ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

NTT Vikings deur na finaal teen Limpopo

Date: 04 November 2021 By: Andries van Zyl

Ten spyte van ‘n mooi-gespeelde 99 lopies nie uit nie, een lopie kort van sy honderdtal, was JP Coetzee se bydrae met die kolf nie genoeg om aan sy span, die Strikers, ‘n plek in die finaal van die Louis Trichardt Krieketklub se T20-liga te verseker nie.

Die semifinale wedstryd in die liga is Saterdag, 30 Oktober, by die Louis Trichardt Ovaal beslis tussen die Strikers en die manne van NTT Toyota Vikings.

Strikers het ingegaan om eerste te kolf, met goeie bydraes van openingskolwers Johan van Rooyen (34 van 29 balle) en JP Coetzee (99 van 74 balle af, wat ingesluit het ses viere en vyf sesse). Ná Van Rooyen se vertrek was lopies egter maar skaars, met slegs 11 lopies wat by die eindtelling gevoeg kon word. Ná 20 beurte het die telling op 157 vir die verlies van vier paaltjies gestaan. Vir die NTT Vikings het Leon Furstenburg die meeste sukses met die bal gehad. Hy het twee paaltjies platgetrek vir die verlies van 30 lopies in sy vier beurte. Craig Viljoen het een paaltjie ingeoes.

NTT Vikings se kolwers het hulle nie laat intimideer deur JP Coetzee se amperse honderdtal nie. Inteendeel, openingskolwer Gysbert Guillaume het ‘n honderdtal van sy eie gejaag en uiteindelik met syfers van 85 lopies nie uit nie van 56 balle af geëindig. Dit het ingesluit nege viere en vyf sesse. Craig Viljoen en Morné Olwage, in op onderskeidelik nommer twee en drie, het op hulle beurt ook dubbelsyfers bygedra, beide met 18 lopies. Alhoewel nie een van die span se ander kolwers dubbelsyfers kon aanteken nie, was die fondasie vir ‘n oorwinning reeds gelê, met die NTT Vikings wat die telling verbygesteek het in 19.1 beurte en geëindig het op ‘n eindtelling van 158 lopies vir die verlies van vyf paaltjies. Strikers se ster-bouler was Zeeshan Yelukar, wat syfers van drie paaltjies vir die verlies van 31 lopies in drie beurte behaal het. Riaan Gerber het een paaltjie vir sy span geneem.

Saterdag, 6 November, se finaal sal tussen die NTT Vikings en Limpopo Melkery beslis word. Die wedstryd sal by die Louis Trichardt Ovaal beslis word en begin om 14:00. Toeskouers is welkom.

 

 
 
 

Viewed: 1959

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT