ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nie net ‘n sport vir die manne nie! Algeheel in die vroue-afdeling stap Zuleika de Klerk weg met ‘n eerste plek. Hier is sy afgeneem tydens die Yoke Walk vir vroue.

Spiere bult in eerste vir Limpopo

Date: 01 July 2022 By: Andries van Zyl

‘n Totaal van 20 sterkmanne en -vroue het Saterdag die koue en nat weer getrotseer vir deelname aan Limpopo se eerste sterkmankompetisie onder die vaandel van die Southern African Strongman Federation (SASF), aangebied deur Paul’s Body Shop van Lugmagbasis Makhado by Action Ford in Louis Trichardt.

In beheer van die reëlings was plaaslike kragman Leon le Roux. Hy spog reeds met verskeie Top 3 en Top 10 plekke in beide nasionale en internasionale sterkmankompetisies. Saterdag, 25 Junie, se kompetisie het atlete van Louis Trichardt, Polokwane, Tzaneen, Phalaborwa en selfs Coligny gelok.

“Al was dit nat en koud het almal uitgesien na die kompetisie. Alle items het goed afgeloop. Ons het begin met die Car Deadlift; toe was dit Yoke Walk, daarna Loading Race en laastens ‘n trok trek. As gevolg van die reën kon ons nie die brandweer trok onder die afdak inkry nie. Ná die vrouens die drie-ton trokkie getrek het, het ons maar toeskouers agter opgelaai vir die mans,” het Le Roux gesê.

Ná die laaste item van die dag het groot opwinding geheers toe twee atlete in die o.105 kg-afdeling op 18 punte gestaan het. ‘n Uitklopronde is gehou met ‘n Duck Walk. Die twee atlete het een minuut gekry om te kyk wie loop die verste. Die wenner het toe met twee meter gewen met ‘n afstand van 86m met ‘n gewig van 100kg. 

“Al die atlete was baie beïndruk met die reëlings en bestuur van die dag en sê hulle kon nie wag vir die volgende een nie. Van hulle was al deel van ander byeenkomste en sê dis sover nog die beste gereëlde byeenkoms waar hulle was. My span was puik gewees met hulle bystand en hulp en die basis se ondersteuning word opreg waardeer,” het Le Roux gesê.

Die volgende kompetisie word eers vir volgende jaar beplan. “Maar vir nou begin ek voorberei vir SA's wat 6 en 7 Augustus by Emerald Casino plaasvind,” het Le Roux gesê.

Le Roux het sy dank uitgespreek teenoor al die borge wat die dag moontlik gemaak het. Dit het ingesluit Rainbow MIDAS as hoofborg en Talisman Hire. Persone en instansies wat bydraes en troospryse gelewer het, het ingesluit Jai Jai Jai, CJay’s Salon, Mount Fuji, LT Koelkamers, Lalapanzi, Paul's Body Shop en Stanley Pengso. “My vrou kort ‘n groot dankie wat self ook deel geneem het en meeste van die borge gereël het. Sy het slegs deelgeneem om my te ondersteun. Baie dankie, Marihan, vir jou ondersteuning en bystand,” het Le Roux gesê.

Wat die dag se uitslae betref het Louis Trichardt se eie Heine de Jager (junior) die o.105 kg afdeling gewen- met Piet Marakala in die tweede plek en Wihan Pieterse derde. In die 105 kg en meer afdeling was Dewald van Heerden eerste, met Otto Muller tweede en Cobus Louw derde. Algeheel in die vroue afdeling het Zuleika de Klerk weggestap met ‘n eerste plek, met Ilene Rivabella-Kruger tweede en Marihan le Roux derde.

Wat die jonger manne betref was dit Henry Fletcher wat eerste plek ingeneem het in die o.18 afdeling, met William Young in die tweede plek en Madimetja Mphela derde.

 

 
 
 

Viewed: 1470

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT