevang het. Hulle opgewondenheid was egter van korte duur, met Strikers se mede-openingskolwer Etienne Hendriks wat ‘n blitsige 56 lopies van slegs 35 balle gemoker het. Dit het ingesluit sewe viere en twee sesse. Spanmaat Johan van Rooyen, in op nommer drie, het Hendriks goed ondersteun met 35 lopies vanaf 42 balle (drie viere en twee sesse). Ander kolwers wat dubbelsyfers kon aanteken, was Zeeshan met 16 lopies van 17 balle af, Christo Boshoff met 23 lopies van 14 balle af en JP van Niekerk met 11 lopies van vyf balle af. Strikers kon in hulle kolfbeurt daarin slaag om 165 lopies vir die verlies van ses paaltjies aan te teken.

Vir Ridgeway College het Craig Viljoen die beste met die bal gevaar en hy het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van 22 lopies in sy vier boulbeurte. Bielie van den Berg, Naweed Jolly en Suffiyan Dala het elk een paaltjie geneem.

Ridgeway het hul kolfbeurt goed begin, met Suffiyan Dala wat 23 lopies van 18 balle aangeteken het (wat ingesluit het twee viere en ‘n ses) en Craig Viljoen, wat ‘n vinnige 45 lopies van slegs 22 balle (wat ingesluit het agt viere en ‘n ses) aangeteken het. Ridgeway se laaste kolwer wat egter dubbelsyfers kon aanteken was Fahan Kato, in op nommer drie, met 12 lopies van 15 balle af. Daarna het Ridgeway se kolfbeurt ‘n redelike insinking beleef, met die laaste sewe paaltjies wat geval het vir slegs 17 lopies. Die span is almal uitgeboul vir 113 lopies in 17 beurte.

 Vir die Strikers het Christo Boshoff uitgestaan as bouler. Hy het vier paaltjies geneem vir die verlies van slegs ses lopies in twee beurte. Paulo Piorek, Riaan Gerber en Dirk Pieter van den Berg het op hulle beurt elk twee paaltjies ingeoes.

Wat eerskomende Vrydag, 24 September, se beplande Ses-aan-‘n-Kant-wedstryde betref, het die klub se bestuur egter laat weet dat die dag uitgestel is omdat slegs drie spanne ingeskryf het.

 

 
 
 

Viewed: 1748

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT